Oudbrigadier Piet Byleveld is op Woensdag, 24 Mei 2017 oorlede nadat kanker in Maart by hom gediagnoseer is.
Ons het in 2010 ’n in-diepte onderhoud met Piet gevoer nadat hy afgetree het. Lees die hartroerende artikel hier:
*Hierdie artikel het in die Oktober 2010-uitgawe van rooi rose verskyn.
Die dag ná sy aftrede het ’n konstabel oudbrigadier Piet Byleveld van die pad getrek omdat sy motor nie ’n agterste nommerplaat gehad het nie. Soos gewoonlik swaai hy toe net sy polisiekaart rond. “Hey,” trek die konstabel los, “I know you retired yesterday, that’s not going to work.”
“En net toe hy my uiteindelik verskoon, vra hy vir my of ek my veiligheidsgordel dra. Toe sê ek ek het asma – met ’n sigaret in die hand. Jy moet net nooit onbeskof wees met die ouens nie,” sê Piet.
Hy wou nie graag aftree nie, maar vir polisiemanne is sestig aftreetyd.
“In my hart sal ek altyd ’n speurder wees, maar nou wag ’n wonderlike lewe op my.”
Dis gesellig in die meenthuis waar hy en sy spesiale vriendin Elize Smit, en Piet se 17-jarige hondekind, Seuntjie die foksterriër, bly. Agter in die tuin is ’n hok met sy ander passie – sy groot versameling voëls.
Piet en Elize het al drie jaar lank ’n verhouding, maar ken mekaar veel langer, want Elize en Piet se sussie, ook Elize, is al 25 jaar vriendinne. Hul vriende verwys na die blonde Elize as “Wit Elize” en die donkerkop word “Swart Elize” genoem. Piet sê hy het maar altyd van Wit Elize geweet en haar nou en dan by gesellighede gesien.
“Ek ken Piet se broer Johann en sy vrou, Dykes, ook al jare lank. Ons het baie naweke op die plaas gaan kuier en saam vakansie gehou,” sê Elize.
“Terwyl ek natuurlik altyd gewerk het,” brom Piet onderlangs.
Hy skink vir ons rooiwyn in groot, mooi glase en uit die kombuis kom heerlike geure aangesweef. “Sy’s ’n goeie kok,” spog hy.
Die patio, wat hulle onlangs met plastiekseile toegemaak het om die winterkoue uit te hou, is hul gunsteling-kuierplek. “Ons het ’n yskassie hier en die vleis is dikwels hier op die vuur,” en hy wys na die groot gasbraaier. En Seuntjie se kussing lê in die hoek, sien ek.
“Hier sit ek en Elize nagte om en gesels. Ek kan dit nie glo nie. Ons praat oor alles. Ek het ’n leeftyd se gesels om in te haal. Dis die eerste keer in my lewe dat ek so met iemand kan praat.”
Seuntjie raak onrustig toe hy die peuselhappies op die tafel ruik. “Nee, Seun,” sê Piet, maar gaan haal tog ewe gedienstig ’n bederfie.
“Piet eet elke oggend ’n bord graanvlokkies net sodat hy ’n bietjie vir Seuntjie kan los!” terg Elize die man wat drie jaar gelede in ’n rooi rose-onderhoud gesê het hy eet nooit ontbyt nie – net Grandpa-poeiers en Coke om hom aan die gang te hou.
“Elize is goed vir my,” sê Piet. “Sy het betekenis aan my lewe kom gee. Soms was ek senuweeagtig tussen mense, of die geselskap het my geïrriteer en ek het liewer padgegee. Maar alles het verander. Dit is so ’n voorreg om met vrymoedigheid met iemand te kan praat. Net gesels. Nie net oor werk nie, oor álles. Ek het weer geleer hoe om te kommunikeer – ook met familie en vriende. En ek hou van haar insette. Jy weet, hulle sê ’n vrou se instink is baie goed. En Elize is lekker nuuskierig. Ek is mal daaroor.”
“Kyk, hierdie man is skerp,” prys sy hom op haar beurt. “Hy dink op sy voete, en hy dink wyd. Hy is soos ’n bloedhond, as hy snuf in die neus gekry het, los hy nie en kan jy weet hy is op jou spoor. En,” ‘skinder’ sy ’n bietjie, “hy is pynlik netjies. Hy verpes dit om in ’n vuil motor te ry. Hy sal die motor selfs laat was net voor hy op ’n stofpad gaan ry! Baie gesteld op netheid.”
