'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }
Ou liefde roes nie
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Juffrou Lettie was gevorderd in jare, maar hoe oud sy regtig was, het niemand geweet nie. Sommige van ons het al by geleentheid gewonder of sy ooit ‘n baba was.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Miskien is sy in ‘n donker snyerspakkie en bolla gebore. Haar skerp blou oë en ewe skerp verstand het haar in ‘n eie kategorie geplaas. Geen maatskaplike werker of verpleegkundige sou dit waag om liefderyk na haar as “een van my oumensies” te verwys nie.
Sy het in haar groot huis op die plaas gebly, ‘n onmiskenbare deel van die lewe op Uitsig. Al het haar broerskind lankal die boerdery oorgeneem, was haar ysterhand deeglik in die bestuur sigbaar. Klein Jan sou dit nie waag om ‘n groot besluit oor die boerdery te neem sonder om eers vir Juffrou Lettie te raadpleeg nie. Haar broer is al jare oorlede en die enigste suster is die vorige jaar stil in die familiekerkhof weggebêre. Mense het steeds gefluister oor Anna se skielike troue met die mannetjie van die koöperasie. Niemand het die twee ooit eens saam by die kerk of die Saterdagtennis gesien nie. Maar toe die dorp hul oë uitvee, was die twee getroud en het Sawwe Stefaans en Anna in ‘n splinternuwe Dodge die dorp uitgery. Sawwe Stefaans se skuld by die plaaslike hotel is skynbaar oornag afgelos. Boonop het hy glo iewers ‘n pos in die stad gekry. Anna en Stefaans het daarna maar min gesig gewys. Daar is lank geskinder oor die Jordaans se getroude buurman wat so danig met Anna was in die boorde waar Uitsig en Vrolikheid aanmekaar grens. Stories het die dorp vol gelê dat die baba wat vroeg gebore is, glad nie na Stefaans trek nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Skaars ‘n week ná die destydse onverwagte troue het ‘n vreemde meisie onverwags vir Stefaans by die koöperasie kom soek. Dit was ‘n hele gedoente en die meisie is inderhaas uit plaas toe, waar Juffrou Lettie skynbaar ‘n tjekboek uitgehaal het. Die meisie is nooit weer gesien nie en hoeveel stertjies die storie gekry het, weet niemand nie. Juffrou Lettie het haar nie veel aan die geskinder gesteur nie. Soos altyd het sy ongestoord haar goeie gang gegaan en plaas en dorp met ‘n ferm hand bestuur.
Juffrou Lettie was wyd belese, ingelig en ‘n doener. Sy het nooit teruggesit en persoonlike of gemeenskapsake maar hul loop laat neem nie. Daar was min wat sy nie van die politiek, ekonomie, boerdery, of plaaslike sake geweet het nie. Hier in 1998 rond het sy teenoor die uittredende predikant beken dat sy in ‘n versoeking is om nie meer oor die politiek te lees nie. “Ek het ‘n sterk be-geerte om my heeltemal van die twak te distansieer, maar dit sou baie kortsigtig wees,” het sy met kenmerkende nugterheid gesê.
Dit het dus as ‘n skok gekom toe die gemeenskap een koue Sondagoggend besef dat Juffrou Lettie oud en broos geword het. Die eerste sneeu van die seisoen het die vorige nag geval en die boere het met rooi neuse die weer staan en bespreek toe sy by die kerk neerslaan. Sy het vergeefs probeer opstaan. Die koster het die mense haastig na die syingang weggekeer.
Juffrou Lettie sou voorwaar nie daarvan hou dat sy ‘n spektakel van haarself maak nie. Die heupvervanging was suksesvol. Sy was ná ses weke terug in haar eie huis. Met ‘n nugterheid eie aan haar onafhanklike aard, het sy begin voorberei vir die trek na een van die woonstelletjies by die dorp se ouetehuis. Sy het lysies uit die kluis gehaal en presies geweet wat waarheen moet gaan en wie wat moet kry. Daar was selfs ‘n belegging waarvan Mina, haar jare lange huishulp, gerieflik sou kon leef.
ALLES WAS HAARFYN BEPLAN, behalwe dat daar nie ‘n woonstel beskikbaar was nie. “Grieta,” het sy vir Klein Jan se vrou gesê. “Ek het ‘n probleem. Ek kan nie meer lank alleen hier woon nie en ek sal nooit by jou of enige ander familie intrek nie. In normale omstandighede sou ek bloot die saak in gebed opgeneem het. Soos jy weet, is daar ‘n vertrouensverhouding tussen my en die Hemelse Vader. Oor hierdie saak kan ek nie sonder meer bid nie. Ek kan tog nie bid dat een van die vier woonstelbewoners moet sterf sodat ek kan intrek nie. Dit is tog ‘n uiterste sonde, gelykstaande aan moord, om te bid dat iemand moet doodgaan. Nee, hierdie is nie ‘n saak van gebed nie.” Juffrou Lettie, hoewel gelowig en liggaamlik broos, het onomwonde geweet dié saak moet sy self oplos.
