Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 9 deur Sunita McDonald
Haal in met die vorige hoofstukke! Loer hier
Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 9
Die hele seisoen se verwagte lentereën het klaarblyklik in een week geval en ons tuin in ’n modderbad omskep. Dit tot groot vermaak van my kinders wat binne vyf minute van buite wees kan lyk asof hulle ’n volle 80 minute op ’n nat Nuweland rugby gespeel het. Dit het my, die kaptein van die wasgoedspan, van berge vuil klere en hardnekkige moddervlekke besorg en hoofbrekens gegee weens ’n tekort aan wasgeriewe.
Tot dusver het ons ’n paar maal per week gebruik gemaak van die wasmasjiene buite Intermarche (’n plaaslike supermark) – en wat ’n briljante idee om ’n wassery as deel van jou supermark te hê! Jy kan jou wasgoed inlaai, betaal, die deur sluit en dan inkopies doen terwyl die wasmasjien sy taak verrig. Sommige van die ‘slimmer’ wasmasjiene stuur selfs ’n SMS na jou foon wanneer dit die einde van die siklus bereik. Na ’n uur pak jy eenvoudig jou skoon wasgoed en inkopies saam in die kattebak. Vir iemand (soos ek) met ellelange lysies van take wat gedoen moet word, is hierdie sommer twee vlieë met een klap!
Dit word egter ietwat van ’n groter probleem wanneer die skedule van inkopietye en ’n kreunende wasgoedmandjie nie ooreenstem nie. Middernagwasse (met my man wat ’n uur in ’n parkeerarea sit en wag) het meer en meer algemeen geword en die vereiste van ’n wasmasjien by die huis het noodsaaklik begin lyk. Ons kon nie die wasmasjien wat ons vroeër gekoop het installeer nie, want ons het pypverbindings nodig gehad wat moeilik was om te bekom met die geslote hardewarewinkels.
’n Mens kan op die oomblik slegs items van die winkels se aanlyngids bestel en dan buite oplaai met grendeltyd reëls. Dit kan nogal frustrerend wees wanneer alle pypverbindings nie aanlyn beskikbaar is nie en op hierdie stadium het ek begin verstaan hoe belangrik ’n 16-16-16 T-verbinding is teenoor ’n 16-14-16 een! Ons het uiteindelik verlede week ’n winkel gevind wat kon help met die broodnodige items. Die wasmasjien is toe gekoppel in die grondvloer-buitekamer waar ons besig is om ’n deel van die vertrek in ’n tweede badkamer te omskep.
Ek en my man het oor die jare ’n hele paar wasmasjiene gekoop, maar dit blyk dat die opwinding van nuwe elektriese toestelle nooit afneem nie. Ons wou sommer dadelik die nuwe wasmasjien in die werk steek en met drie kinders was daar geen tekort aan vuil klere vir die toetslopie nie! Ons het dit vol gelaai, aangeskakel en my man het teruggekeer na sy taak om die werksoppervlakke in die kombuis met lynsaadolie te behandel.
Tydens die spinsiklus het ek onraad vermoed en vir my man gesê die wasmasjien maak darem nou vreemde geluide. ’n Ma weet gewoonlik wanneer haar kinders ’n uitgelate, prettige gilletjie of ’n ernstige ‘eina’ gilletjie gee … net so leer ken ’n vrou oor die jare die goeie en minder goeie geluide van haar elektriese toestelle! Ek en my man het saam ondertoe gegaan om te gaan kyk en die gewigtige masjien was inderdaad in ’n penarie! Op die een of ander manier het dit ’n 180-grade draai gemaak en die elektriese kabel en pyp reg rondom die masjien gedraai. Die arme ding moes benoud gewees het want dit was die ene bewerasie! My man het heldhaftig die masjien vasgegryp om dit op een plek te probeer hou, maar die masjien wou ’n riel dans!
Die insident het darem sonder enige ongevalle geëindig, maar ons het ’n dure les geleer – verwyder maar altyd die gladde polistireen aan die onderkant van ’n nuwe wasmasjien voor jy dit gebruik. Sodoende sal jy verhoed dat jou wasmasjien in ’n kranige ballerina ontaard! Genadiglik was daardie kabel en pype lank genoeg om die eerste pirouette te weerstaan anders was dit terug na middernag wasse by supermark-wasmasjiene vir ons!
