My oupa sou vandag 99 jaar oud geword het.
By sy meenthuis in Huis Eikelaan, sou ek saam met my niggies en tannies tee geskink en geselsies gemaak het met al Oupa se hordes vriende en familie wat kom saam vier het aan sy verjaardag.
Maar, Oupa is al drie jaar nie hier – of daar, by Huis Eikelaan – om sy verjaardag met ’n gesellige teedrinkery en trieng-trieng heeldag-foonoproepe te vier nie.
Oudergewoonte wou ek al met opstaantyd bel.
6 April is Jan van Riebeeck se dag. Maar, 7 April is Oupa se dag. 7 April was die dag waarop ons ná die Kerstyd en eerste kwartaal se nuus en Paastyd se oproepe, spesiaal vir Oupa kon bel. Ons het uitgesien na daardie bel, want Oupa was elke keer só bly om van ons te hoor. En, ons was só bly om Oupa se stem te hoor. En, ons was só bly om te hoor dat Oupa blý is om van ons te hoor.
Op belangrike dae het Oupa altyd eerste gebel. Altyd.
Op my en my man se verjaardae, was die oproep tussen vyf en ses soggens gewaarborg.
Met ons kinders, Oupa se agterkleinkinders, het die verjaardagoproepe effens later soggens – dus so kort ná ses – gebeur. Oupagrootjie wou seker wees hulle is al wakker.
Met die eerste aankondiging dat hulle op pad is, het Oupa hulle verklaar tot “Wat ’n klein Genade!” En, van dié Genadetjies het Oupa behoorlik boekgehou.
Al kon hulle babatyd nog nie self die verjaardagoproep antwoord nie, was dit vir Oupagrootjie belangrik dat hulle weet hy bel. Want hy onthou, al is hy 1 300 km en nege dekades verder.
Oupagrootjie was met die groot eerste verjaardag, die heeleerste een om te bel. En al die verjaardae daarna.
My kinders onthou dit steeds. En, dit is vir my opvallend hoe hulle met elke verjaardag sedert sy dood, Oupagrootjie se oproep mis. En, hoe hulle hom vandag ook onthou.
My oupa was glo in sy jonger dae ’n regte korrelkop. Hy het sy drie seuns en een dogter glo hárd en sonder nonsens groot gemaak. En ek gló hulle – ek sien dit mos in die gene.
My vroegste herinneringe van Oupa was my ma en nuwe pa se troue.
Oupa wat my optel en in die lug swaai.
Daarna ’n aarbeituin geplant in motorbande op ’n erf neffens die spruit oorkant die hedendaagse Bult in Potchefstroom. En ’n geel Volksiekewer. En ’n ouma wat ruik na Royal Secret; ’n ouma met ’n breimasjien wat vir ons truie gebrei het teen die Wes-Transvaalse winterryp.
Met Ouma se begrafnis het ek ’n donkerblou fluweelrokkie en wit sokkies en wit Babydoll-skoene gedra en ek het Oupa se hand die hééltyd styf vasgehou. In die skemer kerk was ek só bang om Oupa se hand te laat los. Ek was só bang hierdie Oupa raak ook weg. Ek het stýf vasgehou.
Oupa het daarna soggens dou-voor-dag gaan stap. Van die een kant van die dorp na die ander. Dit was ’n groot dorp. Maar, tot Mamma se frustrasie, was Oupa altyd by ons deurklokkie nog voor sy die huis behoorlik kon netjies maak.
Oupa het ingeklok wanneer hy daar kom, en basta met die onopgemaakte beddens.
Oupa is weer getroud met ’n ouma wat aan my en my boetie hope liefde bewys het. By hulle pienk woonstel aan die ander kant van die dorp, het ons veral naweke dikwels gaan kuier.
Die dag na my 12de verjaardag, is my tweede ouma oorlede.
Die middag voor my partytjie, kort na Ouma se begrafnis, het ek in ’n bakleiery my boetie bloedneus geslaan in die kar terwyl my ma gou gaan partytjiekoeldrank koop het. Ek het nie tóé geweet wat de joos my besiel het nie. Nou verstaan ek so ’n bietjie. Ek hoop hy ook.
