Hooffoto: Verskaf/Cornél van Heerden
In Woensdagaand se episode van die geliefde sepie Binnelanders, het kykers ’n nuwe gesig in die sale van Binneland-kliniek ontmoet – die energieke verpleegsuster Cecile Vlok, vertolk deur Megan Vorster. Cecile, ’n sterk en selfversekerde karakter, het vinnig haar voete gevind en kykers se aandag getrek met haar vurige interaksies met die res van die span.
Vir Megan, wat verlede jaar haar dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, is hierdie haar eerste groot rol in die televisiebedryf.
View this post on Instagram
Sy beskryf die geleentheid as ’n droom wat waar geword het en die “big break” waarna sy nog altyd gesmag het.
“Dit het nog glad nie ingesink nie! Ek het al van kleins af Binnelanders saam met my ouma gekyk,” sê sy, “en nou om self deel van die reeks te wees, is vir my ’n bietjie unreal. Ek voel so bevoorreg om by van die beste akteurs in die bedryf te leer.”
Cecile se sterk persoonlikheid en werksetiek maak haar ’n opvallende karakter wat vinnig kykers se aandag sal trek. Megan vertel dat sy en Cecile in baie opsigte ooreenstem – veral in hul eerlikheid en selfvertroue.
“Wat ek die meeste van Cecile hou, is die feit dat sy niks sugarcoat nie. Sy is doelgerig, selfversekerd en vat haarself glad nie te ernstig op nie – in daai sin voel ek ons is baie dieselfde,” sê sy.
Karlien Meiring het met Megan gesels oor haar sepiedebuut en haar drome vir die toekoms.
Wat het jy oor jouself as aktrise geleer sedert jy hierdie rol begin speel het?
Ek het oorspronklik opleiding in teater gekry, maar gelukkig kon ek ook tydens my studies vir ’n semester oor toneelspel vir die kamera by die ongelooflike Cintaine Schutte leer. Sy het seker gemaak dat wanneer ek op stel stap, ek die terminologie ken en weet hoe ’n kamera op ’n mens se gesig voel. Behalwe vir dit, het ek ook geleer dat ek as ’n aktrise werklik aanpasbaar is. Dit was vir my die moeilikste om te multitask, en byvoorbeeld ’n drip te ruil terwyl ek my woorde moet sê, en om die balans te vind tussen om te hard te projekteer en te veel binnemonds te praat.
Wat het jou oorspronklik geïnspireer om ’n aktrise te word, en wie was jou grootste invloede?
Ek is ’n groot ekstrovert en het vroeg besef dat ek baie van aandag hou. Ek het baie erge AGHS en as kind het my belangstellings ook elke week in ’n ander beroep gelê. My arme ouers moes deur talle buitemuurse aktiwiteite sit! Ons het altyd gespot dat ek ’n “Jack of all trades, but master of none” is, totdat ek eendag saam met my beste vriendin vir dramaklasse begin gaan het. Toe click dit net: I’m right at home.
My grootste invloede was Meryl Streep in Mamma Mia!, en toe later Marlee van der Merwe (wat die rol van Ella in Binnelanders vertolk), in Liefling.
Was daar enige aspekte van die sepiewêreld wat jou verras het?
Genade, ja! Daar is ’n stigma rondom sepies en sepie-akteurs, en ek moet bieg, ek het dit gedurende my studies self geglo totdat dit my beurt was. Elke toneel word haarfyn beplan en jy kan op een dag se opnames vyf verskillende emosies vertolk in tonele wat direk na mekaar geskeduleer is.
Jy moet so gefokus wees as jy op stel is en daai fokus kan behou vir die hoeveelheid takes wat nodig is. Ek bewonder akteurs soos Odelle de Wet en Kate Roothman. Ek het al gesien hoe hulle on cue kan huil, dit vir ses takes ná mekaar doen, én dan direk daarna ’n komiese toneel skiet. ’n Mens vergeet soms ook hoeveel mense se harde werk dit agter die skerms verg om vir elke weeksdag ’n episode te kan uitsaai.
Wat is van jou grootste drome of doelwitte as aktrise?
As aktrise wil ek soveel verskillende rolle in soveel verskillende genres as moontlik vertolk sodat ek aan die einde van die dag kan sê dat ek alles probeer het. Ek sal my voortande gee om saam met Bibi Slippers, Christiaan Olwagen en Nico Scheepers te werk. Ek was besig met my honneurs in Writing and Directing toe ek opgeskop het om Binnelanders te kan doen, so as skrywer en regisseur sien ek ook baie uit daarna om lewe aan my eie idees te gee.
Wat is op die oomblik jou gunsteling-reeks?
Bob’s Burgers – dis vrek snaaks en lekker om ná ’n lang dag terug te sit en vir simplistiese goed te lag.
Skakel weeksaande om 19:30 in op kykNET (DStv-kanaal 144) vir die jongste drama en intrige wat in die gange van Binnelanders uitspeel.
Lees ook: Sterk, liefdevol en eerlik: Ilse Klink oor haar rol as Maggie in ‘Nêrens, Noord-Kaap’