Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 8 deur Sunita McDonald.
Haal in met die vorige hoofstukke van Ons lewe in ’n Franse kasteel – klik hier
Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 8
Bonjour vanuit die sonnige suide van Frankryk waar ons steeds onverpoosd bou en werkskaf!
Diegene wat ons sedert die begin van ons avontuur volg, sal dalk onthou dat die grootste deel van ons werk aanvanklik aan die westekant van die huis plaasgevind het waar daar drie dépendances (buitegeboue) was.
Ons vermoed die geboue is heel moontlik in die verlede as skuiling vir diere en stoorplek gebruik, want daar was slegs openinge sonder ruite (’n paar het wel hortjies voor die openinge gehad) en klipvloere wat deur die jare met grond en stof bedek is.
Ons het ’n wooneenheid nodig gehad wat so gou as moontlik bruikbaar kon wees vir ons gesin sodat ons met die restourasie kon begin. Ons weet van verskeie mense wat in karavane woon terwyl hulle ou geboue in Frankryk restoureer, maar met drie kinders was dit nie ’n langtermyn-opsie vir ons nie.
Die idee om die buitegeboue in ’n woonstel te omskep was die volmaakte oplossing om ons gesin weg te hou van die ergste stof en chaos terwyl ons aan die hoofdeel van die kasteel werk.
Die buitegeboue beslaan ongeveer 200 vierkante meter en ons moes besluit watter gedeelte ons wil omskep in die beplande woonstel. Die kamer bokant die boog was eens deel van die kasteel se woonkwartiere, maar die hele vloer was verbrokkel en was dus onbegaanbaar. Dit was so gevaarlik dat iemand (moontlik die vorige eienaar) danger op die muur daar onder gespuitverf het as waarskuwing.
Die aangrensende deel kon slegs met ’n leer bereik word en het ook ’n ou houtvloer gehad wat onheilspellend onder jou voete gekraak het. Die geluid was genoeg om my hart op hol te jaag en sweetdruppels op my voorkop te laat pêrel toe ek in die middel van die vertrek beweeg het om afmetings te neem. Ek het dikwels gedink ek sou dalk ’n verspring rekord kon verbeter as daardie vloer skielik sou meegee!
Dit was ’n yslike taak om die ou vloer versigtig te laat inplof en ’n nuwe vloer te bou, maar dit was die eerste tree om dit veilig genoeg te maak en gereed te kry vir die nuwe vloerbalke. Daarna het ons vensters met drievoudige glas ingesit en die dak en mure herstel en geïsoleer.
Die nuwe kaggel is geïnstalleer en die lekkende vlamme verleen nou elke aand ’n gesellige atmosfeer. ’n Nuwe plafon met lambris (houtpanele) het die dak aan die binnekant afgerond en ’n groot, swaar, rooi eikehoutdeur het die gebou aan die buitekant afgerond.
Daar is nou elektrisiteit en water, asook ’n kombuis en ’n badkamer.
Dit het net nie vir my afgerond genoeg gevoel om ‘toe’ en ‘nou’ foto’s te deel nie, maar die grendeltyd wat oor ons hang beteken dat ‘nou’ dalk net te ver in die toekoms lê. Dus het ons verlede week besluit om die mure te verf, die nuwe houtvloer in te sit en meer foto’s van die harde werk wat in hierdie klein gedeelte van Château de Capelle ingegaan het, te deel.
Dit was ’n tydsame proses maar só die moeite werd! Van ’n koue, donker dépendance met ’n verbrokkelende vloer na ’n snoesige, veilige tuiste vir ons gesin, al is dit tydelik. Daar is steeds ’n ellelange lys van dinge wat gedoen moet word, maar ons is tevrede om te sien hoe ver ons gevorder het ten spyte van die beperkings weens grendeltyd.
In hierdie tyd kan dit ’n uitdaging wees om boumateriaal te bekom, en as jy nie versigtig is nie, kan dit jou dalk selfs ’n rit in ’n polisievangwa besorg!
My man het een middag na ’n hardewarewinkel gegaan om ’n bestelling te gaan afhaal. Die gebruik is deesdae dat jy aanlyn bestel en die winkel jou bel wanneer die bestelling gereed is. Werkers in beskermende pakke en maskers bring die goedere uit terwyl jy in jou voertuig sit en jy laai dit op wanneer hulle weer weg is. By die winkel wat nou ter sprake is, het dit egter blykbaar anders gewerk …
My man is deur ’n ongeduldige skare begroet wat almal in ’n wanordelike bondel saamgedrom het in afwagting op hul bestellings.
