Baie grootouers sê as hulle geweet het hoe wonderlik kleinkinders is, het hulle hulle gewis voor hul kinders gekry. Maar dis belangrik dat grootouers die ouers se rol met groot sensitiwiteit moet ondersteun en eerbiedig. Hulle is nie meer in ’n outoriteitsposisie soos met die grootmaak van hul eie kinders nie.
Kleinkinders is vir grootouers ’n gawe. Maar so ook is grootouers vir kleinkinders ’n genade. Oupas en oumas maak die wêreld net so ’n bietjie sagter, so ’n bietjie warmer. En kleinkinders doen dit ook: hulle aanvaar ouma soos selfs haar ouers, man, of hul kinders haar nie aanvaar het nie. En niks maak ’n kind slimmer, ouliker en meer spesiaal as om ’n liefdevolle ouma se kleinkind te wees nie. Niemand kan vir kinders gee wat oupas en ouma kan nie – soveel liefde, tyd, aandag, bewondering en alles sonder kritiek of haas.
Maar ouers bly verantwoordelik vir hul kinders se opvoeding, ontwikkeling en geluk. Hulle neem die besluite en bepaal die opvoedingsreëls. Oupas en oumas se bydrae tot ’n kleinkind se lewe kan en moenie onderskat word nie, want hulle kan gee wat die ouers nie altyd kan nie, maar hulle mag nooit die ouers se opvoeding ondermyn, diskrediteer of probeer oorneem nie. Hul bydrae is soos ’n vitamienaanvulling by die gesonde dieet wat die kind by sy ouers kry – waardevol, maar dit mag nie die ouers se rol vervang nie.
Miranda* vertel dat sy haar dogtertjie op ’n dag ’n rukkie by haar ma gelos het met die versoek om nie vir haar lekkergoed of te veel eetgoed te gee nie, want hulle gaan die aand by vriende eet en sy wil graag hê sy moet dan haar kos eet. Toe sy haar ’n uur of wat later gaan oplaai, sit sy geparkeer voor ’n groot bak roomys, ryklik met haar gunsteling- sjokoladetoffieballetjies afgerond. Toe sy haar ma vies daarna vra, was haar ma se verontwaardigde reaksie dat oumas kleinkinders maar mag bederf. Dis waarvoor oumas daar is.
Grootouers moet besef hulle het hul kans gehad om kinders groot te maak. Elke grootouer, kind, kleinkind, elke situasie is op sy manier uniek en vra ’n unieke hantering wat by die situasie en mense pas. Dit hang af van die ondersteuning en rol wat die grootouers speel, en of daar dalk ’n enkelouer-gesin ter sprake is. Daarom is dit belangrik dat grootouers en hul kinders oop en eerlik moet kommunikeer en ’n interaksie uitwerk wat vir almal werk. Hier is ’n paar algemene riglyne.
Moets
- Aanvaar jou skoonkinders van die begin af met liefde, nog voor daar kleinkinders is. Gee hulle die ruimte om as jong volwassenes hul eie lewe te leef, volgens hul behoeftes, persoonlikhede en waardes. Hulle gaan jou kleinkinders se primêre versorgers wees.
- Laat jou kinders toe om hul eie besluite oor die kleingoed te neem: Hulle moet hul name kies (jy het jou kans gehad), en besluite neem oor kwessies soos dagsorg, skole, aktiwiteite, kamers, roetine, eetpatrone en dissipline.
- Wees regverdig en aanvaar elke kleinkind met sy eie unieke persoonlikheid en naam, al is dit nie die familienaam nie. Almal moet weet hulle is ewe mooi, slim en spesiaal. Hulle mag nie voel sekere nefies of niggies is meer spesiaal en daar word vir hulle meer moeite gedoen nie.
- Laat elke kleinkind by jou welkom en tuis voel – in jou huis kan hulle net hulself wees.
