Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 5 deur Sunita McDonald.
Lees die vorige hoofstukke hier.
Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 5
In die verlede sou ons dikwels ’n bottel Franse sjampanje gekoop het tydens ons besoeke in Frankryk, maar om ’n ou kasteel hier te koop was ’n perd van ‘n ander kleur.
Ons moes noukeurige somme en baie planne maak voordat ons die finale aanbod op Château de Capelle kon maak. Dit het intensiewe navorsing vereis om te voorspel wat ons uitgawes gaan wees en watter lopende uitgawes ons in die gesig staar.
Om ’n kontrak met so ‘n ‘ou dame’ te sluit, haar lief te hê en te onderhou, is nie perdekoop nie (tot die teleurstelling van ons ponie-behepte tweejarige wat eerder iets met maanhare en vier bene sou verkies het!).
Sommige dinge verloop egter in ons guns en van die items op ons ellelange lysie is minder as ons begroting. In November verlede jaar (ongeveer ’n maand nadat ons Château de Capelle gekoop het) het ons ’n paar wonderlike winskopies teëgekom in ’n winkel in Engeland.
Die verkeerde land, maar die pryse was ongeëwenaard teenoor enigiets wat ons in Frankryk gesien het en ons het na ’n paar sommetjies besluit om oë toe te knyp en te koop. Hoe om drie baddens, ses wasbakke, ’n stort en honderde liters Dulux 1 300 kilometer verder te kry, was ’n probleem vir ’n ander dag.
Ons planne was in plek; my man sou die nuwe ware in die motor op die veerboot oorneem en ek en die kinders sou vlieg en hom in Frankryk ontmoet. Ons het vooraf begin opmeet om te sien hoeveel items ons in die motor kon pas met die agtersitplekke platgeslaan. Elke gaatjie in die motor is benut en ons het oornag die prysenswaardige vernuf van ’n sardientjiepakker ontwikkel!
Die dag het aangebreek met onstuimige weer en die veerboot se aanvanklike vertrektyd (en die res van die naweek se veerbote) word toe gekanselleer. Verskeie vlugte vanaf Engeland word ook gekanselleer en daar was chaos by lughawens weens die wind en reën. Ons planne het gelyk asof dit deur ‘Storm Dennis’ gefnuik was.
My man kry toe egter ’n geleentheid om 12 ure vroeër as die oorspronklike tyd te vaar en daardie aand word die motor vervaard klaar gepak. Met twee baddens, drie wasbakke, ’n tafel, ses stoele en wie weet wat nog in al die klein hoekies en gaatjies, vertrek hy toe op die lang pad van Berkshire in Engeland na Montrejeau in Frankryk. Ek en die kinders bly in Engeland se woeste weer agter met ’n gebedjie op ons lippe dat alles goed sal afloop.
My man se eerste boodskap kom ’n paar uur later en roep Uys Krige se woorde by my op: “Ken jy die see, Meneer, ken jy die see? Hy wat met groen jaloerse oë na ons gluur?”.
Meneer McDonald is nie vriende met die rowwe see nie en hy het groen om die kiewe gevoel op die onstuimige water tussen Newhaven en Dieppe. Die vier ure op die Engelse kanaal het blykbaar soos ’n leeftyd gevoel vir my arme man wat definitief nie ’n gebore matroos is nie.
Die res van die rit het darem glad verloop en ons beplan ’n soortgelyke rit binne die volgende paar weke. Dié keer hopelik sonder enige storms! Daar is nog ’n bad, drie wasbakke en ’n stortskerm wat hul finale reis na die land van kaas en wyn moet onderneem.
My man het al vantevore van Kaapstad na Johannesburg gery in een (baie) lang dag en hierdie is min of meer dieselfde afstand om af te lê (net aan die ‘verkeerde’ kant van die pad!).
Ten spyte van Ciara, Dennis, Jorge en enige ander sluimerende storms is daar die belofte van lente rondom ons. Hier en daar begin bloeisels hul pragtige gesiggies wys en die watervoëls by die meer begin ywerig nessies bou.
Ons sien opgewonde daarna uit om te sien wat die tuin mag oplewer vir ons eerste lente in ons nuwe tuiste! Op die oomblik verras halfdooie bome ons met hul dragte ligpienk bloeisels en die semi-bevrore grond lewer goudgeel affodille en ander lenteblomme op.
‘Storm Dennis’ het sommer vir Denis en Nicola ook in ons tuin ingewaai – die eerste inwoners van die dorpie wat hulself formeel kom voorstel het. Ons gaan nie sommer Denis se naam vergeet nie!
Die gesprek tussen Andrew en die Franse egpaar het gepaard gegaan met baie foto’s en herhalings (Andrew moet nóg harder werk aan die taal) maar hulle het uiteindelik verstaan dat dit ’n gesinshuis gaan word en nie ’n hotel nie. Blykbaar is daar ’n storie wat in die dorp die rondte doen dat ons dit in ’n hotel gaan omskep. Op sy beurt het Andrew verstaan dat hul seun die restaurant onder by die meer besit. Hulle het daarop aangedring dat Andrew hulle telefoonnommer neem en ek reken ons sal binnekort ’n kuiertjie moet inwerk.
Die meer met sy restaurantjie, pendelbootjies, strand en speelpark gaan definitief in die toekoms nog ’n gunstelingplekkie word om tyd te verwyl. Ons het, voor ons nog Château de Capelle gekoop het, saam met die kinders daar gaan piekniek hou en dit baie geniet.
Min het ons toe besef dat ons bykans in die skadu van ons nuwe woning gesit het! Die meer is sowat tien minute se stap van ons voordeur af en dieselfde berge wat ons van die kasteel af sien, omsoom die meer en die pieke omraam die rustige prentjie.
Die ruwe, ou klipmure in die woonstel het aandag nodig gehad en die laaste ruk is baie tyd daaraan gewy om ons ‘ou dame’ se krakies en plooitjies te vul. Op haar rype ouderdom het sy ’n bietjie meer lagies nodig maar ons reken dat sy binnekort pragtig afgerond gaan lyk. Daar is verdeelde opinies oor watter kleur messelkalk of pleisterwerk die beste lyk by die klip, maar ons hoop om tot ’n vergelyk te kan kom wat almal gelukkig sal maak.
Ek verwonder my aan die vakmanskap waaroor die mense honderde jare gelede beskik het om uit klip sulke mooi mure te bou wat na al die jare nog staan. Ek wonder oor die stories wat hierdie mure sou kon vertel en of Baron de Sauvan moontlik tydens die Franse Revolusie aan iemand gefluister het: “Praat sagter, die mure het ore.”
Ek voel dankbaar vir die ervare man wat ons help met die versigtige restourasieproses wat hopelik die mure vir nog ’n paar honderd jaar sal help bewaar.
Op die ou end is dit nie regtig belangrik hoe die mure lyk nie, maar wel oor hoeveel geluk en liefde aan die binnekant van daardie mure is. Hierdie is ’n liefdestaak en ons voel reeds dat ‘sy’ deel geword het van ons gesin. Ons sien uit na die familie- en vriendskapsbande wat nog gesmee gaan word binne daardie mure, tussen die bloeisels in die tuin, aan die oewer van die meer en aan die voet van die Pireneë.
Salut! Tot volgende keer.
Lees die vorige hoofstukke hier.
As jy nog foto’s en nuusbrokkies van Sunita en Andrew se werk by die Château de Capelle wil sien, besoek gerus hul facebook-groep, The Chronicles of Château de Capelle