Om meer presies te wees: die splinternuwe zopiclones (Imovane, Zopivane, Zopimed, Z-Dom) en die zolpidems (Stilnox, Adco-Zolpidem en Ivedal) is maar net so nadelig vir jou as die ouer Valiums, Xanaxes, Xanor, Ativans, Lexotanils, Lexotans, Seconals, Rohypnols, Dormicums en Halcyons.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }’n Tikkie humor omgeef aanvanklik dié slaappille wat die z-middels genoem word. Die z, wat na die aktiewe bestanddeel daarin verwys, sou jou ook sommer heerlik en veilig laat zzz. Hulle werk boonop blitsig en voer jou binne twintig minute na droomland. En omdat hulle vinnig afbreek, is hulle binne ses uur uitgeskei. Geen hangover of newe-effekte die volgende dag nie. Wat meer kon ons slaaploses vra?
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Maar vanaf 2005, soos ons die z-groep beter leer ken, steek probleme kop uit. Ernstige probleme soos afhanklikheid, geheueaantasting, depressie, selfmoord, swakker koördinasie, selfs kankers en meer sterftes. En bowenal slegter slaap.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Hoekom gebruik so baie van ons hierdie middels, wat miljarde vir die farmaseute inbring en terselfdertyd die mediese fondse en ons dermiljoene kos, as dit so nadelig vir ons is? Is ons oningelig oor die nadele? Of onderskat ons die erns daarvan?
As jy begin lees op Pubmed, die webwerf waarop alle erkende navorsing gepubliseer word, skrik jy jou koud. Daardie z kan eerder jou gesondheid zap. Of op die beste zilch vir jou doen.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
• In Brittanje het zopiclone reeds ’n straatnaam: zim-zim. Volgens ’n Amerikaanse polisieverslag neem inbrake by bejaardes toe om slaappille te bekom.
• Een Britse rehabilitasiesentrum sê een uit twintig van hul pasiënte is spesifiek aan zopiclone verslaaf.
• In 2002 waarsku die Wêreldgesondheidsorganisasie Zolpidem is net so verslawend soos die ou benzos.
• In ’n ondersoek in Sleep (2011) waarin mense kon kies tussen ’n z-middel en plasebo het hulle vier uit elke vyf nagte die z-middel gekies. Hulle het dus gou ’n duidelike voorkeur ontwikkel, wat op verslawingspotensiaal dui.
• In 2006 identifiseer die nasionale Franse Centre for Evaluation and Information on Pharmacodependence twee groepe z-afhanklikes: dié wat hul angs verloor, in beheer voel en eufories raak; en dié wat al meer nodig het om aan die slaap te raak.
• ’n 2012 ondersoek van die beroemde Scripps-instituut op 35 000 mense span sekerlik die kroon: ná net dertig maande op z-middels is jou kans om te sterf 4,6 keer hoër as vir nie-gebruikers. En gestel jy gebruik slaappille net af en toe? Onder die groep wat 18 – 132 z-pille per jaar gebruik – drie weke tot drie maande – was die sterfterisiko reeds 3,6 keer hoër. Langer termyn gebruikers se risiko was vyf keer hoër, en hulle skat tot 500 000 Amerikaners sterf per jaar weens z-slaappille.
Is die sterfsyfer hoër omdat die meeste gebruikers bejaardes is, wie se kans om te sterf klaar hoog is? Die span sê nee, want ekwivalent gesonde gebruikers en nie-gebruikers is vergelyk.
• Boonop wys dieselfde ondersoek die kankerrisiko op veral limfoom, long-, kolon- en prostaatkanker is 35% hoër onder z-gebruikers. Mense wat reeds kanker gehad het, is uitgesluit; dus word die oormaat kankers aan z-middels gekoppel. Selfs kommerwekkender: dié ondersoek het gebruik net oor dertig maande gemonitor. Wat gebeur as mense jaar in en jaar uit z-middels neem, soos talle bejaardes?
• Is dit normaal vir bejaardes om vaag oor onlangse gebeure te wees? Omdat ’n hele aantal ondersoeke wys z-middels verminder veral REM-slaap is daar ’n sterk vermoede – en sommige sê oorgenoeg bewyse – dat z-middels geheue aantas.