Na baie jare in Engeland, waar die Britte die kuns van toustaan vervolmaak het, was ’n chaotiese samedromming van Franse ambagsmanne en doen-dit-self-entoesiaste ’n nuwe ervaring vir my man. Hy was egter ook nie links nie, het gedink “when in Rome…” en homself by die skare gevoeg maar steeds versigtig sy twee meter afstand gehandhaaf.
Dis toe dat hy begin agterkom dat die ongeduldige geruis van stemme eintlik ’n klompie polisiemanne was wie se geduld nou byna breekpunt bereik het met die skare. Een van hulle het die mense beveel om terug te klim in hul voertuie, maar die klante wat reeds byna ‘voor’ was, was nie op daardie punt so gretig om om te draai nie.
My man het besluit om ’n kans te waag en te sien of hy ook gou sy bestelling kon kry. Die gendarmerie gewaar toe die nuweling en sê hom aan om in sy voertuig te klim. My man het sy geoefende reël van: “Pardon, je parle qu’un peu de francais” probeer maar die man in blou het hom vinnig in perfekte Engels laat verstaan wat hy van hom verwag.
My man het toe maar die aftog geblaas en besluit grendeltyd is nie die tyd om ander se minder goeie voorbeeld te volg nie. Hy het gedwee in sy kar geklim en gewag tot veel later toe dinge rustiger was om sy bestelling te gaan afhaal sodat die dag se werk kon voortgaan. ’n Vinnige besoek aan ’n hardewarewinkel is dus deesdae nie altyd so vinnig nie!
Met grendeltyd voel dit soms of die werk teen ’n slakkepas vorder, so ons bring baie tyd in die tuin deur. Dáár is nie ’n tekort aan slakke nie en ek kan verstaan hoekom die Franse nasie hulle begin benut het as ’n versnaperinkie. Blykbaar eet die Franse 40 000 kubieke ton slakke per jaar!
Alhoewel ek lief is vir Franse cuisine strek my avontuurlustigheid nie tot slakke, paddaboudjies en rou maalvleis nie. Ek het wel jare gelede “escargots” in Parys probeer – die voorvarendheid van die jeug! Noudat ek ouer en wyser is, vermy ek slymbolletjies in knoffelsousies!
My twee jonger kinders is egter gefassineerd met hierdie klein gedopte diertjies en ek vind nou dikwels slakdoppe in broeksakke of selfs ’n slak in my handsak. Net gister het ’n slak so ewe rustig langs my blikkie lipsalf gelê. Ek het aanvanklik gedink die blikkie het oopgegaan toe ek die slymerigheid in my handsak voel, maar is baie dankbaar dat ek die slak gewaar het voor ek die ‘samboksalf’ aan my lippe gesmeer het! Ek het so vermoede my seuntjie het iets te doene gehad met die insident, want hy is gereeld besig om slakke te ‘red’ en ek vind gereeld slakdoppe in sy sakke op wasdag!
Ons het ook nou ons eerste Paasfees in die château gevier. Met kerke regoor die wêreld se deure in hierdie tyd gegrendel, het ons besluit om aanlyn na ’n kerkdiens te luister. Die kinders het daarna Paaseiers gesoek in die tuin en vir die eerste keer in my lewe het ek gesien dat die Paashaas ’n eier tussen die ‘tande’ van ’n stootskraper se graaf weggesteek het! Daar was verseker ’n paar ongewone wegsteekplekke wat ’n mens nie in elke tuin sou vind nie. Die kinders het die soektog baie geniet en natuurlik was my dogtertjie se eerste kosbare vonds … ’n slak!
Ons het gaan stap gedurende die Paasnaweek en ’n klein dammetjie ontdek waar ons piekniek gehou het. Daar was duisende paddavissies in hierdie dam en die kinders het paddavissies in ’n glasfles gevang en bestudeer. Ons het die metamorfose van ’n paddavissie tot ’n padda bespreek en dit het my weer laat besef dat klein goedjies dikwels ontwikkel in groter dinge … dit neem net tyd. Ons almal weet ook wat het met die padda gebeur nadat die prinses hom gesoen het … dit neem net liefde!
Die natuur het my weereens op ’n pragtige manier herinner … alles neem tyd. Soms raak ek gefrustreerd en haastig dat alles moet klaarkom en vergeet dat die metamorfose wel elke dag voortduur. Met tyd, geduld en liefde sal hierdie sprokie van ons ook ’n gelukkige einde hê!
C’est la vie!