Ons het kort daarna Kaap toe getrek.
Oupa is daarna met ons derde ouma getroud.
Ons eerste ouma se naam was Annamarie. Die tweede was Marie. Hierdie derde ouma was Anna.
Ek onthou ’n dag toe ek so drie maande voor my troue, die voorreg gehad het om Oupa en ouma Anna op ’n draairoomys- en besigtigingsuitstappie deur die Skiereiland Bloubergstrand toe kon vat. Ons het só gesels. Ons het gelág. Hulle het opgemerk hulle dink ek is nou groot om hulle so rond te ry.
Ouma Anna was toe al siek. Die aaklige “Tuesdays with Morrie”-siekte. ALS. Joost se siekte.
Ek en my man het kort voor Ouma se dood gaan kuier. Oupa het toe sy dae by haar in die siekeboeg deurgebring.
’n Jaar na ouma Anna se afsterwe, kon Oupa nie onthou dat ons daar was nie. Hy was só verswelg deur sy verlies.
’n Paar jaar later het ons met ’n amper sesmaande oue eerstelingbaba opgery Noord-Wes toe om Oupa se 90ste verjaardag te vier.
Oupa se vriendin, tannie Marie (hoe dan anders met die naam), was sprankelend aan sy sy.
Maar, Oupa het met ’n skewe glimlag gesê hy trou nie weer nie. Sy vorige vrou “het té lank gevat om dood te gaan”.
Enigiemand wat iemand aan ALS moes afstaan, sal wél verstaan wat hy bedoel het.
Twee jaar later was ons weer daar met ons tweejarige en sy sesmaande-oue sussie.
Ek was elke keer verstom (maar tog nie verbaas nie) oor die opkoms van vriende en familie wat in Oupa se huis in Huis Eikelaan kom verjaardag vier het.
Oupa was só bly om ons te sien.
Ons almal.
En toe, kort na ek by Oupa na sy 95ste verjaardag gaan kuier het, het Oupa in die siekeboeg van die tehuis beland. Ek en my man het Oupa daar besoek en die teenstelling van ’n eie meenthuis en bure se tuine onderhou op 95 jaar en toe, ’n halwe jaar later, in ’n siekeboegsaal se enkelbed, het my meer as ’n knop in die keel gegee.
Skielik kon ek nie meer 018… bel en Oupa se stem hoor nie. ’n Bekende skakelkode en onbekende nommer het my by ’n vreemde, professionele stem gebring wat bloot belowe het dat sy my boodskappe sou oordra aan Oupa daar in die siekeboegsaal.
Die nuus dat Oupa hospitaal toe is – hierdie oupa wat dekades vroeër reeds gewys het dat ’n hartaanval of drie hom nie sal ore aansit nie – het onverwags gekom.
My tannie se oproep een oggend op pad skool toe, en ek wat my pa moet bel met die nuus, was heeltemal té vroeg.
Oupa het dan knipoog vertel hoe hy 100 gaan haal …!
Soos my jongste niggie gesê het: “Dié verwagte het onverwags só seer kom tref.”
Ons was almal daar langs die graf. Ek het gedink dat dit selfs nie eers oor Oupa se beloofde vier jaar ’n lekker plek sou wees om bymekaar te kom nie.
Want, hierdie oupa het my geken toe ek skaars mens was. En, hierdie oupa het my aanvaar nes ek is. Hy het my gesien méér mens word. En, hierdie oupa het deur my kleuterjare, skooljare, universiteitsjare en vroeë grootmensjare, met elke oproep vanuit die binneland, bevestig dat ek sy kleinkind is.
Hy het nie een verjaardag van my en myne oorgeslaan nie. Hy het elk van my en sy agterkleinkinders se fotobriefstories entoesiasties met ’n foonoproep beantwoord.
Ek is só dankbaar my kinders kon ’n stukkie van hierdie oupagrootjie se menswees ervaar.
Ek wens só ons kon nog briewe binneland toe pos en 018… bel.
Ek wou só graag vandag nog vir hom tee skink in Huis Eikelaan.
* Isaac Thomas Blake Larney, 7 April 1917 – 5 Junie 2013