• Nog ’n sorgwekkende assosiasie: die nie-benzos word aan depressie gekoppel. ’n Sweedse ondersoek onder 200 000 bejaardes wys die risiko op selfmoord onder bejaardes op z-middels is vier keer hoër as onder bejaardes daarsonder. Bejaardes op die ou benzos se risiko was selfs hoër: 14 keer. Daar was geen verband tussen antidepressante en selfmoord nie.
• In nog ’n ondersoek was infeksies soos keelseer, rinitis (loopneus) en sinusitis 68% meer algemeen onder z-gebruikers as onder nie-gebruikers.
• In dieselfde ondersoek is ook gevalle van hoër bloedsuiker, hartpyn en nierstene opgespoor, terwyl die nie-gebruikers geen gesondheidsprobleme ontwikkel het nie.
• Zolpidem-gebruikers het meer sooibrand en maagsere as nie-gebruikers.
• Verskeie ondersoeke toon z-middels kan balans en koördinasie die volgende dag aantas, al is dit uitgewerk. Die kans op ’n val is 2,6 keer hoër by z-gebruikers.
Die verrassendste is dat hoe langer jy z-slaappille gebruik, hoe slegter sal jy waarskynlik slaap.
• Die eerste z-ondersoeke het drie tot twaalf weke geduur. Die korttermynresultate ís indrukwekkend, met van 25-63 minute meer slaap en ’n totale slaaptyd van rondom ses uur per nag. Die z-gebruikers het ook gou ingedommel: binne 12-19 minute, teenoor tot 43 minute by nie-gebruikers.
Op lang termyn verander die prentjie dramaties. Ná ’n jaar, wys ’n 2009 Sweedse ondersoek, neem dit zopiclone-gebruikers gemiddeld 38 minute om aan die slaap te raak, teenoor net 7 minute by goeie slapers. Hulle lê ook 114 minute snags wakker, teenoor 44 minute by nie-gebruikers; en dan het hulle maar net 55 minute van die goeie nie-REM slaap gekry wat geheue bou, teenoor nie-gebruikers se 120 minute.
• In ’n 2005-artikel in die British Medical Journal bevind navorser Jennifer Glass dat z-gebruikers 3,82 keer meer kla oor moegheid die volgende dag, al het hulle gemiddeld 25 minute meer geslaap.
• ’n Onlangse Britse hotelverslag sê slaapwandelary neem opvallend toe onder hul gaste.
• En dan het talle mense stories om te vertel: Mariëtta Fereira, ’n skakelbeampte, was verlede jaar vir ’n konferensie in Washington.
“Ek sou Saterdag vlieg, Sondag land en Maandag begin. Ek wou vars en uitgerus wees. Dus het ’n slaappil ideaal geklink. Gelukkig het ek die Zopivane vooraf probeer – ek het nog nooit slaappille gebruik nie. Dit was ’n ramp. Die volgende dag was ek soos ’n zombie. Dit het gevoel asof ek hoog trap, soos iemand wat te veel gedrink het. Ek het toe Zolpimed probeer. Dié keer was my toetsnag wonderlik, en ek was reg vir Washington. Dit was interessant maar agterna het ek begin wonder: woorde was heeltyd op die punt van my tong, en toe ek agterna die transkripsies deurlees, kon ek sien hoe baie ek in frases eerder as in volsinne gepraat het. Sou ek beter gevaar het as ek maar net gewoonweg sleg geslaap het?”
Kobus en Hanli Marais reis gereeld vir werk Londen toe. “Kobus neem ’n slaappil vir die nagvlug. Na my mening reageer hy die volgende oggend stadig en is hy opvallend ongekoördineerd. Ek laat hom nie toe om te bestuur nie omdat hy ’n risiko op die pad is.”
