Ek het baie uiteenlopende menings oor die kwessie van narcissisme gekry in die navorsing vir my Oscar-boek, Van sprokie tot tragedie in die kollig, wat onlangs verskyn het. In dié uittreksel uit die boek gee een kenner haar mening.
Nellie Prinsloo, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg met byna drie dekades se ervaring, het haar internskap as kliniese sielkundige by die Weskoppies-psigiatriese hospitaal gedoen. Sy het eers ’n graad in verpleegkunde behaal en het as studenteverpleegster ook in die mans-opnamesaal van Weskoppies gewerk.
Prinsloo word al sedert 1989 as ’n deskundige getuie in hofsake gebruik, en het al meer as honderd sielkundige evaluasies vir hofsake gedoen in sake met aanklagte wat wissel van moord, kindermolestering en bedrog tot toesig oor minderjarige kinders en eise teen die Padongelukfonds.
Die Diagnostics and Statistical Manual of Mental Disorders (sogenaamde DSM-IV-TR®) van die Amerikaanse Psigiatrie-vereniging sê die volgende oor die diagnose van narcissisme:
“The essential feature of Narcissistic Personality Disorder is a pervasive pattern of grandiosity, need for admiration, and lack of empathy that begins by early adulthood and is present in a variety of contexts. Individuals with this disorder have a grandiose sense of self-importance.”
Prinsloo meen ’n mens moet baie versigtig wees om uit enkele, losstaande boodskappe afleidings oor mense se verhoudings en hul persoonlikhede te maak. “Ons weet eenvoudig nie alles nie.” Prinsloo beklemtoon dat sy versigtig is om ’n persoonlikheidsteuring van enige aard by iemand te diagnoseer sonder om hom persoonlik te evalueer. “Ek dink dit is baie gevaarlik om sommer net ’n diagnose te maak na aanleiding van wat jy in die koerant lees of op televisie sien. Onthou, ’n artikel word altyd gekleur met die joernalis se sienswyse en persoonlikheid.”
Volgens haar is die vernaamste kenmerk van ’n narcissis ’n patroon van grootheidswaan.
Individue wat aan grootheidswaan ly, het ook ’n “grandiose sense of self-importance” en oorskat aanhoudend hul vermoëns en dik aan oor hul prestasies, wat hulle pretensieus of spoggerig laat voorkom. “They may blithely assume that others attribute the same value to their efforts and may be surprised when the praise they expect and feel they deserve, is not forthcoming.” Volgens die DSM onderskat ’n narcissis ook ander mense se bydrae tot sy prestasies.
Prinsloo meen dat Pistorius nie aan grootheidswaan ly nie. “Hy hoef nie te dink hy is ’n goeie atleet nie, want hy ís ’n uitstekende atleet.” Volgens haar ontbreek die narcissis se tipiese behoefte aan roem en aansien ook by Pistorius. “Ek het hom nog nooit op ’n seepkis gesien of gehoor nie.” Sy vra: “Is daar enige bewyse dat Oscar byvoorbeeld al ooit joernaliste gebel en gevra het dat hulle onderhoude met hom voer? Dis iets wat ’n tipiese narcissis byvoorbeeld sal doen. In onderhoude praat hy oor dit wat hy werklik bereik het, maar dit kom altyd oor asof hy beskeie is en nie die eie ek beklemtoon nie.”
Volgens haar het ’n narcissis, benewens die grootheidswaan, boonop ’n behoefte om ander af te breek of hul prestasies te onderskat. “Kom ons ontleed die storie met die langer lemme by die Paralimpiese Spele in Londen. As ’n mens in ag neem hoeveel drama hy gehad het om te bewys dat sy lemme hom nie bevoordeel nie, is dit seker te verstane dat hy iemand bevraagteken wat met langer lemme as hy hardloop en hom wen. Sou enige atleet in ’n soortgelyke posisie nie maar dieselfde gedoen het nie? Sou ’n tennisspeler wat by Wimbledon opdaag met ’n raket waarvan die kop groter as normaalweg voorkom nie ook deur sy teenstanders bevraagteken word nie?”
’n Tweede riglyn, volgens die DSM, is fantasieë oor onbeperkte sukses, mag, briljantheid, skoonheid of die ideale liefde.
“They may ruminate about ‘long overdue’ admiration and privilege and compare themselves favourably with famous or privileged people.” Prinsloo meen Pistorius het reeds al bogenoemde gehad en dat daar nie bewyse is dat hy oor nog méér sukses gefantaseer het nie. Selfs sy grootste kritici sal moet erken dat Pistorius nog altyd baie hard gewerk het om sukses te behaal, en nie bloot rondgesit en daaroor gefantaseer het nie.
Volgens die derde riglyn dink mense met narcissistiese persoonlikheidsteuring aan hulself as “superior, special or unique and expect others to recognise them as such”. Sulke mense, volgens die handleiding, mag voel dat hulle slegs verstaan word deur ander met net soveel status, of wil assosieer met mense net so “uniek”, “perfek” of “begaafd” soos hulle. Die DSM verduidelik dan dat sulke mense glo hul behoeftes is spesiaal en bo die begrip van gewone siele. Hul selfbeeld word verbeter deur dié van die mense met wie hulle assosieer. ’n Narcissis kan op die beste mense (dokters, prokureurs, haarkappers, afrigters) se dienste aandring en sal tipies lid wees van die heel beste instellings, maar kan moontlik die prestasies en kwalifikasies van diegene wat hulle teleurstel, afskiet. Ook hiervoor bestaan daar nie bewyse wat aan ons bekend is nie, meen Prinsloo.
