Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 6 deur Sunita McDonald. Foto’s: Sunita en Andrew McDonald.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }
Haal in met die vorige hoofstukke van Ons lewe in ’n Franse Kasteel:
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); } '); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Aan die begin van die jaar is my eerste blog vir rooi rose gepubliseer met die titel ‘Ons lewe in ’n Franse kasteel’.
Ek reken dit het nou amper ’n subtitel nodig en moet miskien eerder lees: ‘Ons lewe in ’n Franse kasteel … tydens die Corona-virus-pandemie’.
Dit is deesdae die onderwerp op almal se lippe met byna 6 000 gevalle in Frankryk tydens hierdie skrywe.
Winkels oor die wêreld word leeggekoop en mense stry oor die laaste paar pakke toiletpapier of ‘witgoud’ soos ons nou spottend daarna verwys.
Soos die meerderheid mense in die wêreld spring ons ook nie die gevolge van dié nare virus vry nie. Die maatskappy waarvoor my man werk het ál sy Londen- en Madrid-vergaderings afgestel en alle personeellede gevra om van die huis af te werk.
Die werk aan die château word ook beïnvloed.
Ons plan was om eers oor ’n paar weke die res van die boumateriaal wat ons in Engeland gekoop het oor te neem na Château de Capelle. Met al die onverwagte verwikkelinge het ons hierdie plan begin heroorweeg en besluit om so gou moontlik alle items by die kasteel te kry.
Meer en meer vlugroetes wat by die dag in Europa gekanselleer word, het die veerboot tussen Newhaven en Dieppe weer eens vir ons gesin die beste keuse gemaak.
Reisbeplannning wat drie kinders insluit is nooit maklik nie, en die volgende paar dae was behoorlik ’n warrelwind van aktiwiteite. Die aand voor ons vertrek terug na Frankryk pak ons toe twee voertuie met vier wasbakke, ’n toilet, ’n stortbodem, ’n lessenaar en verskeie ander items wat ons mag benodig indien enige isolasiewette in werking sou tree.
Ons besef egter hopeloos te laat dat ons skoon vergeet het om iets te kry vir my man se seesiekte! Die oomblik toe ons voet aan boord sit, spoel herinneringe van sy laaste veerbootvaart oor my arme man en hy begin sommer dadelik groenerig lyk …
Ek fluister aan hom om nie te veel te sê nie, anders werk dit moontlik sielkundig in op die kinders en nou-nou word hulle ook seesiek.
’n Paar minute later vra die 5-jarige: “Wat is seesiek?”
My man antwoord ewe sedig: “Dis wat katte kry wanneer hulle op veerbote klim.”
Ek moes hard op my lip byt om nie te begin giggel nie!
Gelukkig het ons nie vir Sokkies (ons kat) ingepak vir die reis nie so almal maak dit sonder enige ‘nare insidente’ na die ander kant van die kanaal.
Die kinders geniet die vaart terdeë, veral om op die dek rond te loop en te soek vir enige walvisse of dolfyne in die water. Ongelukkig vereer die dansers van die see ons nie dié keer met hul swemskouspel nie, maar ons word wel geseën met ’n pragtige reënboog oor die water – nog altyd vir my ’n simbool van belofte!
Na vier ure se ‘rus’ op die veerboot en byna sewe ure op die pad, oornag ons die eerste aand in ’n hotel in Saint-Maur. Ons het vroeër die aand ’n paar inkopies gedoen om seker te maak ons het kos vir die langpad op die Sabbat en die volgende aand.
Die meeste winkels op die Franse platteland is toe op ’n Sondag, ’n mens moet dus vooruit beplan wanneer jy honger ruspes saam met jou op die pad het, en dan nog soveel te meer met al die restaurante wat weens die virus gesluit is.
Daardie aand halfelf kry ons ’n boodskap van plaaslike vriende om ons te waarsku dat mense begin paniekerig raak en die winkels leegmaak. Hulle was so gaaf om ’n paar goedjies soos melk, botter, eiers en jogurt te koop en dit in die yskas te los vir ons aankoms. Die mense se omgee en vriendelikheid raak ’n mens werklik diep, veral in onsekere tye soos hierdie.
Die tweede dag se lang ry na die suide van Frankryk het nog voorgelê. Ek het op die tweede dag aanvanklik probeer om ons eie inkopies van die vorige aand te rantsoeneer, maar wanneer ’n mens langpad ry, help peuselhappies jou om energiek te bly!
Ons het moeg en honger, maar tevrede en veilig, die Sondagmiddag laat gearriveer (in sonskyn!) en was dankbaar vir gekookte kos na twee dae se toebroodjie-padkos.
Ek het selfvoldaan gevoel dat ek amper ’n 1 000 kilometer aan die ‘verkeerde’ kant van die pad kon ry sonder enige insidente. Tot nou toe is my bestuursvernuf in die regterbaan nog net getoets op kort afstande tussen die huis en die winkels. Ek was ook trots op die kinders wat die meeste van die langpad rustig en besig gebly het met boeke, speletjies en geselsies tussen die twee voertuie met tweerigting-radios.
