Hierdie artikel het oorspronklik in ons Junie-uitgawe vanjaar verskyn.
Minder as twee maande nadat hierdie uitgawe op die rakke was, treur ons oor die verlies van hierdie merkwaardige akteur en pa. Hiermee bring ons hulde aan Bradley Olivier, en onthou die oomblikke wat hom laat skitter het, die rolle wat sy loopbaan gedefinieer het, en die ontembare gees wat hom ‘n gekoesterde figuur gemaak het.
Sy beste rol nog
Bradley Olivier is bekend vir sy rol as Danny Jantjies in die hospitaaldramareeks Binnelanders. Wat baie mense egter nié van die gewilde akteur weet nie, is dat hy ’n baie cool pa is. Hy gesels meer daaroor met Maretha Botes.
Vir Bradley Olivier is pa-wees die beste ding nóg. As hy ná ’n skof op die Binnelander-stel die motor se neus huiswaarts draai, begin sy hart al tjoklits klop, want tyd saam met sy bruinoog Kiara wink.
Hy erken sy werk as akteur plaas hom in ’n bevoorregte posisie, want opnameskedules wissel en bied aan hom tyd om sy dogter te geniet. “Die ateljee se opset maak dit maklik om die balle tussen pa- en akteurwees in die lug te hou. Ek neem haar soms ook saam werk toe sodat sy kan sien waar ek werk en wat ons doen,” sê hy.
Hy het pas sy 36ste verjaardag gevier. “Ja-nee, nóú kom hulle (die jare) aan!” sê hy laggend. Nie dat daar juis ’n plooi of vetrolletjie is om sy jare weg te gee nie. Met ons onderhoud sit daar nog ’n lekkerkry in sy stem, want dit was ’n baie spesiale verjaardag. Die dag het nog geslaap, toe het hy reeds verjaardagdrukkies in die bed van Kiara (5) gekry. Hy voeg by: “My meisie het ook vir my brêkfis in die bed gebring en my vriende het my met ’n skemerkelkpartytjie verras. Dít was nou ’n fees ter feeste. Ek kon nie vir meer gevra het nie!”
Bradley het op 30 sy vaderskapskoene aangetrek en kon breëbors oor ’n bondeltjie vreugde spog. “Vir baie mense is 30 mos nou al mooi groot!” sê hy. Vir hom was dit ’n goeie ouderdom. So met die 20’s agter die rug, kon hy sê hy het sy rustelose jare goed geleef. Been there, done that. Hy het talle naweke impulsief sy tasse gepak, in die motor geklim en ’n avontuur gaan soek. Of dit nou Mosambiek toe was op sy eie, of die wildernis in saam met pêlle. Met Kiara se koms het ’n heel ander avontuur aangebreek. Hy sê: “Sy het my rustiger gemaak in die sin dat ek nie op ander plekke my avontuur gaan soek nie. Ek het ook meer doelgerig begin lewe. Meer doelgerig in my loopbaan, wat ek wil bereik, en hoe ek wil leef. Ek is verantwoordelik vir hoe sy groot word, en watter tipe mens sy eendag sal wees. Jy kan maar sê ek het ’n kopskuif ná haar geboorte gemaak. Ek wil daar wees vir haar en die beste pa wees wat ek moontlik kan wees.”
Bradley is ’n bok vir ’n goeie rom-kom. En hoor jy die storie van Kiara se geboorte, klink dit so bietjie na ’n toneel uit ’n romantiese komedie. Die babatassie was gepak met alles wat “seuntjie” skree. Blou en wit. Nie ’n sweempie pienk iewers om die idee te gee dat daar dálk ’n pienketjie op pad sou wees nie. Sy naam sou Ronan gewees het. Die heelal het egter ander planne gehad en ’n gesonde babadogtertjie is twee-uur die oggend op 27 Junie 2017 gebore. “Daai was komies!” sê dié pa en skud sy kop glimlaggend. Maar sou hy dit anders wou hê? Nooit nie! Nie vir ’n enkele oomblik nie. “Dit was ’n groot oomblik vir ons, en die trane van blydskap en dankbaarheid het gevloei,” sê hy.
Die rolprentbedryf is Bradley se ander groot liefde en hy praat blinkoog oor die rolprent wat hy en sy akteursvriend, Solomon Cupido, geskryf en pas in die Kaap geskiet het. Die fliek is nou in na-produksie stadium en as dinge volgens plan verloop, sal dit in Februarie op die grootskerm verskyn. “Die naam hou ons nog so bietjie geheim tot die tyd aanbreek het om dit te begin bemark,” sê hy. Terloops, dit is ’n romantiese komedie.
