Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 4 deur Sunita McDonald
Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 4
Château de Capelle … ’n kasteel met 484 jaar se geskiedenis daaragter – en nou is ons ook deel van dié interessante plek se toekoms.
Dit maak ons harte warm om te sien hoe baie mense belangstel om die reis met ons mee te maak en te sien wat die toekoms vir ‘haar’ inhou (ons verwys liefdevol na die kasteel as ons ‘ou dame’). Sy is soos ’n ou edelvrou wat jare se gebeure in die wêreld sien afspeel het en jou baie verhale kan vertel van gebeure lank vóór jou geboorte.
Haar storie begin lank voor enige van ons se eerste asemteug, maar sy bly ons verras met skatte wat ons ’n kykie in haar verlede kan gee. Die ontdekking van die ou briewe, skilderye en foto’s die dag nadat ons die kontrak geteken het, het die agie in my laat wakker word.
Die dokumente is almal tussen 80 en 130 jaar oud. Met my gehawende Frans en die hulp van aanlynvertalings, het die briewe my begin help om ’n prentjie te vorm van die vorige eienaars en ons ‘ou dame’ se reis tot in die hede.
Die kersie op die koek was egter toe die eiendomsagent ’n groot kartondoos vol briewe aan ons oorhandig het die dag nadat ons die sleutels ontvang het.
Hierdie briewe is nog ouer, maar in verbasende goeie toestand – hulle is in die 1700’s geskryf toe Koning Louis XVI die koning van Frankryk was en sy tuiste die Paleis van Versailles was. Van hierdie briewe is in Versailles geskryf en na Château de Capelle gestuur.
In 1997 het my Ouma saam met my tannie-hulle in Europa gaan reis vir haar 80ste verjaarsdag. Die Paleis van Versailles was een van haar gunstelingplekke en sy het tydens haar besoek ’n boek daar gekoop met foto’s en die geskiedenis van Versailles. As tiener het ek vir ure saam my ouma gesit en blaai deur die boek en gedroom oor die pragtige plekke wat sy gesien het.
Nooit het ek egter kon dink dat ek briewe sou hanteer wat namens die koning vanaf die einste paleis na Château de Capelle gestuur is nie. Ek wens ek kon dit deel met my wonderlike oumatjie maar sy het reeds so vyf jaar gelede haar engelvlerke gekry en vertrek.
Die handgeskrewe briewe is so moeilik om te ontsyfer (en met dié dat dit in Frans is, nog moeiliker!), dat ek besluit het om hulp in te roep. Ghislaine Couvillat het gekom asof sy gestuur is!
Ghislaine is ’n Franse vrou, die vervaardiger van die aksiefilm ‘Savage Waters’ (die regisseur is toevallig ook ’n Suid Afrikaner) en sy het ’n voorliefde vir geskiedenis en genealogie. Sy het my tot dusver vreeslik baie gehelp met navorsing, onsyfering en vertaling oor die verloop van die geskiedenis.
Tot dusver het ons uitgevind dat Château de Capelle in die laat 1700’s die tuiste van ene Baron de Sauvan was. Dit blyk dat hy ’n persoonlike lyfwag van Koning Louis XVI was tydens die Franse Revolusie.
Briewe tussen die De Beauvau’s (’n baie belangrike adellike familie) en die De Sauvan’s suggereer dat daar ’n hegte vriendkap tussen die twee families was. Die De Beauvau familie het die titel ‘Cousins du Roi‘ gehad (nefies/niggies van die koning) wat beteken dat hulle deel was van die koninklike binnekring. Die De Sauvan stamboom het ook skakels met die koninklike familie gehad – Koningin Marie de Medici was ’n lid van hul voorgeslag.
Een interessante brief is geskryf deur Baron de Sauvan en geadresseer aan ‘Mademoiselle de Sauvan’, sy ‘dogter’, wat in ’n klooster geloseer en skool gegaan het. Die familie-stamboom verwys egter nie na ’n dogter nie, maar wel ’n seun met ‘Camille’ as tweede naam. Die koninklikes en enige lid van die adelstand se lewens was in gevaar tydens die revolusie. Ons vermoed dat die jong seuntjie as ’n dogter vermom is sodat hy in die veiligheid van die klooster by die nonne kon skuil, maar het nog nie feite om dit te staaf nie.
Die straat waarop Château de Capelle staan se hedendaagse naam is Chemin de Capelle. Ons vind uit dat dit aanvanklik ‘Côte de Sauvan’ genoem was (na die baron se familie). Ons spoor ook die nageslag van die Sauvan familie op en hulle besit ’n pragtige kasteel sowat vier ure se ry van ons af.
Markies d’Aramon en sy familie bewoon die kasteel en dit is sedert 1635 reeds in die Sauvan d’Aramon familie se besit. Ons sien opgewonde daarna uit om dit self te gaan besoek later die jaar.
In die tussentyd duur ons historiese navorsing en blik op die verlede voort terwyl ons werk aan die toekoms van ons eie kasteel.
Nuwe vensters is geïnstalleer waar daar vantevore nie vensters was nie (in die buitegebou wat nou ‘n woonstel word) en twee nuwes in die hoofhuis waar ons nie die oorspronklikes kon red nie.
Voor die installasie was die vensters (aan die einde van beide gange) se hortjies vasgedraai met draad om ongewenste besoekers uit te hou. Ons kon nou die hortjies oopmaak om die pragtige uitsig oor die perde in die veld te onthul. Ons kan ook die kerk op die heuweltjie sien waarvan die Sauvan familie blykbaar ook prominente lidmate was.
Die herstelproses aan die res van die vensters is ’n massiewe taak. Ons het 118 van die klein vierkantige glaspanele nodig en dit gaan ’n tydjie neem om elkeen in die ou vensterrame in te pas. Party van die ou vensterrame het ook nuwe hout nodig. Hierdie is definitief ’n liefdestaak – daar is makliker opsies, maar die ander opsies is ‘nuut’ en ons wil die ‘oud’ behou waar moontlik.
Ons het ook nie meer ’n leer nodig om by die woonstel in te klim nie!
Die nuwe trappe is gebou en stewige eikehout onder jou voete is soveel beter as ’n leer wat skud en bewe soos ’n riet in die wind.
My seuns stem natuurlik nie saam nie! Die verwydering van die leer het ’n hengse impak op enige brandweerman-redding speletjies gemaak. Ek is nie seker of die ‘sirene’ wat ’n honderd desibels harder geword het moontlik uit protes is nie!
Die lambris (houtpanele) aan die binnekant van die woonstel se plafon is voltooi en ons is regtig in ons noppies daarmee. Dit is een van my gunsteling-verbeterings tot dusver – dis warmer met die isolering, die hout komplementeer die ou eikehoutbalke en dit lyk net netjies. Wanneer die stof, gereedskap en gemors rondom ’n mens te veel raak, gaan lê jy net plat op jou rug, kyk op en sien die mooi daarbo! Dit bring onmiddelik ’n gevoel van kalmte en tevredenheid.
Dis ’n sienswyse wat ek oor die lewe ook koester – wanneer dinge regtig deurmekaar voel rondom jou, maak jou oë toe teen die chaos en kyk boontoe!
Ons leuse vir nou is, ‘kyk noord en werkskaf voort’ want daar is ’n toekoms wat wink vir ons ‘ou dame’.
A la prochaine! Groete tot volgende keer!
Lees die vorige hoofstukke hier.
As jy nog foto’s en nuusbrokkies van Sunita en Andrew se werk by die Château de Capelle wil sien, besoek gerus hul facebook-groep, The Chronicles of Château de Capelle