Deur Bea Lingenfelder. Hooffoto: Orbon Alija/istock images
Wat gaan ek doen?
Ek het tot onlangs nie baie aanlyn gekoop nie, ek glo in aanpas en seker wees. Maar ek het agtergekom dat sommige aanpashokkies jou effe snaaks laat lyk en ’n invloed op jou keuse kan hê. Ek is 1,72 m lank en het nie baie kurwes nie, daarom sukkel ek soms om klere te kry wat goed pas en lyk.
Ek gaan in hierdie steekproef ’n paar stapelitems in die aanpashokkies van verskeie klerewinkels aanpas. Ek gaan my voorkoms beoordeel op die algehele voorkoms in die aanpashokkie met die verskillende faktore wat ek in ag moet neem.
Die faktore
Beligting in die aanpashokkie
Die dekor (kleur van gordyne, ens.)
Grootte van hokkie
Spieël
Wat gaan ek aanpas?
Twee stapels: ’n Jean en ’n wit T-hemp
Winkel 1 : Woolworths
Woolworths se ligte skyn ’n warm en dowwe kleur van bo, maar daar is darem twee versteekte buisligte aan die kante van die spieël wat meer lig op die onderwerp (jy) plaas en die skaduwees uitkanselleer. Die hoofspieël is slank, met ’n diagonale hoek sodat jy jou van die kant ook kan sien. Die ligte houthokkie het min versiering en kleure wat dit makliker maak om op jou klere en voorkoms te fokus. Die nadeel is die grootte: die hokkie is 2 m x 2 m, wat nie baie groot is nie, en het ook ’n klein rakkie aan die kant van die hokkie, wat jou beweegruimte ook beperk. Ek hou daarvan om my van ’n redelike afstand af te bekyk, maar hierdie klein hokkie laat jou van ’n hoër hoek af kyk wat jou liggaam effe verwring kan laat lyk.
Winkel 2: Miladys
Ek het onmiddellik opgelet dat die aantrekhokkies van Miladys ’n warmer gevoel as dié van Woolworths het. Dit voel meer intiem en luuks met ’n mat wat die vloer bedek, en die deur het ’n sagte sponsbedekking. Die vloere is wel effens besig met die strepe wat alle rigtings inskiet. Dit het my nie soseer gepla met die klere wat ek nou aangepas het nie, maar dit kan jou oog effens aflei as daar ’n sterk patroon op jou kledingstuk ook is.
In Miladys het ek ’n donker denim aangepas en het opgelet dat dit die buitelyne van my bene minder duidelik teen die donker agtergrond maak. Met minder kontras tussen jou item en die agtergrond, is dit dikwels moeilik om jou voorkoms eerlik te evalueer, omdat jou oog oor klein details gly. Let mooi op wanneer jy hier donker kleure aanpas, daar is dalk net ’n snaakse soom of stikwerk wat jy in die sonlig raaksien, maar in die hokkie misgekyk het.
Winkel 3: Foschini
Die eerste wat ek hier opgelet het, was die ruimheid van die hokkie. Die ligte skyn helder wat jou sommer ’n gloeiende voorkoms gee. Jy kan op die foto sien dat die hoofbeligting van voor af kom. Daar is ook baie plek om jou klere in alle bewegings uit te toets en ’n goeie algehele prentjie van jou voorkoms te kry. Die spieël bedek die hele muur aan die een kant wat die illusie van nog meer ruimte skep.
Daar is ongelukkig nie ’n sitplek vir diegene wat skoene wil aan- en uittrek, klere wil vou of net ’n blaaskansie wil neem nie. Die dekor is ook eenvoudig – ’n swart gordyn met wit mure hou die kleurskema neutraal en hoewel dit in sommige winkels moeilik sal wees om donker op donker te evalueer, vergoed die helder beligting in hierdie aanpashokkie daarvoor. Ek het opgewek en lewendig gevoel hierbinne.
Winkel 4: Edgars
Edgars se hokkie was die grootste. Hoewel jy nie ’n massiewe hokkie benodig vir aanpas nie, was dit lekker om jouself van elke afstand te kon bekyk. Daar is ook genoeg plek om baie klere op te hang. Die beligting was vir my net te dof. Daar is twee ligte aan die bokant wat baie skaduwee op jou liggaam gooi. Hierdie beligting is nie altyd vleiend nie en kan soms die verkeerde indruk van jou voorkoms skep.
Die dekor was ’n room en houtkleur met eenvoudige lyne en ’n simplistiese agtergrond wat die evalueringsproses vergemaklik het – ten spyte van die dowwe beligting.