Die Paarl se berge, damme en boorde is waar Bradley se gunstelingherinneringe van sy kleintyd lê. Daar waar dit “altyd groen is” en kinders nog sonder kommer in die modder kon speel. Sorgvrye dae – sónder internet – voeg hy by. Sy pa was ’n tronkbewaarder en het ook saam met sy ma spyseniering vir spesiale geleenthede gedoen. “Ons was alewig by een of ander troue of ’n ding,” sê hy.
Van kleins af was dit Bradley se droom om akteur te wees en om in die rolprentbedryf te werk. Natuurlik het hy nie toe mooi besef wat dit behels nie. Hy het gedink dis alles net ligte, kamera, en aksie! Van die bloedsweet voor en agter die skerms, het hy min geweet. Sy twee drama-onderwysers op skool, Celeste Loristen en Michelle Petersen, het hom van vroeg af geïnspireer en aangemoedig om sy talent te ontwikkel en sy droom na te jaag. Daar is toneelkompetisies gereël en opvoerings gehou. “My ouers was my grootste aanhangers en ondersteuners. Hulle het my rondgery na waar ons ook al opgetree het. As ons ons eie produksies opgevoer het, het my ma en pa koeksisters vir ekstra geld gebak sodat ons plakkate kon druk en versprei,” sê hy. Sy ouers het ’n groot rol daarin gespeel dat hy sy eerste rol in die destydse sepie Villa Rosa losgeslaan het. Hy verduidelik: “Hulle het my aangemoedig om aan ’n kompetisie deel te neem waarin nuwe gesigte vir Villa Rosa gesoek is. Ek wou dit glad nie doen nie, maar hét toe uiteindelik deelgeneem – en low en behold, daar kry ek my eerste TV-rol!”
Hy het ook rolle in TV-reekse soos High Rollers, 7de Laan, asook Vlug na Egipte en Let Heaven Wait vertolk. Rolprente op sy lysie sluit in Ballade vir ’n enkeling, Die ontwaking, Nul is nie niks nie en Vaselinetjie.
Watter rol sal hy graag nog wil vertolk? “Glo dit of nie, maar ek wil graag die rol van ’n prokureur speel. Hulle het altyd sulke pittige sêgoed en kan ’n lekker houding inneem!”
Wanneer hy self sy skoene uitskop en voor die kassie gemaklik raak, is dit veral vir iets wat die nekhare laat rys. Hy hou van ’n riller van enige aard. Hy voeg vinnig by: “Eintlik is ek nie snobisties oor wat ek kyk nie. En ai, bring maar daardie rom-koms. Ek is nou nie eers skaam om dit te sê nie. Ek glo as jy ’n goeie storieverteller, skrywer, vervaardiger of regisseur wil wees, moet jy oop wees om alle genres te kyk en te probeer geniet. Jy moet oopkop wees.”
Die gesprek draai weer na Kiara. “Die vyf weke wat ons in die Kaap was om ons rolprent te skiet, was die langste wat ek nóg van haar weg was. Toe ek die dag terugkom, was ek van voor af op my kind verlief! Sy is so pragtig. Elke fase van haar jare tot nou toe was vir my ’n fees. Ek glo ’n mens moet elke fase geniet, want dit gaan vinnig verby. En elke fase is vars, oulik, en anders.”
Hoewel hy en Kiara se ma nie saamwoon nie, is Kiara hul albei se eerste prioriteit. “As iemand my ’n enkelouer noem, is dit nie die waarheid nie, want ek is ’n co-parent. Ons maak mekaar se las ligter en is in werklikheid ’n seën vir mekaar. Ons stel ons kind se beste belang voorop. Boonop het Kiara ook my meisie in haar lewe, en haar oupa is daar. It takes a village.”
In die Olivier-huishouding is daar nooit ’n vervelige oomblik nie. Waar Kiara is, is daar iets aan die gebeur. “Sy is so vol lewe en energie. Beurtkrag is haar gunstelingtyd, want ons kan nie in die huis sit en niks doen nie. Beurtkrag is gelyk aan speeltyd. Ons moet of gaan swem, of iets buite speel. Legkaarte of ‘Slangetjies en leertjies’ is ook hoog op haar prioriteitslys en sy is mal oor prentjies teken of inkleur – en ek doen alles natuurlik saam,” sê hy.
Op pad skool toe moet die akteur homself sanger hou (nie sy gunstelingrol nie) en saam sing op al wat ’n Katy Perry-liedjie is. Wat ’n pa nie alles vir sy dogter sal doen nie …
Eindelik draai álles, maar alles, om liefde, som hy dit op. “Ek wil hê Kiara moet weet en onthou dat sy in ’n omgewing grootgeword het waar sy liefgehê was. Haar ouers, oupa, vriende, neefs en niggies. Die enigste ding wat ek wil hê sy moet onthou, is: ‘Ek was liefgehê’,” sê hy.