Deur Willemien Green. Foto’s: Gareth Green
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }
Annelie Botes is nie net ’n storieskrywer nie, maar ’n storieverteller van formaat vir duisende lesers. Dit was dié lesers wat vir haar gebid het toe sy dodelik siek was. Nou, sê sy, is daar net herinneringe oor en neem sy afskeid van ’n eens goeie lewe.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
Langs die voetpaadjie van die aftreeoord lê ’n tuintjie. Verruklik in rooi-en-blou blomme getooi. Ek sien onthouklippe, blou bottels, skulpe, houtskywe, roesbruin klippers en Hollandse Delft-ornamente.
En ek weet: Dis die versinnebeelding van die skrywer Annelie Botes se boeiende verbeeldingswêreld. Ineengevlegte tablo’s wat jou vasgryp, en vashou.
Deur die uitkykvenster van die sonstoep waai sy glimlaggend vanuit haar rolstoel. Die vrou wat ek op die sonstoep tegemoet loop, dra ’n bont sigeunerrok.
’n Aardse mens. Eerlik en openlik tot in haar murg.
Toe Chris, alias die Gryse, met ’n houtskinkbord met fyn koppies, ’n bypassende teepot en southappies inkom, straal sy erbarming teenoor Annelie behoorlik. Hy noem haar Myta, en sê hy weet sy wil sélf haar tee skink.
Ná die fotosessie pleitvra Annelie om na haar sawwe bed met die skaapvel terug te gaan, sodat haar pynlike boudbene en stuitjie kan rus. En dáár ryg sy die een storie na die ander uit.
“Eintlik is ek nie ’n storieskrywer nie; ek is ’n storieverteller. As kinders het ek en my sussie Sondae vir die plaaswerkers se kinders Sondagskool gehou. Ek het die Bybel verdraai soos dit my behaag het. Later het Josef uit die put ontsnap en by Jona op ’n eiland gaan bly. By die see van Galilea was die vure so groot soos my pa se waenhuis, met ewe groot panne waarin rivierpalings gebak en brood gebraai is.” Stories opmaak was immerdeur haar koshuisjare in die laerskool haar forte.
Oor die vraag wanneer die leserspubliek ’n 18de boek kan verwag, raak sy beslis, bykans aanvallend.
“Sewentien boeke is genóég. Met elkeen daarvan moes ek Chris voortdurend eenkant toe stoot. Want daar is sperdatums, of ’n karakter wat in die moeilikheid is, en ek kan nie padgee en die arme siel alleen los nie. In Katvis het Marja enkelboeie aan en sy kook ’n riviergans op ’n oopvuur. Wat as sy vooroor in die kole val? In Trippel Sewe staan Carla om middernag met ’n pap wiel op die verlate Ciskei-pad. Ek het hulle geskep, en ek is hul enigste redder. Nóú wil ek in my verkreupeldheid elke greintjie van my energie aan Chris uitdeel.”
In haar matriekjaar is albei haar ouers aan hartaanvalle dood. Uit woede en onmag het sy haar skooltas met álles daarin by tannie Ena Bergh se huis daar in Uniondale in die rivier gaan gooi. Al wat sy uitgehou het, was haar Afrikaanse voorgeskrewe digbundel, Digters en digsoorte.
“Dit staan vandag nog op my boekrak. En ek het matriek met ’n gemiddelde B geslaag.”
Sy raak stil en die traanpoele dam in haar oë op. Nooit in haar verste verbeelding, vertel sy, het sy kon dink dat sy op 66 grootliks bedlêend sou wees nie. Haar lewe lank was sy ’n wakker mens. Tuin gemaak. Kerkorrel gespeel. Vetkoek vir ’n tuisnywerheid gebak. Jare in die onderwys as musiekjuffrou gewees. Vir ’n inkomste naaldwerk gedoen tot dit gevoel het asof haar rug afknak. Die land platgereis om op honderde verhoë te staan. Onwettig ’n ouma in Engeland opgepas. As goewernante vier balhorige koninklike kasteelkinders in toom probeer hou.
Toe kry sy in 2019 ’n pyn in haar blaas. Vir drie jaar het dit ongediagnoseerd gegaan. Uiteindelik is dit as ’n rekto vaginale fistel (’n tonneltjie tussen die kolon en blaas) gediagnoseer. Teen daardie tyd was sy hondsiek, want die stoelgang het vrylik in haar blaas inbeweeg en die liederlike bakterieë het haar liggaam beset. Ambulans. Hospitaal. Weer en weer.
“Die uitgerekte nagte in die hospitaal het iets in my gebreek. Meesal het ek nie geweet watter maand dit is nie. Daar is lang tye waarvan ek níks onthou nie. Ek het 30 kg verloor, en was ’n geraamte. Élke dag het ek huilend by die dokters gesoebat om aandag aan die fistel te gee. Vrugteloos. Een dokter het my selfs ’n cry baby genoem.”
Sy skeur ’n vel papier van die kombuisrol wat neffens haar lê af, vee haar oë droog, blaas haar neus; drink ’n slukkie gebottelde water.
“Askies, askies … Daar is baie nagte dat ek wens die doodsengel wil my kom haal. Om 18 uur per dag in ’n bed vasgekeer te wees, is folterend. Danksy die skaapvel wat die Gryse vir my gekry het, is ek nog bedseerloos. Maar veral snags is dit net jy en jou herinneringe. Goeies, uit tye van plesier en sukses. Slegtes, oor verkeerde afdraaipaaie.”