Piet het naam gemaak as baasspeurder, maar niemand het geweet dat alles in sy persoonlike lewe nie aldag rosegeur en maanskyn was nie.
Hy skink nog wyn.
Hy het ’n taai dag agter die blad. Hy was vandag weer by die prokureurs oor sy egskeiding. Hy en sy vervreemde vrou, Johanna, was 35 jaar lank getroud.
“Dit was rof,” sê Piet. “Ek is net baie bly daar is nie kinders betrokke nie.”
Oor hierdie deel van sy lewe het hy nog nooit gepraat nie; altyd ’n front voorgehou. En hy is steeds maar steeks om daaroor te praat,
“Ek het baie nagte by my huis stilgehou … Maar daar was geen omgee nie. Dit was vir my lekkerder om te werk. Ek het geen behoefte gehad om by die huis te wees nie, en het verkies om ook nooit met vakansie te gaan nie.”
Wanneer hy nie gewerk het nie, het hy koers gekies na sy sussie Elize-hulle toe. Dit was vir hom heerlik, want daar kon hy net ontspan.
Hy sê ’n ruk nadat hy Elize ontmoet het, het hy die eerste keer sy hart oopgemaak oor die dinge in sy persoonlike lewe wat nie reg verloop het nie.
“’n Mens is jonk, ek het van die plaas af gekom, was onervare, en dan maak jy foute. Alles het van die eerste dag af verkeerd gegaan,” sê Piet. Sy het hom mislei, voel hy. So het hy nie voor sy troue geweet Johanna is ’n hele paar jaar ouer as hy nie, ook nie dat sy voorheen getroud was nie.
Maar hoekom het hy nie vroeër geskei nie?
“In daardie jare by die polisie is jy streng gekeur. Hulle het na alles gekyk en elke liewe ding moes goedgekeur word voor jy toegelaat is om polisieman te word. As hulle sou weet van alles wat Johanna gedoen het, sou hulle my summier skors.”
Sou hy steeds so goed in sy werk gewees het as hy ’n vrou gehad het met wie hy sy lewe kon deel?
“Ek glo ek sou beter gewees het. Dis lekker om huis toe te kan gaan. As jy gelukkig is, is die kans op sukses net nog groter. As ek ongelukkig is, onttrek ek my maar net. Ek het ’n leuen gelewe tot ek besluit het tot hiertoe en nie verder nie,” sê Piet.
“Net om jou ’n idee te gee, vandat ek Elize ontmoet het, het ek nog nie weer ’n asma-aanval gehad nie. Voorheen was ek kort-kort in die hospitaal. Wys jou watter positiewe invloed sy op my het.
“Dit het lank gevat, maar ek het ’n opregte vriendin ontmoet! Sy glimlag altyd, wil net goed doen en sy is slim. Ek hou nie daarvan as mense sleg praat van mekaar nie. Ek is nie hier om te oordeel nie.”
Superspeurder
Al was Piet die man wat misdadigers meedoënloos gejag het, het hulle hom onvoorwaardelik vertrou, soos Bongani Mfeka, die Kranskop-moordenaar. “Hy het my gevra om in die hof by die regter te pleit om hom nooit vry te laat nie, want dan sal hy dit net weer doen. Ek het so gemaak en hy het my bedank. Ek het gereeld by hom gaan kuier toe hy in Brixton in aanhouding was, en elke Saterdag het hy my kantoor en skoene skoongemaak.
“Ek glo daaraan om álle mense met respek te behandel – misdadigers ook.”
Hy weet ook dat jy moet kophou; nie jou humeur moet verloor nie. “Sodra jy beheer verloor, kan jy maar ophou, en as jy emosioneel betrokke raak, is die kans groot dat jy kan misluk. Ai, dis ’n heerlike uitdaging om iemand anders te uitoorlê. Ek is mal daaroor!”