Op die onderwerp van supermark: ek het vir weke uitgestel om lojaliteitskaarte te kry vir die winkels. Hoekom? Ek was bloot te bang om Frans te praat in ’n meer formele situasie. Hierdie week het ek egter besluit dis tyd! Gewapen met ’n paar sinne wat ek vooraf neergepen het, het ek toe na die kliëntediens toonbank toe gegaan en gevra of ek aansoek kan doen vir my kaart. Die dame was vreeslik vriendelik en het aanhou gesels oor die reën, hoe lank ons al in die dorp bly, so jammer ons kom in so ’n buitengewone tyd in Frankryk aan … My ore het getintel, maar nie oor die aanhoudende gebabbel nie, maar eerder die feit dat dit nie ’n Babelse verwarring was nie! Ek kon die grootste deel van die gesprek verstaan!
Sy het seker lanklaas iemand gesien wat so opgewonde was om ’n winkelkaart te ontvang, maar vir my was daardie stukkie plastiek sommer ’n simbool van baie meer. Miskien was ek gelukkig dat sy toevallig oor dinge gepraat het wat ek verstaan het, maar hoe dit ookal sy, dit het my moed gegee om die volgende kaart ook te gaan kry! Wanneer ek nou vir my inkopies betaal en hulle vra of ek ’n carte de magasin het, bring ek dit met ’n breë glimlag en ’n bevestigende ‘oui’ tevoorskyn!
Die gendarmerie was alweer in die prentjie gewees, so ek kon my Frans ook toets op die manne van die gereg! Verlede week was ek besig om vensters skoon te maak toe ek skielik die polisievoertuig buite gewaar. Ek het benoud na my man geroep en sy gesprek met die polisieman by die hardewarewinkel twee weke gelede onthou. Wat was nóú die probleem? Ons het in ons beste Frans gegroet, verduidelik dat ons nie baie goeie Frans kan praat nie (dis darem nie ’n kriminele oortreding nie!) en gevra hoe ons kon help. My hart was in my keel en ek het gewonder of ons dalk te ver van die huis af gestap het, of ons ritte na die hardewarewinkels miskien geklassifiseer word as pas essentiel (onnodig) of het iemand dalk gekla oor die geskree van die elektriese saag …?
Hulle wou egter net weet of ons enige iemand in die veld of in die murasie langs ons erf gewaar het. Die aangrensende stuk grond behoort aan die munisipaliteit en aangesien mense veronderstel is om in hul huise te wees, is die groepie wat daar bymekaargekom het aan die polisie gerapporteer. Blykbaar was dit ’n groepie tieners wat nie die sosiale afstand-riglyne gehandhaaf het nie. Dit moes maar ’n rustige partytjie gewees het want ons het niks gesien of gehoor nie.
Wat ek wel nou elke aand hoor, is die geroep van ons uil. Ek het ook al ’n paar dowwe plofslae gehoor in die aand wat klink asof hy op die uilboks land wat ons vir hom gebou het! Ek hoop dat Meneer Uil vir Mevrou Uil in die laatlente sal saambring en dat hulle van die uilboks gebruik sal maak as ’n veilige tuiste vir ’n paar oulike uilskuikens.
My eie mensekuikens het ’n aand van ‘bad in ’n emmer’ beleef toe ons verlede week die badkamermure geteël het. Die gom en vulsel moes oornag uitdroog en met net een badkamer op hierdie stadium was ’n emmer die enigste uitweg. My dogtertjie het mooi in die emmer gepas en het gelyk asof sy ’n model was vir een van die outydse Pears seep-advertensies. My eie emmerbad was ietwat minder glansryk! My man wou so ewe die oomblik vasvang op kamera ‘’om ons in die toekoms te herinner aan al die moeilike oomblikke wat ons moes deurmaak’’ maar ek het hom die dood voor die oë gesweer!
’n Oomblik wat ek wel op kamera vasgevang het, is een van ons mees besondere ontdekkings tot dusver in die kasteel. Pragtige fresco-skilderye blyk vir jare weggesteek te gewees het agter die muurpapier in die kamer wat ons beplan as die hoofslaapkamer. Die tonele van ’n dorpie, torings, bome ens. is klaarblyklik op die nat pleister geverf tydens die bou van die kasteel (wat terug dateer na 1536) en ek is in verwondering dat dit behoue gebly het oor die jare. Ons moet meer uitvind oor die bewaring daarvan, maar wat ’n wonderlike onverwagte skat om te ontdek in hierdie pragtige plek!
Ons leer daagliks meer: meer Frans, meer oor restourasies, watter hout om nie in die kaggel te brand nie, watter olie om te gebruik om eikehout donkerder te maak, meer oor ons dorpie, meer oor die land … Daar lê nog ’n lang pad voor, maar soos my pa gesê het: ” ’n tog om die wereld begin met die eerste tree en swem oor baie oseane …”
Nous continuons à marcher en hou terselfdertyd kop bo water hierso! Ek hoop elkeen van julle ook! x