Leana Clunies-Ross, wat Pistorius en sy suster, Aimée, vir ’n tydskrifvoorblad gefotografeer het, kan nie uitgepraat raak oor hoe tegemoetkomend en vriendelik Pistorius was tydens die fotosessie nie. Nog ’n Johannesburgse fotograaf, wat anoniem wil bly, vertel dat Pistorius min verander het sedert sy hom as 17-jarige atleet die eerste keer afgeneem het. Deur die jare het sy hom gereeld afgeneem. “Hy was nog altyd net nederig in my geselskap en het altyd met groot respek teenoor my opgetree.”
Die vierde riglyn waarvolgens ’n narcissistiese persoonlikheidsteuring by iemand gediagnoseer kan word, is ’n oordadige behoefte aan bewondering, wat nodig is om hul brose selfbeeld ’n hupstoot te gee. Volgens die DSM kan hulle behep wees met hoe goed hulle presteer en hoe ander hulle daarvoor bewonder. Dit kan tot ’n “konstante behoefte” aan aandag en bewondering lei. “They may expect their arrival to be greeted with great fanfare and are astonished if others do not covet their possessions.”
Hierdie behoefte aan bewondering kan daartoe lei dat hulle gedurig vir komplimente vis. Prinsloo meen dat daar ook nie voldoende bewyse hieroor aan ons bekend is nie. ’n Ingesteldheid dat dinge hulle toekom, is die vyfde DSM-riglyn. Sulke mense wil dikwels nie in rye wag nie en glo dit wat vir húlle belangrik is, is verhewe bo ander mense se behoeftes en begeertes. “Daar is ook nie bewyse hiervoor aan ons bekend nie. So iets sou tog seker tydens die verhoor geopper gewees het toe daar karaktergetuienis teen hom gebring is op die ander aanklagte,” meen Prinsloo.
Hierdie houding dat dinge hom toekom, gekombineer met ’n gebrek aan sensitiwiteit vir die behoeftes van ander, kan lei tot die bewustelike of onbewustelike uitbuiting van ander (riglyn ses). Narcissiste verwag dat wat hulle ook al wil hê of nodig het, vir hulle gegee moet word. “They tend to form friendships or romantic relationships only if the other person seems likely to advance their purposes or otherwise enhance their selfesteem.” Ook hiervoor bestaan daar volgens Prinsloo geen bewyse in Oscar se geval nie.
Net so met die sewende riglyn, waarvolgens narcissiste gewoonlik nie empatie met ander het nie en dit moeilik vind om ander se begeertes, subjektiewe ervarings en gevoelens in ag te neem. “Hy het myns insiens in die WhatsApp-boodskappe probeer om Reeva se kant van die saak in te sien en haar gevoelens in ag te neem.”
Jaloesie is nog ’n faktor. Narcissiste gun ander nie hul sukses of besittings nie, en kan selfs voel dat hulle eintlik sélf die prestasies, bewondering of voorregte verdien. Hulle sal ander se bydraes minag. Arrogante, hooghartige gedrag en ’n neerhalende houding is tiperend van narcissiste, sê die DSM. Maar ook hiervoor kan Prinsloo nie bewyse vind in die getuienis nie. “Hy (Oscar) het byvoorbeeld dadelik verskoning gevra vir die skoot in die restaurant en ook aangebied om vir die skade te betaal.”
In ’n twiet op 4 Julie 2012 waarin Pistorius aankondig dat hy by die Suid-Afrikaanse span vir die Olimpiese Spele in Londen ingesluit is, is daar ook nie sprake van ’n hoogdrawende houding nie, en Pistorius gee selfs erkenning aan sy teenstanders:
Today is really one of the happiest days of my life! Will be in London 2012 for both the Olympic and Paralympic Games. Thank you to everyone that has made me the athlete I am! God, family and friends, my competitors and supporters! You have all had a hand!
Prinsloo meen mense het ’n wanpersepsie van wat ’n narcissis is. “Omdat Pistorius in die openbare oog is, neem hulle outomaties aan dat hy daarna smag en daarvan hou. Myns insiens kan so ’n waarneming selfs dui op jaloesie van die persoon wat hom in die eerste plek as ’n narcissis beskou. Ons moet onthou Pistorius het nie internasionale atletiek en die roem wat daarmee saamgaan as beroep gekies nie, maar bloot ’n talent ontwikkel wat veroorsaak het dat hy noodgedwonge in die openbare oog was. Dit was dalk ’n geval van ‘adapt or die’ in die kollig.’”
Ander mening
Die kriminoloog en profielsamesteller, Laurie Pieters-James, voel op haar beurt sterk daaroor dat daar wel patrone van emosionele mishandeling in Oscar en Reeva se verhouding was, en dat die WhatsApp-boodskappe daarop dui dat Pistorius ’n narcissistiese persoonlikheid het. “As Reeva net voorheen daarna opgelet het, sou sy steeds met ons gewees het,” meen Pieters-James. Lees haar en ander menings in Van sprokie tot tragedie in die kollig.