Dis al laat. Ons sit in ’n lang ry, vaal en taai na ’n dag se werk. Sy selfoon lui – die polsende musiek heeltemal uit pas met sy bles en sestigplusser-lyf.
“Hallo Pops.”
Ek glimlag effens, en wonder of dit sy vrou of sy dogter aan die ander kant van die selfoon is. Mooi liefderyk, dink ek. Dan kom dit.
“Poppie, hoe was dinge vandag op kantoor? Pops, het jy onthou om die ouditeure te kontak?” Sy antwoord iets. “Maar Popsie, ek het dan spesifiek gevra dat jy vandag met hulle moet praat?” Ek sit ver, maar hoor hoe sy verduidelik. “Poppie, jy maak môre soos ek sê. Jy bel die man. Vroeg.” Weer probeer sy. “Goed Pops. Dis reg. En Andrea, stuur groete vir jou man.”
Poppie, Pops en Popsie het ’n naam én ’n man. Andrea is nie sy vrou of sy dogter nie. Weet ek nou, want hy sit die foon neer en sê vir sy geamuseerde, gemaak ongeïnteresseerde reisgenoot: “Werkers. Jy kan hulle net nie vertrou nie.”
Met dié gesprek gebêre in my kop gaan die lewe sy gangetjie. Dan lui daar weer ’n foon. “Middag. Ek hoor julle help met kommunikasie? Nou Liefie, sê my, kan jy vir my iets stuur om te verduidelik presies wat dit is wat julle doen?”
Hierdie Liefie se ore gloei. Ek sluk, en sluk weer. “Mevrou, dankie vir u belangstelling. My naam is Marí.” Ek’s nie jou Liefie nie, wil ek skree, maar doen dit nie. “Goed Liefie, ek hoor dan van jou?” Sy luister dalk, maar hoor niks, dink ek.
Ek het ’n sensitiewe streep, ek weet. Poppies, Liefies, Skatjies en Bokkies het nog altyd my hare laat orent staan, my bloeddruk laat styg. By die huis én by die werk. Ek het ’n naam, ’n mooi naam (vir my) wat Ma en Pa met sorg gekies het. Ek is nie jou Poppie, jou Liefie, jou Skatjie, of jou Bokkie nie. As jy my ma, pa, man, of kinders is, is ek watookal jy wil dat ek wees. Maar dan, net dan.
Met die Poppie, Liefie, Skatjie en Bokkie in my kop skok die wêreld verlede week tot stilstand. ’n Vliegtuig val. Grootmense en kinders sterf. Onnodig, onskuldig, onregverdig. My, en ander se koppe skuif.
Iemand ken iemand ken iemand ken iemand. Ek lees die stories van ontnugtering, skok, woede en intense pyn – sien en hoor hoe mense regoor die wêreld probeer sin maak uit die sinlose.
Dan die sinnetjie van ’n vreemdeling, in Hollands. “Jy was iemand se poppie, iemand se skatjie, iemand se liefie, iemand se engel – en nou is jy dit nie meer nie.”
My kop sak. Daar’s ander goed wat jou hare orent moet laat, jou bloeddruk moet laat styg. Weet ek.
Poppie, Liefie, Skatjie en Bokkie. Engel ook. Noem my wat jy wil. Maar práát. Práát oor dit wat saak maak.
Dalk, net dalk word ons wêreld ’n beter plek. Want iemand se Poppie, Liefie, Skatjie en Bokkie is weg.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za