Madelein Rust Bio
Ek het sedert Julie vanjaar goeie rede gehad om myself af te vra wie ek is. Ek het ’n lysie in my kop gemaak van al die dinge wat Madelein Rust omskryf.
Ma, eggenoot, middeljarige vrou, suster, vriendin, tannie, kollega, bedryfspesialis, kind, skrywer. En deesdae kankerpasiënt.
As ek dan nou ’n plakker op myself kan sit om in een woord aan te dui wie ek is, sal dit regtig voldoende wees om te sê Mens. Want daar is niks spesiaals aan enige van die ervarings op my lewenspad nie. Tot onlangs toe. En nou praat ek nie van die feit dat ek gediagnoseer is met borskanker nie. Meer daaroor later.
Grootgeword in Bloemfontein, hartjie van die Vrystaat, daar my man ontmoet, daar my kinders uitgebroei (soos Tanya en Nico dit noem), daar geskei en weer getrou, geleer, gewerk, mens geword, ma geword, vrou geword.
Vir baie lank was my lewenspad relatief voorspelbaar. Ek was statisties bestem om 1,5 kinders te hê, te trou, te skei, siektes op te doen, geliefdes aan die dood af te staan en self uiteindelik in my sewentigs die tydelike met die ewige te verwissel. Dis net dat ’n mens nie regtig talm op gedagtes rondom lewe en dood en lewensbedreigende siektes nie. In jou agterkop weet jy dis dáár, dit kan en gaan gebeur, maar jy dink so half bo-oor dit.
In November 2014 bring ek die laaste veranderinge aan in my tweede spanningsverhaal, Monstersaad. En ek dra die boek op aan kankerstryders. Ek skryf: “Want sommige soorte dapperheid is te groots vir medaljes en trofeë.” Soveel van my vriende, familielede en kollegas wat aan’t stry was teen kanker. Soveel stoïsynse dapperheid in die aangesig van aaklige siekte en die vooruitsig van dood lank voordat dit, statisties gesproke, tyd sou wees.
Die boek verskyn aan die begin van Julie 2015. ’n Week later word ek gediagnoseer met borskanker. En die woorde voor in my boek knipoog vir my en vra guitig: hoezit, is jy een van die dapperes? Hê?
In hierdie blog gaan ek skryf oor my reis saam met die Groot K. Want, glo my, ek het binne drie dae tot die besef gekom dat hierdie ’n reis der reise gaan wees. Ek moet dit deel. Dit is te goed om dit nié te doen nie.
Ek hoop jy gaan heerlik saam met my reis.
Madelein