Ons lewe in ’n Franse kasteel: Hoofstuk 1 deur Sunita McDonald
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
Lank, lank gelede was daar ‘n kasteel in die suide van Frankryk …
484 jaar later is dit steeds daar en word dit die kern van my storie wat op ’n Spaanse eiland begin.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Een sonnige oggend op die eiland van Mallorca kyk my man vir my oor die ontbyttafel en sê: “Dis die tipe lewe wat ek vir die kinders wil hê!”
Sy kop het in die rigting van ons seuns wat in die lemoenboorde baljaar het, geknik nadat hulle vroeër hul oes kombuis toe gebring het om vars lemoensap uit te druk. Ons eenjarige dogtertjie het in haar stoeltjie gesit en smul aan die skyfies lemoen wat haar boeties gepluk het. Die son was warm, die lug blou en die uitsig na die berge was onbelemmerd … ons het ‘tuis’ gevoel.
Dit was dáárdie oomblik, met die soet reuk van lemoene om my, wat ek sal onthou as die oomblik wat die wiel aan die rol gesit het. Tydens daardie einste vakansie gaan loer ons sommer na ’n afgeleefde huisie met ’n pragtige uitsig oor Cap de Formentor en gesels met ’n eiendomsagent. Ons besluit dis nie die huis vir ons nie, maar die gogga het gebyt!
Terug by ons eie huis, vind ons toe gedurig dat een van ons navorsing doen oor Europese lande, areas, huispryse, ens. In ons soektog na berge, die nabyheid van ’n internasionale lughawe en ’n aktiewe tuisonderrig-gemeenskap, beland ons in die Midi-Pyrenées-area van Frankryk.
’n Paar maande na daardie eerste gesprek, land ons by Toulouse-lughawe en ry suid na ’n klein, klein dorpie met die naam Arne. Ons het toe reeds na honderde huise op die Internet gekyk en wou self gaan loer hoe akkuraat die beskrywings en foto’s was.
Tydens hierdie besoek besigtig ons 15 huise, maar dis soos om ’n naald in ’n hooimied te soek om die een te kry wat aan ons vereistes voldoen EN ons sak pas!
Ons tweede besoek volg eers ’n jaar later en dié keer is ons beter voorbereid. Ten spyte daarvan kou ek my naels elke keer as ek dink aan die lys afsprake, hoeveelheid kilometers en aantal agente wat ons dagboek volmaak oor die twee weke tydperk … met drie klein kindertjies wat agternatou!
Diegene van julle wat al die wonderlike ervaring gehad het om met drie kinders onder 7 jaar oud te reis, sal die uitdagings daarvan verstaan: hulle word op verskillende tye honger of dors, kan vinnig verveeld raak en kan mekaar tot raserny dryf! Wanneer nuuskierigheid die oorhand kry in ’n vreemde huis, ontwikkel hulle ook gedurig ’n onverklaarbare behoefte aan die toilet! Die vooruitsig van twee weke elke dag op die pad om huise te besigtig, het my bloeddruk sommer opgejaag!
Die Sondag voor ons vlug vra ek vriende by die kerk om te bid dat dinge glad sal verloop en dat ons vinnig die regte huis sal vind.
Die eerste eiendom waarna ons na gaan kyk met hierdie tweede besoek, is ’n gehawende ou kasteel in ’n baie prominente ligging. Dit voldoen aan al ons droomhuiswense: groot vertrekke, hoë balkonne, baie geskiedenis en karakter …
Dis egter so afgeleef: ‘n totale wrak met geen elektrisiteit, water, dreinering of hittestelsel nie. Daar is vloere wat verbrokkel, waterskade teen die plafonne en vele ander take wat enige regdenkende persoon ’n myl in ‘n ander rigting sou laat hardloop.
My man is egter ’n ‘die glas is half vol’ tipe mens en hy verseker my die plek het potensiaal: “Dit het dan ’n splinternuwe dak”. My oë het hemelwaarts gerol en ek het deur stywe lippe gefluister: “Gee my krag”.
“Nee” het ek aan die einde van die besoek gesê, “onmoontlik – ons het nie die tyd of Franse kontakte wat kan help met die herstelwerk nie”. Ons praat ook nie goed genoeg Frans nie, verder het ons drie kinders wat ek tuis-onderrig en ons het nog ’n huwelik ook … NEE!
