Raai jy jou kind dikwels aan om sekere keuses te maak omdat dit die “veiliger opsie” is? Soos om ’n werk met ’n bestendige salaris of goeie pensioenfonds te kies? Of dwing jy jou kind soos ’n utoritêre tier-ouer om iets te swot waarin hy nie belang stel nie omdat dit “iets is om op terug te val”? Dr. ST Potgieter, Kaapse opvoedkundige sielkundige en skrywer, sê: “’n Veilige ouer – in terme van beroepskeuse – is ’n ouer wat nie vir sy kind die vlerke wil gee om sy passie en drome te ontdek nie, maar hom die veiligheid van ’n voëlkou bied en dink hy doen sy kind ’n guns.”
Karen Hodges, heelbreinpraktisyn en kreatiwiteitspesialis van Durbanville, meen Suid-Afrikaners is geneig om kinders te leer om te bly waar dit veilig is. “Baba moet byvoorbeeld in die middel van die vertrek bly en nie gaan verken nie, want netnou is dit gevaarlik.” Ouers doen dieselfde as dit by beroepe en ander aspekte van hul kind se lewe kom. “Richard Branson, ’n biljoenêr en wêreldbekende entrepreneur, het ondanks ’n disleksieprobleem uitgestyg – en nie omdat hy ’n veilige beroepskeuse met ’n pensioen nagestreef het nie. Hy het uit sy motor se kattebak musiek begin verkoop en nou besit hy onder meer ’n lugredery. Dit is tog absurd om ’n werk te soek wat elke maand jou geld vat net om dit ná 45 jaar se swoeg en sweet teen ’n belaglike lae rentekoers stukkie vir stukkie vir jou terug te gee, ás jy dit oorleef,” sê Karen.
Dr Potgieter omskryf weer die outoritêre tier-ouer só: “’n Ouer wat groot verwagtinge aan sy/haar kinders stel binne ’n streng en soms onverbiddelike raamwerk van dissipline, struktuur en roetine.” As jy as ouer te outoritêr is, of altyd veilig speel, is jy volgens dr. Kobus Neethling, breinprofielkenner en president van Suid- Afrika se Kreatiwiteitsvereniging, besig om jou kind se kanse op die reis na sukses te verwoes. In sy ouerskapboek Very Smart Parents word ouers aangeraai om nie meer outoritêre leiers te wees nie, maar eerder mentors, fasiliteerders en afrigters.
Outoritêre ouerskapstyl het onlangs wêreldwyd ’n storm ontketen nadat Amy Chua se omstrede boek Battle Cry of the Tiger Mother verskyn het. Hierin spog Chua hoe sy haar twee dogters geterroriseer het om te verseker dat hulle suksesvol is. Chua het onder meer geen simbool onder ’n A geduld nie, haar dogters mag nooit by ander kinders gaan speel het nie, en moes daagliks tussen twee en drie uur aan ’n musiekinstrument oefen
Duidelik is té veilig of té rigied nie die antwoord nie. Ons het by ’n paar kundiges gaan aanklop om vas te stel watter gereedskap hulle meen jy as 21ste-eeuse ouer in jou reistassie moet pak.
Dr. Potgieter, wat ouers en kinders bystaan met beroepskeuses, stel voor elke ouer pak die volgende in sy reistassie:
- Moedig ’n droom en ’n visie in die hart en siel van jou kind aan. ’n Kind moenie net in die lewe ingestamp word sonder drome en ’n visie in sy hart nie. Dit is juis hierdie drome wat vir ’n kind sê daar is moontlikhede en geleenthede in die lewe.
- ’n Ondersteuningstelsel. Wanneer ’n kind weet sy ouers ondersteun hom, het hy dikwels meer waagmoed en durf om die uitdagings van die lewe aan te pak.
- Leer jou kind foute en mislukkings is aanvaarbaar. ’n Jongmens wat te bang is om ’n fout te maak hou sy talente en potensiaal terug uit vrees vir mislukking.
- Leer jou kind die woorde “Ja” en “Nee” en om dit te gebruik. Wys jou kind dat die twee woorde ’n groot verskil in jou lewe kan maak, en dat dit bepalend is van wat met jou gaan gebeur én waar jy jou gaan bevind.