Die Leigh Matthews-saak sal hom altyd pla. Hy hou nie daarvan om te verloor nie. “Ek het die dader aangekeer, maar weet Donovan Moodley was nie alleen verantwoordelik vir die moord nie. Maar die waarheid sal nog seëvier.” Piet sluit nie die moontlikheid uit dat Moodley se verloofde, Jessica Singh, wat tans in die buiteland is, ’n rol in die misdaad kon gespeel het nie. “Moodley is die enigste een wat die waarheid kan vertel.”
Die reeksmoorde sal altyd vir hom spesiaal wees. Hy het dikwels goed raakgesien wat ander polisiemanne misgekyk het. “Ek dink dis my instink. Ek kry net daardie gevoel.
“Van al die reeksmoordenaars was die Wemmerpan-moordenaar, Cedric Maake, die een wat ek altyd sal onthou. Dit was seker my grootste deurbraak. Ek het twee reeksmoorde ondersoek, min wetende dat een man agter albei gesit het. In die week het Maake Indiër-kleremakers aangeval en met ’n hamer doodgeslaan – terloops, daardie hamer is nou in my besit. Naweke het hy by Wemmerpan toegeslaan. Eers het hy enkelvroue verkrag en vermoor en later het hy op paartjies toegeslaan. Op ’n keer het hy ‘n bejaarde man doodgeskiet vir sy fiets en die fiets aan ’n pandjieswinkel gaan verkoop. By die kleremakers het hy soms skoene opsygesit en daarvoor het hy dieselfde naam en handtekening gebruik as wat hy gebruik het toe hy die fiets verkoop het! Ek het besef dis dieselfde man wat agter alles sit. Dit was ’n fantastiese gevoel.
“Ek dink ek gaan die hof die meeste mis; om die verdediging te uitoorlê! Ek het nog net een saak in die hooggeregshof verloor: Toe ek Frank Zanner aangekeer het omdat hy sy vrou met die kruisboog vermoor het. Daar was geen twyfel daaroor dat dit hy was nie, maar die getuienis was pateties. Hy is steeds op vrye voete.”
Hoe voel hy oor al die kritiek wat die polisie moet verduur?
Hy sê Bheki Cele beïndruk hom en hy glo die polisiediens het ’n nuwe fase betree. “Belangrik is dat hulle moet spesialiseer, dan sal die polisiemag se naam weer in ere herstel word. Daar is baie goeie polisiemanne daar buite. Vir ’n polisieman moet dit nooit ’n loopbaan wees nie maar ’n roeping. As dit nie so is nie, moet jy dit nie eens oorweeg nie. Ek dink Bheki Cele het ook daardie siening.”
Die polisie het hom onlangs gevra om te help met opleiding, en hy dink dat hy in die toekoms dalk daar betrokke kan raak. Maar hy gaan nie te lank stilsit nie. Daar is baie aanbiedinge.
“Ek oorweeg nog al my opsies. Verskeie firmas wil my op konsultasiebasis betrek, ook om bedrog met lewensversekeringspolisse te ondersoek. Ek sal baie daarvan hou om daardie ouens vas te trek. Dis nou waar ek die dooies weer lewendig gaan maak. Die Lenasia-gemeenskap het my genader om hulle te help om die misdaad daar te bekamp. En ek is gevra om joernaliste te help – goed waarna hulle moet kyk as hulle onderhoude voer en hoe om ondersoeke te doen.”
Tyd om te lééf
Maar niks is nou so belangrik soos die geleentheid om op sestig te kan begin lééf nie.
“Ek kan my nie indink wat ek sou doen as ek nie vir Elize ontmoet het nie. My lewe sou verby gewees het.”
Hulle het aan die begin van die jaar in die Kaap gaan vakansie hou – die eerste keer in 38 jaar dat Piet vakansie hou. Hy het soms op die spoor van ’n misdadiger by die see verbygery, maar nooit afgetrek nie.
“Dit was fantasties. Ek kon dit nie glo nie. Ek was elke oggend vroeg op en het op die strand gaan stap. Kaalvoet. Ek het in die see geswem, tot ’n tentjie op die strand opgeslaan, branderplank gery en ’n bietjie geval ook! En wat is hierdie tonnels goed wat jou so uitspoeg?”
“Supertube,” help ons. “Kan jy glo, vir die eerste keer in my lewe het ek dit ook gery!”
“En toe, waar het jy gedink gaan jy land?” por Elize.