Ons bly egter oor in ’n AirBnB ’n paar strate van die kasteel af en oor die volgende paar dae draf my man ’n paar keer daar verby. Hy ontmoet ook ’n plaaslike Fransman wat ’n paar perde in die veld langs die kasteel aanhou. Daagliks kom die plek dus weer in ons gesprekke op.
Ons besigtig 25 ander eiendomme tydens ons twee weke ‘vakansie’ (dit was inderwaarheid glad nie ’n vakansie nie!), maar vind niks anders wat ons harte vinniger laat klop nie. Intussen ontmoet ons ’n Engelse egpaar wat in Frankryk woon en hulle help baie met ons soektog. Hulle reël met plaaslike mense dat ons twee huise wat nie op die mark is nie gaan besigtig, maar steeds vind ons nie DIE een nie.
Of so het ons gedink…
Aan die einde van ons tydperk in Frankryk vra die Engelse man, Mark, ons of daar enigsins iets was waarvan ons gehou het. Die kinders sê dadelik die kasteel wat ons gesien het; natuurlik! Dit was mos ‘n groot avontuur om deur ’n ou kasteel te stap met ’n donker grondvloer (die vensterhortjies was toegedraai met draad so ons moes aanvanklik flitse gebruik), geheime kaste en vlermuise op die derde vloer. Daar is egter niks avontuurliks aan die feit dat daar nie eers ’n werkende toilet is nie!
Maar daar was ’n glinstering in my man se oë wat my terselfdertyd skoenlappers en ‘n hol kol op my maag gegee het! Na ’n paar besoeke van ’n argitek en ander kundiges wat niks fout vind met die struktuur nie, vlieg my man weer oor. Hy neem foto’s en video’s van elke vertrek om na my te stuur en sy geesdrif ken geen einde nie! Ek sit met vloerplanne, maak afmetings, maak somme, raak beurtelings erg gestres en dan weer opgewonde.
Maar die skrif was aan die muur …
By nabetragting: my gebed was dat ons vinnig die regte huis sou vind en daardie gebed is beantwoord met ons eerste afspraak. Die eerste eiendom! God het my herinner dat Hy weet wat die beste is vir ons en dit het 25 ander eiendomme en baie van ons tyd in beslag geneem om dit net weer self te besef.
Op 23 Oktober word ons toe die eienaars van Château de Capelle.
Daardie gekrabbel op ’n kontrak bring daarmee saam ’n magdom werk! Tussen vensters vervang, vloere lê, trappe bou, loodgieterwerk en al die ander ditjies en datjies probeer ons ook nog ons Frans vervolmaak. Maar ons is nou hier en ons gaan die pragtige ou gebou weer tot haar volle glorie herstel!
Dis ’n groot uitdaging en dis maande se harde werk wat wag! Hopelik eindig ons storie ook met “en hulle het vir ewig gelukkig saam gewoon” maar vir eers wag daar bloed, sweet en trane om daardie laaste reël van ons sprokie te kan skryf.
Klink ’n glasie Franse wyn saam met ons op die toekoms van Château de Capelle en volg ons soos ons elke hoofstuk van hierdie geskiedkundige huis se restourasie neerpen.
C’est la vie! Dis die lewe … in ’n ou Franse kasteel.
As jy nog foto’s en nuusbrokkies van Sunita en Andrew se werk by die Château de Capelle wil sien, besoek gerus hul facebook-groep, The Chronicles of Château de Capelle
Lus vir nog avontuur? Loer hier!
Genoeg vir 4. Bestanddele 500 g vars pasta, soos tagliatelle of spaghetti 250 ml…
Om jou hond se ore skoon te maak is ’n noodsaaklike deel van sy basiese…
Bestanddele 3-4 groot rooi soetrissies, middeldeur gesny, en wit vliesies en pitte verwyder. sout…
Ons almal het een of ander slegte gewoonte. Die goeie nuus is dat jy dit…
Van speelskool na grootskool: 5 wenke deur Mariette Snyman. Foto Pixabay Om by die…
Met die strandseisoen op ons, kyk ons na die moets en moenies om te verseker…
Hierdie webwerf gebruik koekies.