Dis asof sy uit haarself wegglip en vanuit haar onderbewussyn prentjies optower. Oor hoe sy en die Gryse in die jare sewentig in Uniondale se stadsaal op die musiek van Seasons in the Sun gedans het. Hul Rudolph-kind se eerste skree in Oudtshoorn se hospitaal.
Vakansies in Hartenbos. Melkkoffie by tannie Dalene Matthee in die hoekhuis. Hoe sy tydens haar navorsing vir Klawervier die eenmalige voorreg gehad het om letterlik kaalvoet op die spore van ’n luiperd te loop.
“Iets wat ek nooit sal vergeet nie, is die dag toe die man van Bosbou op Uniondale my hoog in die mensverlate Kammanassieberge gaan wys het waar die bergkwaggas hulself al dekades lank skoonrol. Toe gaan sit ek kruisbeen in die middel van die kaal, wit sandsteenkol, so groot soos ’n halwe rugbyveld, en huil hartverskeurend. Sommer oor die voorreg om daar te sit; ’n voorreg wat bloedmin mense beskore is,” vertel sy.
Sy herroep hoe sy haar ma met eendedons help kussings stop het. Sy en haar sussie wat modderkoekies bak, versier met pers seringblommetjies. Hoe sy truitjies vir haar Rosa-pop brei. Met ’n houtspaan in die koffiebrandpot roer. Papierbootjies op die leivoor laat seil. Onleesbare stories op die silwer papiertjie uit haar ma se Stuyvesant-boksie skryf.
“Herinneringe is al wat ek oor het. Goddank dat ek hulle gemaak en gebêre het.”
En wat nou vorentoe? Haar grootste wens is dat Chris sterk en gesond sal bly, sodat hy haar oor die eindstreep kan abba.
“Ons het so baie tye van storms in ons huwelik gehad. Ek het selfs van hom geskei en in die Kalahari gaan skoolhou. En daar op ’n haarbreedte ’n dom ding aangevang deur te oorweeg om met ’n Brahmaanboer te trou. Maar ná nege maande het Chris weer met my daar in die Kalahari kom trou. My vreugde op daardie soel lente-aand was grensloos groot.”
Wat sy vandag sonder hom sou doen, is ondenkbaar. Hy pas haar soos ’n kosbare pêrel op. Snags ruil hy haar tydelike stomasakkie sonder om te murmureer, en sê dis vir hom ’n voorreg.
“Dan fluit hy ‘Green Berets’ en stoot my daarna buite toe om na die volmaan te kyk.” Hy stoot haar ook in die rolstoel teen skemertyd se koelte in die village rond en neem haar vir roomys by die see of om soesji te gaan eet.
“Ons het besluit ons bly nie in ’n aftreeoord nie, maar in ’n cottage in ’n village. Die inwoners van die village bewys aan ons liefde en omgee sonder einde. Ons verhuising hiernatoe is een van die mees weldeurdagte skuiwe wat ons kon maak. Hulp is net ’n paniekknoppie ver. En dít is vir ons meer werd as korale.”
Sy skryf steeds haar weeklikse koerantrubrieke en hou Facebook-vriende op hoogte.
In September 2023 is die fistel op lange laas reggemaak en die stuk siek kolon verwyder.
“Halleluja, Hosanna. Want binne 24 uur het my gesondheid handomkeer verbeter. Die vergiftigende bakterie is nek omgedraai. Hoewel ek nooit my been sal terugkry nie, vóél ek gesond. Maar ná ’n tweede amputasie waartydens nalatigheid met die eerste amputasie reggestel is, is Waatlemoentjie nou te kort om ooit ’n prostese te dra.”
Die dag toe sy dié verdoemende nuus gekry het, het haar fontein van hoop drooggeloop.
“In my dwaalure in die hospitaal het ek myself deur ons cottage met twee bene sien loop. Afstof, vir die Gryse ’n vlakoek bak, gaste by die voordeur sonder ’n rystoel ontmoet.”
Dit het haar moed verbrysel om te weet daardie drome sal nooit realiseer nie.
“Maar in die alleennagte wanneer ek vir die koms van die doodsengel wag, blaai en blaai ek deur my lewensboek. Ek neem afskeid van ’n eens goeie lewe. Dink aan tienduisende lesers wat op hul knieë was vir my onthalwe. En die woorde van Golda Meir beier soos begrafnisklokke deur my kop: ‘Old age is like a plane flying through a storm. Once you’re aboard, there’s nothing you can do.’”
Wat ’n dag daar in die cottage. Wat ’n weergalose storievrou daar op haar skaapvel. Wie weet, dalk is daar tog nog ’n boek aan die broei.
Hierdie artikel het oorspronklik in rooi rose se Julie-uitgawe vanjaar verskyn.
Lees ook: Frank Opperman oor Pa Lourens en ‘Nêrens, Noord-Kaap’: “Nie een akteur was daar vir hulself nie”
Om jou hond se ore skoon te maak is ’n noodsaaklike deel van sy basiese…
Bestanddele 3-4 groot rooi soetrissies, middeldeur gesny, en wit vliesies en pitte verwyder. sout…
Ons almal het een of ander slegte gewoonte. Die goeie nuus is dat jy dit…
Van speelskool na grootskool: 5 wenke deur Mariette Snyman. Foto Pixabay Om by die…
Met die strandseisoen op ons, kyk ons na die moets en moenies om te verseker…
Huwelike het ’n nuwe gesig gekry. Jou geslag hoef nie meer te bepaal wie die…
Hierdie webwerf gebruik koekies.