Die aanvanklike vermoë van die nie-benzos om jou blitsig aan die slaap te kry hou sy eie risiko’s in, soos Cora Strydom (72) ervaar het. “Ek het nie besef hoe vinnig die pil werk nie en het amper in my eie bad verdrink. Ek het my pil gedrink en toe gaan bad – ’n lekker diep, vuurwarm bad vir die koue Karoonag. Gelukkig het my man kom kyk hoekom ek so lank wegbly. Ek het glo afgesak, met my mond net-net bo die water. As ek alleen gewoon het, het ek vir seker verdrink of verkluim.”
Vermoedelik is dit hoe Whitney Houston in háár bad verdrink het.
Wat dan van al die navorsing wat ons, ons dokters en al die beheerrade wêreldwyd oortuig het die nie-benzos is veilig? Het die naam ons gesus? Nié-benzo impliseer immers die z-middels werk anders as die benzos.
Dr. Chris Verster, psigiater by US gesondheidswetenskappe glo dié aanname is onrealisties: “Al werk die twee soorte op verskillende plekke van die GABA-breinreseptors, werk hulle op dieselfde breinsentrum. Hulle kán dus dieselfde uitwerking hê.”
Dr. Daniel Kripke van die Universiteit van Kalifornië is ’n wêreldbekende navorser op slaappilverwante sterftes. Hy glo heelwat navorsing oor z-pille is skeef omdat die farmaseute wat slaappille vervaardig dit finansier. So het die farmaseute 51 uit die 56 ondersoeke wat tot 2007 gedoen is, ondersteun. Vir ander psigiatriese middels is die bedryf by 30% – 50% van ondersoeke betrokke, wat baie meer objektiwiteit afdwing.
Tog lyk die bedryfsgesteunde navorsing net so betroubaar soos suiwer akademiese navorsing. Albei verskyn immers in vooraanstaande mediese joernale wat artikels streng keur. Waar lê die probleem? Kripke verduidelik die navorsing is subtiel gestruktureer om die kanse op ’n positiewe uitslag te verbeter, soos om groot gewig aan klein voordele te gee.
’n Ander taktiek is om deelnemers sélf te laat oordeel oor die voordele van hul slaappil, eerder as dat ’n navorser objektiewe, meetbare waarnemings maak. Deelnemers moet byvoorbeeld soggens aanteken hoe lank dit hulle geneem het om aan die slaap te raak. Of dan eintlik skat. Dit is immers onmoontlik om te kyk presies hoe laat jy wegdommel. So is tydverloop boonop subjektief: vyf minute kan veral laatnag vir my baie langer voel as vir jou. Hulle moes ook self aanteken hoeveel keer hulle snags wakker was, terwyl die middel juis geheue onderdruk in die ses tot agt uur wat dit aktief is.
Dan is daar selektief verslag gedoen. Die besprekings en gevolgtrekkings gaan byvoorbeeld net oor hoeveel meer ure mense slaap, terwyl negatiewe waarnemings wat na vore kom, soos depressie of verkoue-tipe simptome, geïgnoreer is.
Die farmaseutiese maatskappye sê hulle het gewis niemand mislei nie: hul slaappille is net vir drie weke se gebruik goedgekeur. As jy dit langer gebruik, doen jy dit op jou eie risiko.
Vra rond, en baie mense sal jou vertel hoe heerlik ’n z-pil hulle laat slaap. En hulle is skerp en gesond. Is slaappille nadelig vir ons almal? Of net vir party?
Dr. Verster sê slaappille het besliste nadele. Een daarvan is geheue-aantasting, wat veral vir ons ouerwordende gemeenskap ’n groot kommer is. Ons wil immers helder van verstand oud word en na onsself kan omsien.
“Ons sien beslis geheue-aantasting by baie mense op die ou langwerkende benzos soos Valium.”
En op die nuwe z-middels, wat vroeg soggens uitgewerk is?
“Ons weet nou hulle verminder REM-slaap. Dit is die slaapfase waartydens veral jou korttermyngeheue vasgelê word – vandag se gebeure, jou ervarings, waarnemings, emosionele reaksies en wat jy gedoen en gesê het. Jou vermoë om probleme op te los op grond van vorige ervarings is ook afhanklik van hierdie slaapfase. Met minder REM-slaap is geheue-aantasting baie waarskynlik, en veral as jy die pille oor dekades gaan gebruik. Ons sien dat veral mense wat reeds geheueprobleme het die ergste aangetas word.”
