Dit is nou byna vier maande sedert dokter James van der Merwe, my plastiese sjirurg, vir my ’n nuwe regterbors gemaak het. Hy het die latissimus dorsi spier in my rug, met bloedvate en al, onder my vel na my bors deurbeweeg en ’n silikoon protese daaronder geplaas. Die resultaat is ’n nuwe bors wat deesdae al hoe minder na ’n Aspoestertjie lyk en meer na ’n meisie wat op pad is na die bal in die kasteel.
Die vel op mens se rug lyk ietwat anders as dié op jou bors in terme van kleur en tekstuur. Met tyd raak die verskil minder opsigtelik, was die belofte aan my. Dis die waarheid.
In dié stadium van die proses strek die elliptiese litteken op my bors van onder my armholte tot net voor my borsgleuf, die breedte van my hand. Die letsels is beslis besig om ligter te word. My vel is die kleur van ’n melkbottel, indien nie ligter nie, so littekens neem langer om in te skakeer. Asof dit enigsins saak maak. Ek het weer ’n regterbors. ’n Lekker vol, perky ene.
Die nuwe bors het geen gevoel nie, ook nie die vel onder my arm nie. In die begin is dit regtig eienaardig om weefsel-olietjies en deodorant aan sulke houterige goeters te smeer. Ek het vanoggend besef dat ek nie meer aan die houterige gevoel dink wanneer ek die nodige doen nie. My mondhoeke is nie meer afgetrek wanneer ek in die spieël kyk om te sien waar ek die olie smeer nie. Mens raak gewoond.
In sommige gevalle kan die tepel en areola behou word tydens die mastektomie, sodat die nuwe bors heelwat vinniger normaal voorkom. My tumor was ongeskik en onverantwoordelik genoeg om reg onder my tepel te sit. Daar was geen opsie anders as om die hele spulletjie te verwyder nie.
Dit word nou tyd om te begin dink aan die finale paar stappe in die reis na Madelein-se-voor-diagnose-borskas.
Aspoestertjie trek so ietwat na ’n blindemol so sonder die borsversiersels, die tepel en areola. Ek en my dogter giggel altyd omdat ek tans erg ‘pointless’ is. Maar daar is allerhande maniere waarop dié situasie beredder kan word. Sommige vroue verkies om nie ná die rekonstruksie verder te karring nie, doodtevrede om sonder dié versierseltjies aan te beweeg. Ander dapper vroue bring tatoes van blomme en vlinders en allerhande ander lieflike goed aan waar die tepel en areola moet wees. Daar is deesdae ook slim mense, regte towenaars, wat met driedimensionele tatoes ’n areola en tepel skep wat so realisties lyk dat mens stomgeslaan staan van skone verwondering. Mens kry ook tepelprosteses wat jy kan aansit en afhaal soos die bui jou pak. Dit lyk en voel glo wonderlik natuurlik. Maar, lief soos ek vir Fiona the Fake Boob was, het ek nou eers genoeg gehad van borsgoeters wat mens by die huis kan vergeet wanneer jy inpak vir ’n reis.
En dan is daar die sjirurgiese opsie. Ek is nie regtig bang vir operasies en naalde en ander skerp dinge nie, so dit is die roete wat ek gekies het. Plastiese sjirurge kan ’n tepel bou uit óf ’n deeltjie van die nuwe bors, óf weefsel wat gegaps word van ’n ander deel van jou liggaam. Dan, ’n paar maande na die tyd, kan mens vir jou ’n areola laat tatoeër deur ’n tatoeërkunstenaar wat spesialiseer in dié soort van ding. Die foto’s wat ek hiervan gesien het is ewe verstommend. Dit pas perfek by die vorm, grootte en skakering van die oorblywende versiersels.
Goed. So, dit is die stadium van die kankerreis waarin ek my tans bevind. Ek sal hierdie week by James ’n afspraak maak om te gaan uitvind watter wonderlike dinge hy vir my beplan. Hoe gouer, hoe beter. My einddoel is om 2017 af te sluit met twee mooigevormde borste, kompleet met versiersels op al die regte plekke.
Die diagnose en mastektomie was in Julie 2015. Dit voel gepas om die tweedelaaste stap in die reis nou uit te voer. Die tonguitstekery vir borskanker was nog altyd lekker, maar kyk, nóú krul hierdie vrou se tone.