Tydens my volgende besoek aan die onkoloog ontvang ek uitstekende nuus. Die kanker het nie verder as my limfkliere versprei nie. Ek het lus en steek vir die kanker tong uit. Daar kan nou besluit word wat die behandeling gaan behels. Mens kry verskillende soorte chemo en behandeling behels nie net een middel nie, verduidelik die dokter. Vir die eerste drie maande sal ek elke derde week hoë dosisse chemo ontvang en vir die tweede siklus van drie maande sal ek weekliks ‘n ander soort chemo ontvang. Die tweede siklus word gevolg deur vyf weke van daaglike bestralingsessies.
Die dokter deel met my en Jaun die lang lys moontlike newe-effekte van die behandeling. Dit sluit die mees gevreesde newe-effek in: haarverlies. Jou hare sal ongeveer ‘n week voor jou tweede behandeling begin uitval, word ek droogweg meegedeel. Geen probleem nie, my liewe dokter. Ek is toegerus met die mooiste (sintetiese) pruike wat ek in die hande kon kry. See the worry in MY eye!
Daardie aand beskou ek die vorm van my skedel in die spieël. Ek verken dit met my vingers. Daar is beslis ‘n gepunte agterkop hier aan die gang. Ek sweer ek het in die een of ander sci-fi-fliek ruimtewesens gesien met sulke lang agterkoppe. En daar is ‘n duik aan die linkerkant van my skedel ongeveer vyf sentimeter bokant my oor. Wat de ongeluk het my ma met baba-Madelein aangevang? Ek maak ‘n kopnota om te vra. Dat mens nou skielik soveel belangstelling in die vorm van jou eie kop kan ervaar, verwonder ek my.
‘n Week voor my eerste chemo-sessie stap ek by ‘n skoonheidsalon in Sandton in. Vandag word daar vir my wenkbroue in ink geteken. Daar word eers ‘n middel aan my wenkbroue gesmeer om die vel te verdoof en vyf minute later stap ‘n meisie in om my te red van ‘n kaal wenkbroulyn. Sy begin werk met ‘n toestel wat soos ‘n kranksinnige hommelby klink en dit is met die grootste inspanning dat ek nie opstaan en gillend weghardloop nie. Dis verdomp seer – selfs vir iemand met ‘n hoë pyndrempel! Dis net die gedagte aan die kombinasie van ‘n lang agterkop en geen wenkbroue wat maak dat ek die pyn met geknersde tande verduur. Skielik het ek ‘n diep eerbied en respek vir mense met baie tatoes. Sowat van dapperheid!
Chemo-dag breek aan en ek is bang. Benoude boude, soos my pa altyd gesê het. Maar daar is geen dapperheid in die afwesigheid van vrees nie, herinner ek myself. Dapper dié sal ek wees. Ná die administratiewe formaliteite by die onkologiesentrum word daar eers bloed getrek deur Drienie – ‘n moederlike engel van ‘n vrou met sagte hande en sagte oë. Sy gee vir my ‘n warm drukkie na die tyd en verseker my dat sy altyd beskikbaar is vir nog drukkies, sou ek dit nodig kry. Ek vermoed dat ek haar aanbod gaan aanvaar in die komende maande.
Daar sit reeds ‘n handvol mense in die swart leunstoele toe ek by Hoofkwartier instap, deur lyne gekoppel aan dripstaanders. Party mense slaap onder rooi komberse, ander sit en lees en sommiges sit en gesels met familie en vriende wat hulle vergesel. Wanneer daar oogkontak gemaak word, word daar geglimlag en gegroet. Ek en Jaun is nou deel van die familie.
Ek ontmoet vir Karin en Estelle, die susters wat die medikasie toedien en omsien na die pasiënte gedurende die behandeling. Ek het nog nooit vantevore sulke aangename mense ontmoet nie. Dit is asof hulle reguit uit die hemel neergedaal het om dinge vir die mense in hierdie vertrek so maklik moontlik te maak. Daar word gelag en geskerts met die pasiënte, die atmosfeer heerlik lig en ontspanne. Nadat Estelle weer die moontlike newe-effekte aan my verduidelik het, teken ek met graagte die vorm wat sê dat ek ingelig is oor alles wat moontlik met my kan gebeur en dat ek toestemming gee vir die behandeling. Sy slaag daarin om die newe-effekte te laat klink na iets wat alledaags en hoogs behandelbaar is. En sy is reg, besef ek later.
My eerste vrees word besweer toe Estelle met die eerste probeerslag ‘n aar vind. Daar word gelag en gesels terwyl die gif by my lyf begin inloop. Dis toe glad nie so erg nie.
In my geestesoog sien ek hoe die oorblywende paar kankerselle skreeuend na die heuwels toe hardloop. Madelein en chemo is op die oorlogspad.