- Maak tyd vir opwindende dinge saam. Speel saam sokker – oupa, ouma, die tuinman en huishulp sommer almal – speel saam in die modder, laat hulle wonderwêrelde ontdek.
- Doen die dinge met die kleintjies waarin jy goed is – soos sing, teken of tuinmaak. Los dit wat jy verpes – soos kos maak of swem.
- Maak elkeen se spesiale lekkerny – of koop dit!
- Gebruik jou beskikbare tyd en geld om die kind soveel blootstelling aan die lewe en verskillende ervarings moontlik te gee sodat hy/sy in die toekoms ’n ingeligte besluit oor ’n verskeidenheid aspekte kan neem.
- Waardeer en prys ma voor die kinders en andersom – dan voel almal wonderlik. Waardering verrig wondere!
- Doen moeite om werklik met elke kleinkind ’n verhouding te hê.
- Onthou dat hulle nie jou kinders is nie; min dinge is vir oupas en oumas swaarder as om te sien hoe hul kleinkinders gedissiplineer word – veral as hulle nie daarmee saamstem nie.
Grootouers het soveel om te gee, wat ouers nie altyd het nie: tyd, geduld en ervaring. Ouers behoort dit uit te benut. En oupas en oumas doen goed stadig. En stadig is beter vir kleingoed. Oupas en oumas weet hoe om goed met hul hande te doen, dinge reg te maak. Hulle het allerhande ander goed in hul kaste wat vir kinders wonderlik, vreemd en opwindend is. Daar is selfs van hulle wat hul tande kan uithaal en met hul lag in hul hande staan. Hulle gee soms minder om oor mors en laat goed toe wat ma nie doen nie (soos om met die tuinslang te speel en sopnat te word).
Moenies
- Moenie druk op jou kinders plaas om kinders te kry omdat jy graag ’n ouma/oupa wil word nie.
- Moenie vir jou kinders voorskryf wat om te doen nie. Jong ouers leef in ’n ander era as hul ouers en het hul eie waardes, prioriteite en behoeftes. En boonop is hulle baie goed ingelig. Hulle sal vra as hulle dink oupa en ouma kan help of raadgee. En onthou, ongevraagde raad word as kritiek geïnterpreteer, al is dit hoe goed bedoel.
- Moenie ’n oorlas van jou maak nie, al brand jy hoe om soveel tyd moontlik by jou wonderlike kleinkind deur te bring. Respekteer hul roetine, wense en privaatheid.
- Moenie een kleinkind voortrek nie. Maak seker almal kry ewe veel liefde en aandag.
- Moenie kleinkinders vergelyk nie. Aanvaar elkeen met sy eie unieke persoonlikheid. Elkeen moet weet jy dink sy is mooi, slim, sterk en spesiaal.
- Moenie kompetisie tussen hulle aanmoedig wat jaloesie kan kweek nie.
- Moenie die opvoeding van die ouers ondermyn nie, hou by hul reëls, roetine en wense.
- Moenie die ouers se opvoeding kritiseer of hulle verkleineer nie – veral nie voor die kind nie, dan staan almal se hare regop en die kind raak onseker. Praat, kla of raas liewer later in privaatheid oor die telefoon.
- Moenie met die ouers kompeteer om aandag en liefde nie.
- Moenie probeer om die rol van opvoeder en onderwyser te speel nie.
- Moenie slakke, miere, termiete en ongediertes doodmaak in die teenwoordigheid van kleinkinders nie. Hulle beskou álles as troeteldiere!
Al weet oumas hulle moenie vir ma voorsê nie, doen hulle dit in elk geval partykeer. Ma’s moet dikwels maar sluk en probeer om hulle nie te wip soos in hul tienerdae nie. Ouma het tog net die beste bedoelings, probeer daarom verstaan. Luister, leer – hulle het baie wysheid – en doen dan daarvan wat jy kan doen, maar op jou manier, volgens jou waardes en behoeftes. Gee oumas en oupas erkenning vir hul wysheid en omgee, min dinge dra in enige verhouding soveel liefdesvrugte as erkenning.