Die nuus met ons aankoms het daarop begin dui dat streng maatreëls op pad is. ‘Die oggendstond het goud in die mond’ en ons ervaar dit ook die Maandagoggend toe ons vroeg winkels toe haas en genadiglik alle benodigdhede kon bekom.
’n Paar mense het gesigsmaskers en handskoene gedra, maar andersins was dit besigheid soos gewoonlik. Die volgende oggend was egter iets totaal anders met items wat binne die eerste halfuur van die rakke af gevlieg het … dit sluit alle rolle witgoud in!
Daardie aand het President Macron die nasie toegespreek en ’n 15 dae ‘lockdown’ aangekondig waar niemand toegelaat sal word om uit te gaan tensy dit vir inkopies, werk of mediese hulp is nie.
Sou jy uitgaan moet jy ook ’n geskrewe verklaring saamdra en enige iemand daarsonder sal op die plek beboet word. Die skole, restaurante, museums en kafeetjies het almal reeds toegemaak – daar gaan my idee om my Frans te verbeter oor koppies koffie in klein Franse kafeetjies!
Hierdie week sou die stootskrapers gekom het om die vore te grawe wat die nuwe rioolstelsel en afvoerpype sou verbind. Die ‘fosse septique’ (‘n nuwigheid vir my, maar blykbaar heel algemeen in die Franse platteland) sou ook ondergronds geïnstalleer word.
Ongelukkig is dit ’n taak wat nou uitgestel moes word omdat al die swaarvoertuigmaatskappye en steengroewe tydelik toegemaak het weens die nuwe maatreëls.
Intussen is daar nooit ’n vervelige oomblik nie en is dit steeds ’n miernes van bedrywighede by Château de Capelle. Die mure (nie die miere nie) is steeds die fokuspunt van die daagliks aktiwiteite en daar word gewerskaf aan die versigtige skoonmaak, pleister en kalkwerk van die klip.
In die verlede êrens het iemand sement oor die pragtige klip gepleister (ja, my hart krimp sommer by die gedagte daaraan) en dis nou ’n stadige en stelselmatige proses om dit te verwyder en weer die pragtige klip en stene te onthul.
Dis egter nie net donker wolke op die wêreld se horison nie.
Soos altyd is daar silwer randjies en hoop en vooruitgang bestaan wel nog met ander aktiwiteite wat onverpoosd by die kasteel aan die gang bly.
Niemand weet hoe die Corona-virus die wêreld verder gaan affekteer nie, maar ons is rustig en fokus op die taak voor hande. Ons glo ons is tans in Frankryk vir ’n rede en sal dus skouer aan die wiel sit om vinnig die kasteel so gerieflik as moontlik te maak indien ons sou moes self-isoleer.
Op pad terug van die winkels af vandag het ons verby ’n hospitaal gery waar iemand ’n banier buite gehang het wat sê hulle staan in solidariteit met die mediese personeel. Ons is dankbaar om deel te wees van ’n gemeenskap wat hierdie krisis met positiwiteit in die gesig staar. Ons is dankbaar dat ons nog gesond is en ’n allemintige groot taak het om ons besig te hou. Ons is dankbaar vir familie en vriende in Suid Afrika en ander wêrelddele wat aan ons dink en op ’n daaglikse basis vir ons bid.
President Macron meen dat hierdie ’n oorlog is … ’n oorlog om ons gesondheid.
Château de Capelle het deur die eeue al vele pandemies sien kom en gaan, selfs die onrus wat deur die Franse Revolusie veroorsaak is weerstaan, en was ook ’n ‘ooggetuie’ van die verskrikking van twee Wêreldoorloë.
Miskien is daar iets wat ons hieruit kan leer: wanneer jy op ’n stewige fondasie gebou is, kan moeilike tye, siektes en oorloë maar kom en jy sal sterk kan bly staan.
In hierdie tye van onsekerheid wens ons almal goeie gesondheid en veiligheid toe!
Bonne courage à tous! x
NS – Ek is deur ’n paar mense gevra of ons cope met die Corona-virus. Hier is ‘n selfie wat ons vandag geneem het om te sê: Die son skyn en ons smile nog.
Lees die vorige hoofstukke hier.
As jy nog foto’s en nuusbrokkies van Sunita en Andrew se werk by die Château de Capelle wil sien, besoek gerus hul facebook-groep, The Chronicles of Château de Capelle
Genoeg vir 4. Bestanddele 500 g vars pasta, soos tagliatelle of spaghetti 250 ml…
Om jou hond se ore skoon te maak is ’n noodsaaklike deel van sy basiese…
Bestanddele 3-4 groot rooi soetrissies, middeldeur gesny, en wit vliesies en pitte verwyder. sout…
Ons almal het een of ander slegte gewoonte. Die goeie nuus is dat jy dit…
Van speelskool na grootskool: 5 wenke deur Mariette Snyman. Foto Pixabay Om by die…
Met die strandseisoen op ons, kyk ons na die moets en moenies om te verseker…
Hierdie webwerf gebruik koekies.