Slaapneuroloog Pierre van der Merwe van die Durbanville-slaapkliniek sê slaappille is altyd “tweede keuse”. “Verreweg die meeste mense kán herleer om natuurlik te slaap en moenie met slaappille begin nie. Gebruikers saal hulself net op met probleme soos terugslag slaaploosheid en slaapmiddelgeïnduseerde slaaploosheid. Ons sien albei baie gereeld by ons kliniek.”
Mense met eersgenoemde raak ongelooflik moeilik aan die slaap as hulle ná ’n paar maande z-middels staak. Mense met laasgenoemde kan nie daarsonder aan die slaap raak nie maar lê terselfdertyd snags ure lank wakker. Hulle slaap dus sleg en min daarop.
“Tot 40% van slaaploses ly aan slaapapnee – nie slaaploosheid nie. Slaappille is dus die verkeerde oplossing.”
Dr. Weich sê ná sowat ses weke slaap min mense werklik beter op hul slaappil. “Hoe langer jy hierdie middels gebruik, hoe groter is jou risiko op toleransie, en het jy al meer pille nodig om aan die slaap te raak. Dan kom vra pasiënte meer, en loop hulle die risiko om werklik verslaaf te raak.
“Dit is ook nie maklik om slaappille te staak nie. Onttrekking kan selfs gevaarlik wees.
“Nogtans moet ons nie slaappille demoniseer nie. Vir die regte pasiënt op die regte tyd is dit ’n kosbare hulpmiddel. ’n Kursus van twee weke kan byvoorbeeld mense help om ’n siklus van slaaploosheid te breek terwyl hulle nuwe, beter gewoontes aanleer.”
Dr. Gerbus Muller van die US Gifsentrum sê mense wat reeds jare lank op slaappille is, moenie summier staak nie.
“Kyk of jy een of twee nagte per week daarsonder kan klaarkom. Of verminder jou dosis baie geleidelik, sê met ’n kwart pilletjie per week. Werk terselfdertyd aan goeie slaapgewoontes.”
Dr. Weich sê as jy slaappille moet gebruik, maak so:
• Wees altyd bewus daarvan dat jy met ’n gewoontevormende middel werk.
• Gebruik die ligste dosis moontlik.
• Beperk jouself tot drie weke. Sien dit as jou grasietyd om die regte oplossing vir jou soort slaapprobleme te kry sodat jy daarna na natuurlike slaap kan oorskakel.
• Moenie z-pille nag vir nag gebruik nie. Jy is minder geneig om hulle gewoond te raak as jy dit een of twee nagte drink en dan weer ’n paar nagte oorslaan. So bly die pille ook langer effektief.
• Moenie al meer pille gebruik nie. As jy al meer pille begin nodig kry, kry hulp vóór jy afhanklik is.
• As jy slaappille langer wil gebruik, vra jouself af: hoekom? Wat regverdig dit? En stem jou dokter saam?
• Onthou slaappille en alkohol is ’n dodelike kombinasie. Slaappille kan ook met ander medikasie inmeng waaronder sekere antibiotika, en sommige middels vir bipolêre depressie, depressie en epilepsie. Om jou slaappille te los is moeilik, selfs gevaarlik, en behels ’n komplekse proses. Kry professionele hulp by jou dokter.
Suzette en Skye: Sielsmaats met die liefde saamgesnoer Suzette van der Merwe…
Vanjaar se kortlys, wat van dié jaar se gemoedstoestande en gesprekke opsom, is deur OUP…
Goeie kommunikasie in ’n verhouding laat die liefde blom. Maar soms eindig verskille in ’n…
Deur Rediscover Dairy Voorbereidingstyd: 5 minute Gaarmaaktyd: 20 minute Bedien: 4 porsies Porsiegrootte: 300…
Riaan Grobler, ’n geliefde radio-omroeper by Pretoria FM asook bekende skrywer en sanger, bewys weer…
Bestanddele 45 ml (3 e) olie 4 klein lamskenkels, die sening afgesny 2 wortels,…
Hierdie webwerf gebruik koekies.