Kleinkinders maak grootouers jonk, gee hul dae en jare weer sin. Hulle kry weer klein lyfies om vas te hou, lyfies wat so lekker druk en so maklik liefde gee. Kleinkinders gee grootouers weer die kans om laf en selfs ’n bietjie belaglik te lyk, die kind in hulself te herontdek en die lewe deur die oë van ’n kind te bekyk en te beleef. Dit gee hulle iets om te doen, om oor te bekommer en oor bly te wees.
Trotse Oupa André* vertel: “Ek kyk deur my kleinkinders se oë – lag vir narre, verwonder my aan olifante. So was ek die afgelope ses jaar seker al tien keer by die dieretuin en sirkus. By elke kinderteater sit ons in die voorste ry en dan kyk ons nie na die opvoering nie, maar na die gesiggies. By elke liewe kleuterskoolkonsert is ons daar en dan sien ons natuurlik net een ou gesiggie en neem foto’s vir ’n vale, waarna ons oor en oor kyk. Ons tel die slapies voor hulle kom kuier. Ons lewe word rondom hulle beplan.”
Kleinkinders is ’n geskenk aan oupas en oumas om die foute wat hulle met hul kinders gemaak het, reg te stel. Kleinkinders bied grootouers die geleentheid om hul verhouding met hul kinders te verdiep, ’n kans tot ’n nuwe interaksie; ’n tweede kans om met meer wysheid reg te maak wat hulle met die vorige rondte dalk verknoei het. En as hulle dit weer “verkeerd” aanpak, gee dit hul kind die ideale geleentheid om ’n bietjie onverwerkte ouer-kind bagasie op te ruim. Dis nie maklik nie, maar dit kan julle oor jul verhouding laat dink en dit herdefinieer en selfs vrede bring waar daar nog nooit was nie.
Hulle kan met die manier waarop hulle hul kleinkinders hanteer die foute wat hulle dalk met hul kinders gemaak het, versag en selfs uitvee. Dit kan ou koeie vir ewig begrawe, of ou vetes en verhoudingsprobleme tot in lengte van dae laat voortduur. Jou kinders ervaar die aanvaarding, sagtheid en liefde wat jy jou kleinkinders gee, byna asof jy dit vir hulle gee. As kinders nie altyd hul ouers as toeganklik of liefdevol beleef het nie, kan dit hulle nou daardie herstellende ervaring gee. En dis soveel makliker om vir ’n kleinkind liefde en aanvaarding te wys.
As jy ’n alleen-ma is, is oumas en oupas ontsettend belangrik. Hulle gee perspektief wat ma nie alleen kan bring nie; hulle gee ander vorme van sosialisering. Hulle leer kinders die vermoë om oor geslagte verbintenisse te skep en te handhaaf.
Kinders bied skoonkinders ook die geleentheid om werklik in skoonouers se harte in te kruip. Die mate waarin jy hulle kleinkinders liefhet, het jy ook ’n stukkie van hulle lief; troetel jy iets wat vir albei partye kosbaar is. Nog belangriker is die mate waarin jy jou skoonouers vertrou en die geleentheid gee om vir jou kinders lief te wees, te sorg en te bederf – dis soms gelyk aan jou bereidheid tot ’n verhouding met hulle, jou aanvaarding van hulle en hul kind, jou huweliksmaat.
Dis belangrik dat die ouers die primêre versorgers bly, die finale besluite neem en die uiteindelike verantwoordelikheid sal dra. Daar moenie by die kind enige twyfel wees oor by wie die outoriteit lê nie. Maar hoe meer mense by ’n kind se lewe betrokke is, hoe meer liefde, hoe meer vreugde, hoe meer veiligheid en hoe meer herken ’n kind homself in ander.
*Skuilname is gebruik