Ek kies om te glo dat ons elke dag oomblikke kry wat ons kan raaksien of nie, kan onthou of nie. So het ek twee dae gelede onverwags en onbepland sommer ’n mandjievol onthou-oomblikke binne ’n kwessie van 4 ure present gekry en ek wil dit graag met julle deel.
Mrs. Jeong, die onderwyseres wat Koreaans onderrig by my een skool, bied vir my ’n saamrygeleentheid aan terug dorp toe. Haar Koreaans is beslis so goed soos my Afrikaans maar haar Engels is baie beter as my Koreaans. Dit gee dus ’n unieke manier van kommunikeer af en ek sukkel bietjie met al my armgebare in die klein spasie van die motor. Maar op ons rit van ongeveer 20 minute gesels ek en sy kopstukke oor die avontuur wat ek vir aanstaande jaar beplan. Met soveel opgewondenheid en opregtheid sê sy: “Your life is excellent!” Net voor ons die dorp binnery, vra sy: “Do you have promise tonight?” Ek moes bietjie kopkrap maar het tog gou gesnap sy bedoel: “Het jy dalk ’n afspraak vanaand?” In Korea het ek gou geleer om nooit “nee” te sê vir persoonlike uitnodigings van Koreane nie; ek kon dalk net ’n ongelooflike outentieke ervaring mis. Mrs Jeong: “We go to dinner? Me and you? My husband in Mokpo.”
Op haar vraag of daar iets spesifiek is wat ek wil eet, antwoord ek diplomaties dat ek lief is vir samgyeopsal, bibimbap, dakgalbi, bulgogi, samgyetang of selfs iets heeltemal nuut. Omdat sy man-loos was vir die aand, gee ek vir haar die keuse en sy besluit: “We will eat noodles.” So terloops vra sy my toe ook of ek bietjie wil rondry want sy ken ’n klein tempel ’n entjie se ry van ons dorp af. Ek dog toe dit kan ’n wonderlike avontuur wees om noedels by ’n tempel te eet.
Tipiese bergpaadjie in Korea
Ek dink alle tempels in Korea is in die berge gebou en Eunjeoksa tempel is geen uitsondering nie. Ons parkeer die motor en vaar die berg in te voet. In die donker. Want dis winter. Nou moet julle ook net onthou dat die Koreaanse vroue klein en fyn en superfiks is. Ek is ’n gesonde boeremeisie wat nog nooit van waterige sop en gefermenteerde groente hoef te gelewe het nie en dus sleep ek hygend my liggaam teen die berg op terwyl petite Mrs. Jeong flink en geluidloos langs my die (vinnige) pas aangee. As verskoning moet ek net sê dat ek ook my groot sak saamsleep, want ons gaan mos nou noedels eet. Halfpad teen die berg op, in ’n dowwe liggie tussen die bome, kom ons ’n monnik teë wat met sy twee honde gaan stap. Op daardie stadium laat ek egter die hele gesprek aan Mrs. Jeong oor omdat ek (1) nie asem het nie en (2) omdat die monnik nie een woord Engels praat nie.
Lewendig (maar sonder asem) bo aangekom is die hele tempelkompleks in donkerte gehul. Ek sien nêrens enigiets wat naastenby soos ’n restaurant of ’n “eating house” lyk nie. Maar ek vertrou my gids en weet iewers gaan ons ’n knus plekkie met lae tafeltjies kry waar ons (on)gemaklik op die warm vloer kan sit en eet. In die donkerte wys sy vir my ’n paar geboutjies en toe is ons sonder seremonie en sonder noedels weer bergaf. Net voor ons by die motor kom, kry ons weer die monnik en sy twee honde en daar is nog ’n gesprekkie in Koreaans. Ek dog nog sy vra hoekom is daar niemand by die restaurant nie toe vertolk sy: “You want tea with monk?” Soos ek altyd uitnodigings van Koreane aanvaar, aanvaar ek toe summier die tee-uitnodiging van die monnik en besef te laat dit beteken ek sal weer moet berguit. Maar ek hou my in en ek hou my gehyg so geruisloos moontlik. Gelukkig loop ons toe hierdie keer lekker stadig want monnike doen niks vinnig nie.
Julle sal maar moet wag vir aflewering 2 en 3 om te hoor van die res van die mandjie onthou-oomblikke van daardie wonderlike 4 ure. Hierdie deeltjie was vir my een van daardie onthou-oomblikke waar mens heeltyd jouself moet aanpraat om nie aan die giggel te gaan nie. Dit het heeltyd gevoel of ek myself in ’n komedie kan sien: Storm met swaar sak en lam bene asemloos in die donker die berg uit om te gaan noedels eet! En dit saam met ’n flukse vlindertjie van my jare wat stap asof sy al stappende gebore is. En van noedels is daar geen sprake nie!