deur Vickie de Beer, bygestaan deur Gillionelle Kaba. Foto: Lee Schwagele van CRPhotographic
Oosterse eendpannekoeke
Ingredients
- Eend
- 1,4 kg heel eend, skoongemaak
- 1 liter kokende water
- 1 lemoen, in kwarte gesny
- 8 cm vars gemmer, in ringe gesny
- 3 groen sprietuie
- 6 knoffelhuisies, geskil en gekneus
- 3 steranyspeule
- 3 stokkies kaneel
- 45 ml (3 e) olyfolie
- sout
- Glaseersel
- 45 ml (3 e) heuning
- 60 ml (4 e) ryswynasyn
- 30 ml (2 e) hoisinsous
- Pannekoek
- (Genoeg vir 12 pannekoekies)
- 300 g rysmeel (te kry in die gesondheidsafdeling van die meeste supermarkte) + ekstra indien nodig
- 250 ml (1 k) klapperroom
- 625 ml (2½ k) sodawater
- knypie sout
- 30 g baba-spinasieblare, gewas
- 60 ml (¼ k) sonneblomolie of kleefwerende kossproei vir die braaislag
- Opdiening
- 1 klein komkommer in linte of julienne gesny
- 4 groen sprietuie, oorlangs gesny
- 30 ml (2 e) sesamsaadjies
- 45 ml (3 e) hoisinsous
Instructions
Eend en glaseersel
1 Voorverhit die oond tot 180 ˚C. Sit die eend in ’n groot oondpan. Prik die vel oraloor met ’n vurk. Gooi kokende water oor die vleis en laat staan vir ’n paar minute. Gooi die water af en druk die eend met handdoekpapier droog.
2 Sit die lemoen, gemmer, sprietuie, knoffel en speserye in die karkas. Geur met sout, smeer die olyfolie oor en bak die eend vir 1 uur.
Maak intussen die glaseersel
1 Gooi die heuning, ryswyn-asyn en hoisinsous bymekaar in ’n klein kastrol. Laat liggies prut oor ’n lae hitte.
2 Smeer die eend ná 1 uur deurentyd met die glaseersel en rooster vir nog 30 min. tot die vleis goudkleurig en blink is. Haal uit en laat effens afkoel. Sny die vleis van die been af en hou eenkant om die pannekoeke daarmee te vul.
Pannekoek
1 Verwerk al die bestanddele in die mengbak van ’n voedselverwerker tot glad. Laat die deeg vir 10 min. staan.
2 Verhit ’n klein, kleefvrye pannetjie oor matige hitte. Smeer die olie in die pan, of spuit met die kleefwerende kossproei (dit werk eintlik die beste).
3 Gooi 80 ml (⅓ k) van die beslag in die pan en bak die pannekoekies aan albei kante tot gaar. As die pannekoeke sukkel om los te kom en breek, kan jy nog 30 ml (2 e) van die rysmeel bymeng en goed klits.
Opdiening
1 Vul elke pannekoek met repies van die komkommerlinte en die sprietuie.
2 Pak van die eendvleis op en sprinkel sesamsaad oor. Skep ’n bietjie van die hoisinsous op. Draai die pannekoeke toe en smul!