Grieta het matrone Fourie by die tehuis gaan opsoek. Daar het dit aan die lig ge-kom dat Juffrou Lettie die vier woonstelle destyds gefinansier het op voorwaarde dat sy enige tyd op ‘n woonstel aanspraak mag maak. “Grieta, dis ‘n stewige bedraggie wat Juffrou Lettie destyds bewillig het. Ons moes die grond by oorlede oom Oelofse uitkoop en Juffrou Lettie het aangedring op ruim vertrekke, goeie afwerking en toebehore. As Juffrou Lettie ‘n woonstel wil hê, is ons verplig om een te ontruim. Daar is so ‘n klousule in elk van die kontrakte ingebou. Sodra Juffrou Lettie laat weet, sal die bestuur met die vier inwoners begin onderhandel. Maar wie van die vier ons sal moet uitsit? O, dis ‘n tameletjie.” Matrone Visagie het ‘n migraine voel kom en ‘n pilletjie by die siekeboeg gaan vra.
Die vier inwoners was goed aan die gemeenskap bekend. Woonstel een is bewoon deur Mevrou Dominies Retief. Dominies Retief het die gemeente 24 jaar lank bedien voordat hy een oggend op die preekstoel ‘n hartaanval gekry het. Predi-kante het destyds nie juis goeie pensioenfondse gehad nie en mevrou Retief het geen ander heenkome gehad nie. Die gemeente het verantwoordelikheid vir mevrou Retief geneem en versorg haar steeds met woord en daad.
In woonstel twee bly juffrou Mimmie Volschenk, dekades lanks reeds ‘n staatmaker in die gemeenskap. Sy het as jong meisie op die dorp kom skoolhou en het nooit getrou nie. Iemand weet te vertel dat sy op troue gestaan het met ‘n jong boer uit haar tuisdorp iewers in die Karoo, toe dié in ‘n motorongeluk oorlede is. Mimmie Volschenk het baie dekades lank die dorp se kinders onderrig en word steeds hoog geëer. Waar sal sy tog heen sonder kind of kraai?
In woonstel drie bly Tannie Mari Maritz, die blinde orrelis wat altyd gereed is om haar plek agter die orrel in te neem, al is sy reeds diep in die sewentig. Sy het laat in haar lewe haar sig verloor. Sy was jare lank die voorsitter van die Vroue- Landbou-unie, die sustersvereniging, en waarlik ‘n Israeliet sonder bedrog. Haar man is lank reeds dood en haar enigste dogter by die geboorte van ‘n tweeling. Die skoonseun en sy tweede vroutjie het aanvanklik nog gereeld gesig gewys, maar hulle het mettertyd Australië toe verhuis. Die tweeling het nie juis kontak met hul ouma behou nie. Mari Maritz is wel finansieel versorg, maar waar gaan ‘n blinde, ou vrou heen?
In woonstel vier bly ‘n inkommer, ‘n liewe, vriendelike, fyn vroutjie, Jemima Jooste. Jemima het bloot eendag net met ‘n paar koffers haar opwagting op die dorp gemaak. Juffrou Lettie het haar skynbaar geken, want toe ‘n woonstel beskikbaar geraak het, het Jemima ingetrek. Sy was effe jonger as die res. Sy dra fleurige, pastelkleurige, geblomde rokkies en was elke week haar hare in ‘n perserige spoelmiddel. Daar speel altyd dansmusiek op haar radio en haar tuintjie is reg deur die jaar vol kleur. Daar word soms goediglik na haar as “die vrolike weduwee” verwys.
GRIETA EN MATRONE HET NA mekaar gekyk. Jemima, soos sy aangedring het dat oud en jonk haar noem, het laaste ingetrek. Sy was die enigste een wat nog nie lank op die dorp gebly het nie. Sy het trouens nie eens kerk toe gegaan nie en ondanks haar vrolikheid, het sy altyd so ‘n effense buite-stander gebly.
Terug by Juffrou Lettie het Grieta die saak versigtig aangeroer. “Matrone en die bestuur reken dat hulle Jemima sal vra om ‘n ander plan te maak.”
Grieta het nog nie haar sin voltooi nie toe Juffrou Lettie kwaai met haar vuis op die antieke hoektafeltjie kap: “Jy het geen reg om in te meng nie, Grieta. Jy het geen reg om agter my rug en namens my te gaan praat nie. Daardie antieke kas sal nou na my niggie se dogter op Upington moet gaan. Jemima Jooste bly net waar sy is. Ek het destyds gesorg dat sy die woonstel kry toe sy geen ander heenkome gehad het nie. Ek sal haar nie nou van ‘n dak oor haar kop beroof nie. Sy is ‘n ligsinnige vrou, maar dit gee niemand die reg om haar kwaad aan te doen nie.”
Juffrou Lettie het voet by stuk gehou en nie Grieta of Klein Jan kon hond haaraf maak nie. “Nou ja, Juffrou Lettie, dan weet ek nie,” het Grieta ná weke se heen en weer moedeloos gesê. “Kom ons bid maar oor die saak.”
