kategorieë: Reis

Oornag in ’n eeu-oue skooltjie tussen die berge

In Julie, op pad terug van die Breyten Breytenbach Boekfees in Montagu, het ons gesin besluit om op ’n gasteplaas in die Calitzdorp-distrik te oornag. Dit was ’n louwarm Sondagmiddag. Die grondpad het geslinger verby klipkoepels en kranse. ’n Skare blommende vuurpyle teen die hange. Sig-sag het ons gery tot diep in die berge van River Farm in Matjiesvlei.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Daar is twee selfsorg verblyfopsies op die plaas: Die River Cottages (ideaal vir paartjies) en die Old School House (geskik vir ’n gesin of groep.) Met ons aankoms was daar ’n persoonlike verwelkomingsbriefie teen die deur van die Old School House waarin boerin Bronwyn ons laat weet dat sy binnekort gaan kom kennis maak en dat ons ons gerus solank kan tuismaak. Old School House, met sy hoë plafon, is in 1911 deur die NG Kerk as ’n plaasskooltjie opgerig. In 2001 is dit omskep in ’n verblyfplek met drie slaapkamers waarin altesaam ses mense kan oornag. Daar is ’n bad en stort en ’n groot oopplan kombuis-sitkamer met ’n kaggel. En wat ’n mooie mens is dié Bronwyn toe! Viets en vrolik vertel sy vir ons hoe sy en Colin sestien jaar gelede hulle lewe in Kaapstad verruil het vir ’n boerdery-bestaan in dié bergagtige boendoes. Hier maak hulle hul twee kinders, Cole en Berkley, groot met volop vars lug en vryheid, goeie tuisonderrig en Karoo-hartlikheid.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Daar is skoolbankies uit ’n vorige era in die gang van die Old School House en foto’s van lank, lank gelede se onderwysers en leerlinge – borselkopseuns wat die grond verbou en langhaarmeisies wat naaldwerk doen. Teen die muur is ’n antieke kaart van Suid-Afrika, ’n spesiale boekversameling met werke van Shakespeare en versebundels van Leonard Cohen en Wordsworth. Nadat ons ’n vleisie en patats onder die sterre gebraai het, het ons gesin met ’n stapel boeke voor die kaggel ingeskuif – my seuns het geskaterlag terwyl my man ’n stuk of vyf Dr Seuss boeke vir hulle voorlees.

Die volgende dag het ons kort ná sonop die plaas te voet aangedurf. Vir byna twee ure het ons die voetslaanpad geneem verby Karoo-bossies en skitterwit kwartsklippe. Elke kort-kort het ons eers op ’n klip gaan sit om die uitsig oor die Swartberge te bewonder – die kranse se groewe en gleuwe het dit laat lyk asof iemand ’n lap met die hand gewring het. Honderde aalwyne en vuurpyle blom in die winter, brandrooi in die vroegdagson. Doer onder op die valleivloer was die Gamkarivier met sy groen oewerbome. Die oggend was te koud vir swem en te winderig om te kanoe, maar wat ’n piekniekplek!

Laatoggend het ons die ou skoolgeboutjie se deur vir goed agter ons toegetrek en al met die vlammende aalwyne langs terug na die beskawing gery. Net buitekant Calitzdorp het ons ’n draai gemaak by Bella de Sophia, ’n padstal-eetplek met ’n sin vir die shappy sjiek styl. Die atmosfeer was vriendelik, die kos heerlik en die porsies enorm. Roosterkoek? Check. Lamsbobotie? Check. Moerkoffie? Check. My man se hemp wat pas by die tafeldoek? Check. Raad aan reislustiges? Check dit uit!

Doendinge

Braai onder die sterre. Swem in die plaasdam. Vang vis in die rivier. Stap oor die berg. Lees by die kaggel. Honger jou uit vir ’n hartlike bord kos by Bella de Sophia. Verken die oermooi omgewing per voet, bergfiets of kar: Seweweekspoort, die Gamkapoortdam via Bosluiskloof, die Rooibergpas, Groenfonteinvallei, Kruisrivier, die Red Stone Hills, die Swartbergpas en Meiringspoort.

E-pos Bronwyn: bronwyn@riverviewcottages.co.za

Landlyn 044 2133 996

Selfoon 073 234 1374

Webwerf www.riverviewcottages.co.za

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

MSI Vakansieverkope: Maak die Perfekte Geskenk Oop Hierdie Seisoen!

MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…

1 day Gelede

Maak vanjaar jou beste jaar

Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…

2 days Gelede

Skoonheidsprodukte: foute wat almal maak

Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…

2 days Gelede

Maklike gemmerbier – sonder gis

Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.

2 days Gelede

Ken jou vonkelwyn

Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…

2 days Gelede

5 maniere om jou dag reg te begin

Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.