Mango-lugredery het ons van Johannesburg se Lanseria-lughawe vinnig na Durban toe gevlieg. ’n Mooi rit deur KwaZulu-Natal vat ons na Durban se hawe waar ons eers deur paspoort-beheer moet gaan. Jy kan van vooraf ekstra betaal en die ‘fast-track’-opsie vat, dit is die moetie werd, dan vat die toue nie so lank nie.
Groot, wit en blink staan die MSC Sinfonia vir ons en wag, die tyd om weg te vaar het aangebreek! Almal op die boot skarrel opwindend om hul kamers te vind, opwinding hang in die lug. Die skip is baie groot, 13 verdiepings groot. Om te verdwaal is pret en gaste ontmoet mekaar lag-lag in die gange. MSC is nie selfsugtig nie en die kos is in oorvloed beskikbaar. Formeel, informeel en wegneem-opsies vir etes is vreeslik aanloklik en laat ons beslis meer eet as wat ons moet. My gunsteling was die suurdeeg-pizzas wat heeldag en tot laataand beskikbaar is. Moenie van die heerlike roomys vergeet nie.
Ons het elke aand iets anders probeer. Die San Carlo-teater het verskeie optredes. Vir die tydperk wanneer ons gevaar het, was daar ook ’n opvoerding van toertjies met karate wat ons monde laat oophang het. Een aand het ek Salsa-lesse probeer maar ek het meer gelag en gestamp as wat ek gedans het. Die laaste aand het ons in een van die kroeë ’n tipe skattejag gehad waar almal laggend mekaar probeer wen het. Die dansklub Pasha maak saans om 11 uur oop om die aand dansend te beëindig.
Daar is min goed wat my so salig gelukkig maak soos sand tussen my tone. So dit was met vreugde wat ek in ’n kleiner boot ingespring het om vir die dag op die Portugese eilande te gaan lê. Die water is rustig, jy hoef nie te swem nie jy kan net inloop en gaan sit. Agter ons het ’n boot verbyjaag met ’n opblaas-bank wat agterna met twee passasiers getrek was. Dit lyk na groot pret! My vriendin het vir haar ’n helder pers broek by die klein plaaslike vlooimark gekoop om die vakansie mee te onthou. Na middagete moet ons terug na die skip om te sorg dat niemand met hooggety op die strand vasgevang word nie.
Elke aand se ete was ’n ander ervaring, met opsies vir elke smaak, tot ’n Indiese spyskaart as jy dit sou verkies. As jy bespreek om jou maaltye in die formele restaurant te eet, word jy by ’n tafel van ses geplaas. Ons het wonderlike mense by ons tafel gehad en elke aand ’n hond uit ’n bos saam gekuier.
Vrydagoggend word ons in die Durban-hawe wakker. Die rit het tot ’n einde gekom. Ek sug en pak my tas, kry my rekening gereed en klim die trappies terug na Moeder aarde.
Ons vlug is eers later en ons besluit om die tyd by uShaka Marine World deur te bring. Ek het ’n likkewaan vasgehou wat 18 kg weeg! Vinnig verby die spinnekoppe gehardloop en na die baba-krokodille se vreemde oë gekyk.
Die onderwaterwêreld is potblou en die gediertes is nie haastig nie. Stadig swem hulle verby die groot venster en wys vir ons hulle tande, skubbe en gladde pensies. uShaka doen baie goeie werk, twee haaie is reeds daar grootgemaak en na Londen toe gestuur. Party visse lyk darem maar vreemd.
Die grond onder my voete beweeg nog van die ritme op die boot. Dit is tyd vir die huis, en môre moet ek weer gewone kos eet.