Weer het Juffrou Lettie met die vuis op die hoektafeltjie geslaan en dié keer was Grieta die hemelbed kwyt. “Ek het jou van die begin af gesê, bid sou ek in normale omstandighede bid, maar in dié saak durf ek nie bid nie.”
Grieta het omgedraai en eers huis toe gegaan. Sy was nie regtig ontsteld oor die kas of die bed nie, het sy aan Jan verduidelik. “Ons het reeds ‘n huis vol pragtige meubels. Dis net dat Juffrou Lettie regtig nie meer alleen moet bly nie. Vir die eerste keer begin ek wonder of sy nie nou so effens kens raak nie. Reken, sy wat in elke moeilikheid die Here se wil soek, wil oor die saak nie eens bid nie.”
KLEIN JAN WAS VERSTOM. Juffrou Lettie was ‘n bidder van formaat. Statig en oortuigend het sy die rol van voorbidder in die Pinksterdienste vervul. Sy het gebid by familiebyeenkomste, by die voorstelling van geliefde broerskinders en dié se kinders. Daar was geen sentiment of geteem in haar gebede nie. Nee, dit was nugter, saaklike gebede wat met vertroue aan die Hemelse Vader opgedra is. Reken, Juffrou Lettie wil nie bid nie! Dit op sigself is die duidelikste teken dat sy nie meer in staat is om alleen te bly nie.
Laatnag kry Grieta die antwoord in ‘n droom. Vroegoggend is sy met Juffrou Lettie se emmertjie melk, vars van die koeie, by die agterdeur. “Kyk, Juffrou Lettie, ek het nou so gedink. Natuurlik wil ons nie bid dat die Vader een van die vier vroue ‘deur die dood’ moet wegneem nie. Maar wat verhinder ons om te bid dat een van hulle uit eie wil sal besluit om uit te trek?”
“En vir wat sal ‘n ou vrou wat by haar volle positiewe is, nou uit so ‘n gerieflike woonstel wil trek? Grieta, jy mors my tyd. Hierdie is nie sonder meer ‘n saak van gebed nie. Ek het jou reeds so gesê. Ek sal hierdie saak eers goed oordink voordat ek optree.”
Vies draai Grieta met die leë emmertjie om. “Ag, Juffrou Lettie, kom ons bid dat vrolike Jemima ‘n man kry en haar ou dae gelukkig en verlief sal deurbring.” Sy verwag dat Juffrou Lettie oor dié ligsinnigheid die eetkamerstel ook uit haar erfporsie sal wegneem, maar toe sy omkyk, is daar ‘n ingenome glimlaggie om die vasbeslote mond.
“Gelukkig en verlief! ‘n Man vir haar oudag. ‘n Man, nè? Nou ja, daarvoor kan ek dalk bid,” sê sy diep nadenkend. “Of dalk hoef ek nie eens te bid nie. ‘n Mens moet die Vader darem ook nie belas met dinge wat jy self kan regstel nie.”
“Regstel, Juffrou Lettie?”
Juffrou Lettie antwoord nie, kyk net ingenome oor die boorde van Uitsig.
Grieta is so nuuskierig soos kan kom. Sy draai die dag by Juffrou Lettie rond. Sy bied aan om Juffrou Lettie te help met die regpak van haar studeerkamer. Sy bied aan dat hulle biblioteek toe kan gaan, maar Juffrou Lettie kyk haar alwetend aan. “Jy vis verniet, Grieta. Jy bars van nuuskierig-heid, maar hierdie saak is vir my en my gewete alleen.”
Die volgende week daag Juffrou Lettie se wewenaarswaer onverwags op. Sawwe Stefaans stop by Juffrou Lettie se opstal, drink tee en ry toe oor na Klein Jan en Grieta en vra hulp met sy koffers.
“Lettie het my genooi,”verduidelik hy, “maar sy meen dis onbetaamlik dat ek by haar intrek.” Hy maak hom tuis, onbewus van die betekenisvolle blikke tussen Klein Jan en Grieta.
“Dis nie verniet dat Juffrou Lettie Sawwe Stefaans nooi om te kom kuier nie, en dit selfs buite die vrugteseisoen. Klein Jan, Juffrou Lettie voer iets in die mou,” meen Grieta. Haar woorde was nog skaars koud toe kommandeer Juffrou Lettie vir Sawwe Stefaans op om saam met haar op die dorp te gaan besoek aflê.
“Reken,” vertel Jemima later die hele dorp vol. “Daar daag Stefaans toe op. Ná soveel jare. Stefaans het mos destyds so skielik met Juffrou Lettie se jongste suster getrou. Reken, as die brood nie in die oond was nie, sou hy haar nooit bo my … Nou ja, die see was vol visse, ek was altyd ‘n aansienlike meisie. Ek het later met my oorlede Albert afgehak. Ons het nie so ‘n slegte lewe gehad nie. Min het ek geweet my en Stefaans se weë sal tog weer kruis. Reken, ons gaan in ‘n groot woonstel by die see woon. Lettie se trougeskenk. Mense, hulle sê mos ou liefde roes nooit nie!”
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.