Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 3 deur Sunita McDonald
Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 3
Ons lewe in ’n Franse kasteel … nog nie heeltemal so idillies en romanties as wat dit klink nie!
Die enigste troon is steeds buite werking, die stof lê soos ’n donskombers op alles en die harde werk duur voort, maar ons het al heelwat oor ons nuwe tuiste en omgewing geleer.
Die mense in die suide van Frankryk is vriendelik en waardeer dit wanneer jy hulle taal probeer praat selfs al kom jou Frans dalk ietwat gehawend uit!
Ek spreek tans nog almal aan as ‘vous‘ eerder as ‘tu’ en presies wanneer die oorgang van die formele ‘u’ na die informele ‘jy’ verander is steeds onduidelik vir my.
Net wanneer jy dink jy het die Franse taal onder ten minste één knie, krap iemand weer ’n miernes oop wanneer jy genooi word om die formele aanspreekvorm te laat vaar.
Die informele vorm verander die werkwoord na ’n ander woord wat byna die hele sin verander.
Skielik voel dit weer asof jy nie weet wat jy sê nie, selfs al sê jy presies dieselfde as vantevore!
Ten spyte van al die Franse lesse en middernagtelike toep-oefeninge, blyk dit ek het meer informele gesprekke in klein kafeetjies oor ’n koppie koffie nodig.
Gelukkig is lang middagbreuke in oulike kafeetjies deel van die Franse lewenstyl!
Ek sal nou net my man moet oortuig dat ek meer latte’s benodig …
Dan is daar die kwessie van ‘la bise’ of die soengroet – eers op die linkerwang en dan op die regterwang (dis nou vir ons area van Frankryk, ek verneem dat party areas tot vier soene doen!).
Jy mag dalk nog iemand heel formeel as ‘U’ aanspreek, maar as jy hulle êrens teëkom (byvoorbeeld in daardie klein kafeetjie) word daar gesoen!
Mense hier rond vind dit meer aanneemlik as die piksoen op die mond wat so gebruiklik is in Suid Afrika tussen familie en vriende. Ek wil egter beklemtoon: tussen familie en vriende!
Ek het nogal my bedenkinge oor die effe ‘voor-op-die-wa’-mense gehad, toe ons bankbestuurder, die eiendomsagent en die prokureur se sekretaresse my nader trek soos ek my hand na hulle uitsteek om te groet, en – hul wange teen myne druk met soengeluide hier digby my oor. Dit het darem net té familiêr voorgekom!
Ek het intussen verneem dat ‘la bise’ n teken van vriendskap of respek is, so het my daarin berus. Met my man en seuns is dit egter ‘n ander storie …
My man het deesdae die reaksies van ’n swart mamba, sy arm skiet uit nog voor die ‘j’ van ‘bonjour’ uitgespreek word in afwagting op ’n stewige handdruk. Sy hand word wel geskud maar effe halfhartig. Selfs my sewejarige het sy arms gekruis en die vriendelike tannie by die bank ‘n staalkyk gegee toe sy hom wou soen. Op haar “Non?” het hy net sy kop geskud.
Daar is definitief ’n paar Europese gewoontes wat langer gaan neem vir die manne om gewoond te raak!
Daar is egter tot nou toe deurgaans ’n vriendelike aanvaarding van ons as buitelanders en die mense is warm en verwelkomend.
Die suide van Château de Capelle se tuin grens aan ’n golfbaan en die eienaar het sommer aangebied dat ons sy trekkers kan gebruik om die groot tuin se gras te sny – ’n baie mooi en onverwagte gebaar wat my sommer emosioneel gemaak het.
Hy kry verseker ‘la bise’ wanneer ek hom raakloop.
So op die onderwerp van dinge wat mens ’n warm gevoel in jou binneste gee … ons het uiteindelik twee staalkaggels gekoop as ’n aanvoor tot die ‘verwarmingsplan’.
Ten minste een van díe sal in die buitegebou-‘woonstel’ geplaas word.
Ek het ’n groot voorliefde vir kaggels, daar is darem niks so lekker as om die warmte van ’n vuur op jou gesig te voel terwyl jy na lekkende vlammetjies staar nie.
Voeg ’n glasie Franse wyn by en dan begin die kasteel sommer gou sy romantiese sy openbaar …
Gepraat daarvan, ek was maar effe huiwerig om die muurpapier te begin verwyder en die mure te ontbloot.
Dit het gevoel of ons so baie van die karakter van die ou plek wegneem. Om die waarheid te sê, die ontwerp en patrone was dalk oud en nie my gewone styl nie, maar hierdie is ook nie ’n gewone huis nie!
Ek dink as dit nie nodig was om die papier te verwyder weens watervlekke en dele waar dit plek-plek afskilfer nie, het ek dit dalk sommer op die mure gehou!
Ek het wel groot stukke van elke vertrek se muurpapier bewaar en beplan om ’n galery te skep van geraamde stukke van die oorspronklike papier.
Ons beplan om soveel as moontlik van die karakter te behou.
Ek wens gereeld daar was ou foto’s van die binnekant van die huis maar tot dusver, met al ons navorsing, kon ons slegs ’n ou foto van die buitekant kry wat eens op ’n poskaart was. Dit is van die noordekant geneem en ons neem gewoonlik foto’s van die suide af. Die bome aan die kant van die kasteel is deesdae baie groter en die toring is bykans nie uit hierdie hoek sigbaar nie.
Intussen probeer ons ons indink hoe dit ’n eeu of twee gelede hier gelyk het aan die binnekant en gee die verbeelding vrye teuels. In die kombuis verklap die swart roet en die ongelyke vloer by die kaggel dat dit moontlik eens die besigste deel van die kasteel was.
In my geestesoog kan ek verskeie kokke sien wat om die vuur bak en brou en groot koperpotte wat prut op die vuur. Ek wil ten minste die koperpotte as deel van die prentjie weer laat herleef.
Die groot kaggel sal verseker dat daar ’n vuurtjie in die kombuis óók is vir my om in te tuur! Ek beplan nie om daarop te kook nie, maar kyk wel uit vir ’n koffieketel wat dalk in die kole kan staan en prut!
Ons beplan om die pragtige granietvloer te herstel waar nodig en om dit skoon te maak en te behandel todat dit weer blink! Die ou teëls teen die mure wil ons ook behou as iets kosbaars uit ’n vorige era.
’n Kombuis is dikwels die hart van die huis en ek dink ons gaan nog baie tyd in hierdie gedeelte deurbring. Intussen het ons klein kombuisie vir die woonstel ook aangekom. Ons wag nou net vir die bedrading om voltooi te word – ’n taak wat ons nie self kan verrig nie.
Sodra dit klaar is, kan die kombuiseenheid geïnstalleer word en ons sien uit om die eerste maaltyd in Château de Capelle te kan kook.
Tot dusver is daar al baie ‘baguettes’ gekou op die trappies by die voordeur waar die son selfs in die winter die steenmure warm soen.
Hopelik brei ons Franse kulinêre vaardighede uit wanneer die kombuis klaar is!
‘Bisous’ van Château de Capelle, tot volgende keer!
Lees die vorige hoofstukke hier.
As jy nog foto’s en nuusbrokkies van Sunita en Andrew se werk by die Château de Capelle wil sien, besoek gerus hul facebook-groep, The Chronicles of Château de Capelle