Laurinda Hofmeyr het met ons gesels oor die rooi rose/Revlon SA-produksie ‘Landskap’ wat vanjaar by Aardklop opgevoer word. In hierdie produksie bied vier kunstenaars hul toonsettings van Suid-Afrikaanse digters aan, insluitend gedigte van Ingrid Jonker, N.P. van Wyk Louw, Fanie Olivier, Eugène Marais en Griekwa-psalms, onder andere.
Waaroor handel Landskap?
Anna Davel het ons bymekaar gekry. Almal van ons het al heelwat toonsettings gedoen, so dit gaan oor ’n verkenning van Afrikaanse gedigte en daardeur ook die fisiese en psigiese landskappe van ons land en onsself. Maar musiek is die medium waardeur dit gedoen word, so dis ’n heerlike affêre.
Hoe ken al die musikante mekaar?
Ek en Lizanne Barnard ken mekaar van ons universiteitsdae op Tukkies. Ons het albei musiek geswot. Ek het gedink niemand speel mooier as sy klavier nie.
Vir Anna Davel het ek rondom 1997 by KKNK ontmoet en later al hoe beter leer ken deur verskeie kuiers in die Paarl.
Ek ken vir Schalk Joubert vanaf 1999 toe hy betrokke geraak het by my eerste CD. Sedertdien speel hy konstant saam met my en is hy musikale regisseur van omtrent al my CD’s.
Kevin Gibson ken ek deur Schalk (soos ek almal leer ken het wat al saam met my gespeel het!) Hy en Schalk vorm my kern-orkes. Hy speel ook op drie van my CD’s.
Vir Leon Gropp ken ek nog nie so goed nie. Ek sien wel vreeslik uit daarna om saam met hom te werk.
Leer ken Laurinda se medesangers by Landskap. Kyk hier na ons onderhoude met Anna Davel, Lizanne Barnard en Leon Gropp
Wat dra elkeen van julle (saam met die begeleidingsorkeslede) by tot hierdie produksie?
Elkeen van ons se musiek klink anders, elkeen het ’n unieke “stem,” so daar is lekker afwisseling. Dan is daar Schalk (baskitaar) en Kevin (tromme) wat die atmosfeer van enige toonsetting kan vasvang met wat hulle doen omdat hulle met insig speel en natuurlik uiters vaardig is. Leon speel ook kitaar en ek en Lizanne speel klavier. Wat hierdie produksie so lekker maak, is dat ons mekaar begelei en ook saamsing.
Jy het jou loopbaan gekerf om toonsettings. Waarom is toonsetting vir jou belangrik?
’n Goeie toonsetting is soos ’n goeie voordrag wat help om ’n gedig duideliker of helderder te laat praat. Die voordeel van musiek daarby is dat die gedig soms makliker verteerbaar raak. Toonsettings kan ’n mens dus intrek om poësie verder te verken.
Hoekom het jy begin om gedigte te toonset?
Ek het van gedigte gehou en ek wou liedjies maak waarvan my vriende sou hou … dit was ’n logiese stap. Dit het ook gebeur na aanleiding van die kort strofes wat ons in die komposisieklas moes toonset (ek het musiek as vak geneem op skool).
Wat is die mees ingewikkelde ding van toonsetting?
Die uitdaging is seker om die gedig as liedjie te laat werk sonder om die gedig in ’n vorm of melodie in te druk. Die musiek moet uit die woorde groei maar op die ou end tog musikaal logies en lekker klink.
En die lekkerste deel?
Dis lekker om regtig diep te grawe in elke woord van die gedig, dis soos om te myn vir skatte. Hoe meer jy dink oor wat elke reël wil sê, hoe meer kry die gedig ’n kleur en begin jy ’n idee kry van wat jy met die musiek wil sê. Die lekkerste is natuurlik as ’n toonsetting sommer so vanself gebeur, as dinge in plek val sonder te veel moeite en jy weet dit werk.