- Bring die konsep “vrye keuse” by jou kind tuis. Elke kind moet weet hy het die reg op keuses en dat jy genoeg kennis en advies moet inwin voor jy kies.
- Leer jou kind hoe belangrik liefde en passie vir ’n bepaalde beroep is. “Ek kry daagliks met mense te doen wat sielsongelukkig in ’n beroep is. Gestel Picasso se ouers het hom gedwing om ’n motorwerktuigkundige te word. Kan jy jou die verlore talent voorstel?”
- Die Woord van God sodat jy dit aan jou kind kan oordra.
Lara Ragpot, opvoedkundige sielkundige en dosent in kinderontwikkeling aan die Universiteit van Johannesburg, gee die volgende raad oor die inhoud van ouers se reistassie:
- Onvoorwaardelike liefde.
- Sien elke kind as ’n individu. Kinders voel dikwels minderwaardig as hulle nie hul sibbe se suksesse kan herhaal nie.
- Lei deur jou voorbeeld. Kinders doen soos jy doen, nie soos jy sê nie.
- Maak seker jou verwagtinge van jou kind strook met sy/haar vermoëns.
- Stel ferm, maar redelike grense. Al rebelleer kinders dikwels teen reëls, gee grense vir hulle ’n gevoel van geborgenheid. Met jonger kinders kan jy die reëls opstel, maar met ouer kinders kan grense, soos inkomtye, onderhandel word.
- Prys jou kind vir sy pogings. Positiewe terugvoer lei dikwels daartoe dat ’n kind weer probeer, of in die toekoms nuwe uitdagings aanpak.
- Praat met jou kinders en moenie bang wees om te debatteer oor kwessies nie. Dit sal sy redeneringsvaardighede sowel as vaardighede oor hoe om probleme te benader, verbeter. As jy hom belet om hubbly te rook “omdat jy so sê” gaan hy dit waarskynlik probeer. Maar as jy oor die gevare debatteer en vir jou kind die statistieke wys van rook wat longkanker veroorsaak, gee jy vir hom skietgoed om te verduidelik hoekom hy nie hubbly wil rook nie.
- Praat met jou kinders oor gevoelens. Ouers is dikwels bang om emosies soos woede of hartseer vir kinders te wys. Maar dit leer kinders om emosies te identifiseer en om hul eie emosies uit te druk. Waak wel daarteen om jou kind as jou emosionele klankbord te gebruik. Daar is ’n sêding in die werksektor dat jou IK vir jou ’n werk sal kry, maar dat jou EI (emosionele intelligensie) vir jou bevordering sal beteken.
- Onthou dat jy jou kind nie in ’n vakuum grootmaak nie – sosiale interaksie is uiters belangrik. Vra jou af of jy jou kind grootmaak om sosiaal aanvaarbaar te wees. Baie ouers wil ouerskap op ’n moderne manier benader, wat beteken ’n kind se individualiteit is die belangrikste – maniere en verantwoordelikheid ingesluit. Dit kan beteken dat jy jou kind van maats en geleenthede vervreem.
Karen Hodges raai aan dat ouers die volgende in hul reistassie pak:
- Weet waar jou kind se denkvoorkeur lê, laat toets sy breinprofiel. Jy kan jou kind se spesifieke magic ontwikkel as jy verstaan hoe hy dink. Dit is veral die dromers, waaghalse, kansvatters en kinders wat alles bevraagteken wat swaarkry in die “stelsel” en wat gebrandmerk word. Maar dit is ook die kinders wat ’n verskil gaan maak omdat hulle anders dink.
- Moenie jou kind te “veilig” grootmaak nie. Skep eerder ’n veilige omgewing tuis waar hulle kan waag, misluk, waar jy hartseer of teleurstellings kan help verwerk, maar waar
- daar ook ondersteuning is sodat hulle weer sal probeer.
- Ouers, maak Beyonders groot! Dit is kinders wat bo almal uitstyg omdat hulle oor die volgende eienskappe beskik: visie oor wat hulle wil bereik, kreatiwiteit, waagmoed, passievol is oor wat hulle doen en uithouvermoë aan die dag lê. Kweek dié eienskappe by jou kind.
