Dit is die derde week ná my eerste chemo-sessie; tyd vir Sessie Twee. Al waarvoor ek bang is, is die naalde wat op my wag. Ek is altyd kastig nonchalant wanneer iemand bloed trek of ‘n drip insit, want ek is seker sissies maak dit moeiliker vir die mense wat die daad doen. Vir die volgende ses maande gaan ek gereeld onder die naald deurloop, so ek sal maar net gewoond moet raak daaraan.
Ek het my lang, blonde pruik aan. Alhoewel dit sintetiese hare is, is dit baie mooier en dikker as wat my eie hare was. Dié lê tans in ‘n rekkie vasgebind in my laai. Soos ‘n trofee.
Die bloedtrekkery verloop glad; die insit van die drip ook. Ek was verniet bang. Ek kry ‘n kapsule vir die naarheid wat gaan volg en die eerste sakkie vloeistof bevat ook ‘n anti-naarheidmiddel. Vir die volgende twee-en-‘n-half tot drie ure sal ek op die gemaklike swart leunstoel sit en probeer om ‘n boek te lees terwyl die gif by my lyf inloop. Jaun het tyd by die werk afgeneem om by my te wees en sy teenwoordigheid maak my sterk.
Met die boek vergete op my skoot sit ek na die ander kankerstryders en kyk. Elkeen van hulle het ‘n storie van lyding en dapperheid, van familie wat magteloos moet toekyk hoe hulle geliefde hierdie alleenpad stap. Ai, die stories wat ek oor hulle sal kan skryf! Oorkant my sit ‘n bejaarde oompie. Goedige gesig, vele glimlagge. Hy het limfklierkanker, vertel hy my. Is vrot van die kanker. Hy glimlag en skerts ten spyte daarvan en hy laat my hart gloei van trots oor die onoowinlikheid van die mens se gees. Al wat nodig is, is dat jy die Genade moet raaksien, vasgryp en vir jou vat.
Daardie middag het ek en Ina van Reik na Herstel ‘n afspraak met twee spesiale mans. Hulle is dansinstrukteurs by die Fred Astaire-dansskool. Ek is, saam met vyf ander kankeroorlewendes, uitgenooi om deel te wees van ‘n span wat geld gaan insamel vir kankernavorsing. Die fondsinsameling gaan ‘n formele dinee wees waartydens ons met ons instrukteurs baldanse en Latyns-Amerikaanse danse gaan uitvoer. Die mense van KANSA en Fred Astaire is besig om borgskappe te kry vir die aand. Deel daarvan is die instrukteurs wat hul tyd gratis afstaan om ons af te rig. Ek voel by voorbaat jammer vir my instrukteur. Ek het lank gelede gedans, maar dit niks in vergelyking met wat ek nou gaan doen nie. Ek sal nou die tangomoet leer uitvoer en dít terwyl ek chemo ondergaan. Mind over matter, Madelein, mind over matter.
Ek, Jaun en Ina ontmoet vir Dante en Darrel by ‘n koffiewinkel naby die plek waar ons gaan leer dans. Mooie mans. En aangenaam. Ek waarsku my instrukteur, Dante, dat ek twee linkervoete het en hy glimlag vir my en stel my gerus; hy leer gereeld linkervoetmense dans. Arme Dante. Hy het geen idee hoe lomp mý twee linkervoete is nie. Ons oefenskedule word afgespreek en drukkies word al in die rondte gegee toe ons afskeid neem.
Op pad huis toe tref ‘n vlaag naarheid my. Dit is erg. Ek sweet en my mond is droog en daar is geen gemmerbier in sig nie. Dit was die vorige keer nie so erg nie en die naarheid het my nie so gou getref nie. By die huis aangekom drink ek gulsige slukke gemmerbier voordat ek gaan lê. Miskien gaan die naarheid weg as ek horisontaal is. Dit werk nie. Ek drink een van die naarpilletjies wat Estelle vir my gegee het en na ‘n rukkie voel ek effens beter. Nog ‘n rukkie later en ek is rasend honger. Hierdie keer vra my lyf vir stysel en suiker. Nóú. Ek verslind die sushi wat Jaun vir my gaan koop asof ek weke laas iets geëet het. Ek gaan beslis gewig optel.
Die volgende oggend voor werk maak ek ‘n lysie van die voordele van chemo. Ek kan onmidellik aan vyf voordele dink. Die belangrikste hiervan is dat chemo briljant is daarmee om kankerselle te vermoor. Dankie, chemo. Met jou stap ek met vreugde ‘n pad van triomf.