Een van jou eerste toonsettings, Ek het ’n Huisie by die See van H.A. Fagan, is alombekend. Wat het jou getrek om dit te toonset?
Ek wou ’n liedjie maak waarvan my vriende sou hou, so ek soek toe in die Groot Verseboek na ’n gedig wat ek (toe 16 jaar oud was) kon verstaan …
Dié lied is ook daarna deur Laurika Rauch opgeneem. Hoe het dit gebeur?
My ma en haar pa is klein- neef en niggie, haar ma het my ma se trourok gemaak. Toe ek in st. 9 was, was daar ’n familiefees (die Laurie’s) waar ek haar ontmoet het. My ma het gesê ek moet vir haar “Huisie” speel en sy wou dit dadelik gebruik. Maar dit het toe eers gebeur toe ek in my tweede jaar op universiteit was, en ek klavierles gekry het by Wessel van Wyk, wat ook op daardie stadium haar begeleier was.
Jy kom uit ’n musikale familie. Vertel ons meer daarvan en is dit die rede waarom jy musiek as loopbaan gekies het?
Van my mooiste kinderherinneringe was wanneer my ma en pa saans by sagte lig musiek gemaak het, my ma op klavier en my pa op viool. Ek het ook baie musikale familielede aan my ma én pa se kant, waarvan die bekendste seker my niggies Zanta Hofmeyr en Malane Hofmeyr-Burger is.
Ek het musiek gaan studeer omdat ek die meeste talent in daardie rigting getoon het, en dis seker die gevolg van gene, wat met familie te doen het …
Wie is jou gunsteling- Afrikaanse digter? En het jy ’n gunsteling gedig?
Ek het gevind dat as ek deur die Groot Verseboek blaai, ek dikwels by Breyten Breytenbach vashaak. Een van my gunstelinggedigte is Vervulling van S.J. Pretorius wat ’n snit is op my CD wat ek wou sê.
Jy het ’n SAMA-benoeming vir jou eerste album Perd oor die Maan ontvang en verskeie ander toekennings, soos Geraas, vir jou musiek ontvang, asook die FAK-toekenning vir kultuurprestasie in 2008. Hoe voel dit om erken te word vir jou toonsettings? Dink jy toekennings dra by tot bewusmaking van musiek, veral dié wat dalk meer gerig is op niche-gehore (of musiek wat nie noodwendig hoofstroom-kommersieël is nie)?
Dis altyd lekker om erkenning te kry. Ek dink in ’n ideale wêreld moet toekennings net kyk na die kwaliteit van ’n CD, om sodoende die aandag te vestig op ’n produk wat verdien om geluister te word al is die kunstenaar nie noodwendig so bekend of gewild nie.
Wat was, tot dusver, hoogtepunte in jou loopbaan?
Dis definitief ’n hoogtepunt om saam met Anna en Lizanne ’n verhoog te deel!
Dan is die ander projek waarmee ek nou besig is ook nogal ’n hoogtepunt. Ek het toonsettings gedoen van Franse gedigte uit Afrika en die CD met die titel Afrique mon désir is op pad drukkers toe. Vir die eerste keer is ek deel van ’n groter projek, daar is “backing” en momentum agter my en daar word groter gedink as waaraan ek gewoond is. En ek sing in Frans!
Watter ander toonsetters bewonder jy?
Die mense op Landskap se verhoog, natuurlik!
Lees meer oor die produksie Landskap wat by hierdie jaar se Aardklop opgevoer sal word
Vertel ons meer van jou gesin.
Ek en my man, Jantjie, en dogter, Joanie (12), bly in die Paarl saam met ons twee brakke, Steffie en Herman. Hulle is my huis en my hart.
Wat het moederskap jou geleer?
Die tyd vlieg! Die lewe is kort.
Lees meer oor Laurinda se toonsettings van Breyten Breytenbach se gedigte
Lees ook watter raad Laurinda aan haar sestienjarige self sou gee