Anne Cawood, maatskaplike werker met ’n private beradingspraktyk en skrywer van verskeie ouerskapboeke, gee die volgende riglyne vir die 21ste-eeuse ouer:
- Verstaan jou kind se temperament en ontwikkelingstadium. Sommige kinders het ’n genetiese neiging om ’n sterk wil te hê. Té veel beheer sal daardie sterk wil net vererger. Kleuters wat besig is om selfstandigheid te ontwikkel het fermheid nodig, maar nie absolute opdragte nie. Laat jou kind toe om emosies of gevoelens te ervaar en leer hom hoe om sekere optrede te beperk. Dit beteken jou kind moet verstaan dis normaal om woede te ervaar, maar nie om iemand te slaan terwyl hy kwaad is nie.
- Fokus op die positiewe en prys hom daarvolgens.
- Fokus op sy pogings – en nie op die evaluering van sy persoonlikheid nie. Beweeg teen jou kind se pas en help hom
- om realistiese doelwitte te stel, maar ook om sy eie belangstellings en doelwitte te kies.
- Wees bewus van die redes waarom jy jou kinders aanmoedig. Baie ouers probeer hul eie onvervulde ambisies deur hul kinders vervul. Te veel druk kan ’n kind laat tou opgooi, of selfs negatiewe keuses laat maak.
- Moenie oorbeskermend wees nie. Moenie ooit vir ’n kind iets doen wat hy self kan doen nie – selfs al verkies hy dit so. ntwikkel die vaardigheid van empatie – luister en leer om optrede te ontsyfer. Maar gee die verantwoordelik dan ferm terug. Die enigste manier hoe ’n kind veerkragtigheid in dié uitdagende eeu gaan leer, is om ouderdomtoepaslik sy eie probleme op te los.
- Stel duidelike en konsekwente grense. Ware dissipline is die vermoë om dit baie duidelik te maak wat die reëls en verwagtinge is, maar om dit terselfdertyd duidelik te maak wat die gevolge sal wees indien die reëls verbreek word.
Hoe het ouerskap verander?
Veranderinge in die werkplek (soos tegnologiese ontwikkeling en die neiging om af te skaal en vryskutte te gebruik) vereis nuwe vaardighede van werknemers om suksesvol te wees. Konsekwentheid maak nou plek vir aanpasbaarheid, skryf Martha Beck in Finding your Own North Star (Piatkus, 2001). Dit beteken jou kind moet ander vaardighede hê om suksesvol te kan wees. Lara stem saam en sê die werkplek met sy platter hiërargiese struktuur waar middelvlakbestuur en as ‘t ware alle werknemers ’n groter bydrae lewer oor hoe die maatskappy bestuur word, het ’n effek op ouerskap gehad. “Vandag mag kinders maar gesien en gehoor word en hulle word toegelaat om meer insette oor gesinsake te lewer.
Kinders mag hul vrese, aspirasies en ontevredenheid verbaliseer. Ek sien ook dat ouers oor die algemeen toegeefliker is – soms té toegeeflik. Daar moet ’n balans wees tussen liefdevolheid en dissipline omdat kinders albei nodig het,” sê Lara. Dr. Potgieter sê die afskaffing van lyfstraf in skole en dat al meer mense hul werk in “veilige” beroepe (in die staatsdiens of groot maatskappye) verloor, het ’n invloed op veral die Afrikaner se voorheen eng ouerskapstyl gehad. “Ouers het die teenstand teen lyfstraf gesien, die meer liberale uitkyk wat in Suid-Afrika posgevat het.
Hulle gee hul kinders al meer vryheid om te kies en moontlikhede te ontdek. Ouers moet aanpas in hul ouerskaptegnieke en meer gerig wees op gesprek met hul kinders as destyds toe pa se woord wet was.” Anne sê dit help nie om ouerskap vandag met jare gelede te vergelyk nie omdat dit oor die afgelope vyftig jaar so baie verander het. “Die dae van ‘kinders moet gesien en nie gehoor word nie’ en ’n goeie paar klappe het my nie kwaad gedoen nie en sal my kind ook nie kwaad doen nie’ is lankal verby.” Vroeër jare moes volwassenes tot elke prys gehoorsaam word maar nou mag kinders hul eie gevoelens en menings hê, maar hulle moet hul individualiteit steeds op ’n aanvaarbare manier uitdruk.