Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 2 deur Sunita McDonald. Foto’s verskaf.
Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 2
Eendag, lank, lank gelede was daar ’n kasteel in die suide van Frankryk … maar hierdie ‘Slapende Skoonheid’ het vervalle geraak met die dat niemand haar vir ’n tydperk van 20-30 jaar bewoon en versorg het nie.
Dit was nou wel nie ’n honderd jaar se sluimer soos in die sprokie nie, maar gras, bome en onkruid groei baie welig wanneer daar jarelank niemand is om ’n eiendom te versorg of bewoon nie.
Die afgelope paar weke al is daar egter weer tekens van lewe aan die ‘Wilde Weste’-kant van die kasteel. Die digte klimop voor die vensters is verwyder en die klanke van ‘n elektriese saag asook ritmiese hamerslae van spykers wat ingedryf word weergalm tans deur die andersins stil woud.
Dit is dalk nie die soort lewe wat die enigste voltydse bewoner in gedagte gehad het nie. Hy het sy misnoeë duidelik te kenne gegee met die wit blertse wat ons elke oggend verwelkom het. Hy het duidelik ook nie veel erg aan die nuwe vensters wat ons in die openinge laat installeer het nie. Dit belemmer sy vinnige aanvalle op enige ander vorms van lewe wat moontlik in die rommel mag rondskarrel.
Meneer Uil het intussen verhuis na die buitegebou langs die een wat ons besig is om te omskep in ’n tydelike tuiste vir ons gesin. Ons het spesiaal ’n uilhuis laat bou uit skuldgevoel dat ons sy vrede verstoor, maar tot dusver verkies hy die aangrensende buitegebou vanwaar hy steeds die werk kan dophou.
Die besluit om die ‘dépendances’ (buitegeboue) aan die westekant van die huis in ’n woonstel te verander was nie deel van ons oorspronklike planne nie. Dit beteken wel dat ons gesin weg kan wees van die stof terwyl ons woel en werskaf aan die hoofdeel van die kasteel.
Met hierdie nuwe verwikkeling het ons lys van benodigdhede ietwat verander. ’n Vrou se inkopielys verander mos dikwels afhangende van die fase van die lewe waarin sy haar bevind. Hoëhakskoene en maskara maak moontlik plek vir babadoeke en petroleumjellie. Later in ’n vrou se lewe is daar dalk haarkleursel vir die grys en ’n oogroompie vir daardie kraaispoortjies…
Maar ek wonder hoeveel vroue het al ’n inkopielys soos hierdie gehad: ’n sementmenger, ’n laebed-sleepwaentjie en tien meter boustellasies? Hierdie was van die nuwe items op my inkopielys en ek het nooit kon droom ek sou gaan winskopie-jag en uiteindelik die trotse eienaar van hierdie tipe goed word nie! Om eerlik te wees, ek het nie eers geweet wat die woord vir ‘scaffolding’ in Afrikaans óf Frans was nie – ’n woord wat letterlik nie in my woordeskat bestaan het nie!
Hierdie items was egter reeds hulle waarde in goud werd. Die verbrokkelde vloer bokant die boog van die kasteel moes herbou word. Ons moes hulp inroep en ons Engelse vriend, Mark, met sy goeie begrip van die Franse taal het tot ons redding gekom. Toegang was steeds met ’n leer deur ’n venster, want die trappe het ook jare gelede al meegegee. Die kinders het natuurlik gedink dit is vet pret om met ’n leer by ’n vertrek in te klim maar hulle is streng gewaarsku dat die binnekant van die ‘Wilde Weste’ verbode is vir kinders totdat die vloer weer stabiel is.
Die skoonmaaksessie van ’n vertrek wat jarelank deur niemand betree is nie, was interessant. Hierdie ou kaste sonder bodems (die kaste se vloere het ook mee gegee) het ‘n hele paar skatte opgelewer – baie boeke, foto’s en briewe met datums wat wissel tussen 1890 en 1945. Die toestand van die briewe suggereer dat Meneer Uil ’n uitstekende jagter is, want alhoewel die briewe redelik vergeel is, blyk dit dat nie veel knaagdiertjies ’n happie kon inkry nie.
Die eiendomsagent het vir my ook verdere dokumente gegee wat in die huis ontdek is. Van hierdie briewe dateer uit die 1700’s en ons het reeds ’n paar interessante dinge uitgevind oor die geskiedenis van Château de Capelle tydens die Franse Rewolusie, maar meer daaroor in ’n latere hoofstuk!
Die ‘daknatmaak’ sal nog moet wag, want daar was eers ’n ‘dakregmaak’ partytjie maar darem net aan die binnekant! Die buitekant is vyf jaar gelede deur die vorige eienaar vervang toe die huis waterskade opgedoen het, en so is ons darem daardie groot uitdaging gespaar! Die boustellasie het handig te pas gekom om die isolering binne te doen en om die plafon met houtpanele (of lambris) te bedek – ’n ekonomiese keuse wat goed inpas by die karakter van die kasteel. Ons inspirasie was ’n pragtige ou Franse kerk waar die indrukwekkende plafon ook met houtpanele bedek is.
Die woonstel het uiteindelik begin vorm aanneem, en so het ’n soektog na ’n voordeur begin. ’n Nuwe deur was nie ’n opsie nie – dit moes ’n ou deur wees wat by die gebou pas en dit moes boonop ook ons sak pas! Na ’n paar weke se soek vind ons toe ’n pragtige ou eikehoutdeur op ‘Marketplace’. Ek maak my eerste transaksie (’n ware winskopie!) in gebroke Frans en daardie sleepwaentjie lyk skielik baie nuttig! Dit is ongelooflik swaar om te hanteer maar die deur is mooi, rooi en pas asof dit gemaak is vir die spasie waar dit nou toegang verleen tot die woonstel.
Ons is baie tevrede met die vordering tot dusver. Die groot ‘buitekamer’ begin al hoe meer aanloklik lyk as ’n snoesige tydelike tuiste vir ons gesin met ’n nuwe vloer, vensters, plafon en die pragtige eikehoutdeur! Daar is egter steeds nie ’n toilet nie en dit is definitief op die lys van belangrike items met drie kinders! Meneer Uil kan hopelik ook geleer word, sodat ons nie die heeltyd hoef skoon te maak ager hom nie!
Die woord vir uil is toevallig een van die eerste woorde wat ek in Frans geleer het. Ek reken ek en ons ‘chouette’ gaan dalk nog goeie vriende raak ten spyte van sy huidige skuheid (veral vir die kamera!). Sy ‘hoe-hoe?’ kan ek nog nie antwoord nie want ek weet self nog nie ‘hoe’ ons alles gedoen gaan kry nie! Die feit dat hy egter naby die restourasiewerk wil bly beteken heel moontlik dat hy ook belangstel in die transformasieproses.
Rome is nie in een dag gebou nie, Château de Capelle ook nie, maar elke dag wat verbygaan is ’n stappie nader aan hierdie pragtige gebou se sprokiestoekoms!
Ek hoop julle geniet elke tree van die lang pad saam met ons!
As jy nog foto’s en nuusbrokkies van Sunita en Andrew se werk by die Château de Capelle wil sien, besoek gerus hul facebook-groep, The Chronicles of Château de Capelle