“Tafelberg. Ek was seker met die spoed wat ek daar afgaan, land ek op Tafelberg! Dit was die eerste keer wat ek my so kon uitleef. Niks het my gejaag nie. Dis fantasties,” sê Piet met ’n ver kyk in sy oë. “Voorheen was daar niks om oor te lag nie. Elize het my lewe so verryk.”
Hulle wil ook gaan toer. Piet was nog nie oorsee nie. In Desember gaan hy en Elize by haar seun in Londen kuier, en hy sien vreeslik daarna uit.
Seuntjie het uiteindelik bedaar en Piet gooi hom met sy kombersie toe. Lyk of hy sy skoene as oupa vir Elize se kleinkind maklik sal vol staan. Hy sê hy wou graag kinders gehad het, maar vanweë sy omstandighede was dit buite die kwessie.
En hy is dalk ’n baasspeurder, maar hy is geen McGyver nie. Hy het onlangs ’n gloelampie in die voëlhok wou aanbring. “En toe slaan hy homself met die tang teen sy oog,” vertel Elize laggend. Ek het gedog ons sal steke moet laat insit.”
“Oee, ek is onhandig,” sê Piet, en trek sy oë op skrefies. “Ons wou ’n rukkie terug ’n stoel aanmekaar sit. Ek het die vorige Kersfees ’n toolbox by Elize persent gekry, maar dit het nie eens gehelp nie. Dit het ons ’n hele nag gevat net om die armleuning te doen!”
Hy hou ook daarvan om sy hande in die grond te druk.
“Steggies is eintlik sy ding,” sê Elize.
“Ek is mal daaroor, jy sit net ’n stokkie in die grond en dan loop hy. As ek nie ’n steggie kan kry nie, sal ek ene leen,” spot Piet.
“We’ve got one life, live it!” dis nou my en Elize se uitgangpunt,” sê Piet.
“Ek wil nie een van hierdie oumense word wat heeldag op die stoep sit en ’n groot maag kry nie. Ek sien so uit na die res van my lewe; na ’n ander leefwyse. Ek wil weer ’n mens wees.”
Agter die kap van die byl
• Tussen die foto’s teen die muur is ’n geraamde brief. Pres. Jacob Zuma se prokureur het aanbeveel dat die president Piet Byleveld as die nuwe nasionale polisiekommissaris aanstel. Maar die president het Bheki Cele verkies.
• Piet weet wanneer iemand vir hom lieg. “As iemand sê ‘genuine’, of Christenskap gebruik om my te oortuig hy praat die waarheid, weet ek hy lieg. En natuurlik liggaamstaal, soos as hy aan sy gesig begin krap en op die stoel rondskuif, of sy lip beweeg vinniger en sy mond word droog. Ook as sy stemtoon verander, soos die psigopaat Sipho Dube wat kinders in Jeppestown gesodomiseer en vermoor het. Hy sou doodnormaal praat, maar wanneer hy skielik met ’n growwe stem begin praat, moet jy weet!” Hy het ook ’n broertjie dood aan mense wat aanvanklik normaal praat en dan skielik “met so ’n soetsappige ou stemmetjie begin praat en oordrewe hoflik raak”.
• Hy is al ’n paar keer geskiet. In 1992 is hy in die been gewond. “Ek het ’n saak in Bryanston ondersoek – ’n sewentigjarige vrou is met ’n ysterpaal in haar kombuis doodgeslaan. Ek het die huishulp toegesluit, die saak ontrafel en nog drie gearresteer. Die tweede ou het my raakgeskiet en die derde een het ek in Zimbabwe gaan haal. Dit alles omdat die huishulp ontevrede was met haar salaris! Moet nooit jou huishulp te na kom en te min betaal nie. Die meeste van alle huismoorde begin hier.”
• In die jare sewentig het ’n tuinman ’n meisietjie se keel afgesny vir haar fiets. “Daardie toneel was verskriklik. Maar ons het hom gevang en tydens die optrede is hy doodgeskiet. Hy was sestien. Daardie nag het ek heelnag wakker gelê; gewonder of ek nie iets anders kon doen nie. Die volgende dag is jy weer reg. Jy weet jy het regverdig opgetree. Ek het nie ’n keuse gehad nie, hy het ’n mes getrek en my aangeval.”