Dis ’n all-in-one vir Corlette (40) en Charlise (21) van Pretoria. Charlise verduidelik, “Ons het dit alles. Dis baie moeilik om te beskryf. Mense wat dit (die tipe verhouding met ’n ma) het, sal verstaan wat jy bedoel as jy sê jou ma is jou all-in-one. Baie keer het ek my ma nodig, dan is sy my ma. As ek ’n vriendin nodig het, is sy my vriendin. Ander kere het ons net nodig om ’n glasie wyn saam te drink en te chill. Dan is sy my bestie.”
So bietjie soos aarbeie en room. Kaas en wyn. Die een vul die ander aan met unieke aromas en geure. (Charlise meen as jy dit nie verstaan nie, dan weet jy nie wat húlle weet nie!).
Vandag is hulle boonop sakevennote en hulle besit House of Kinz, ’n werkswinkel waar vroue kan deel in polymerklei-werkswinkels deur Corlette, of kunsklasse deur Charlise. Hulle leef daagliks hul kreatiwiteit uit en inspireer só ander om hul verbeelding vrye teuels te gee.
Corlette se bruin kykers helder op as sy sê:“Dit is ongelooflik om ’n verhouding met jou kind te hê. Dis die een persoon wat my regtig verstaan. As ek sleg opstaan, weet sy. As ek ’n lekker dag het, weet sy. Ek kan oop kaarte speel. Dit wat ek het, sal ek nooit vir die wêreld verruil nie.”
Maar hul verhaal is allermins een van maanskyn en rosegeur. Daar was vele beproewings wat net sowel hul skippie kon gesink het. Daar was baie lag, maar net so baie trane. Vandag nog. En hulle het duur lesse geleer wat hul lewe ingrypend en ten goede verander het. Een tema wat egter soos ’n silwer slakspoortjie dwarsdeur hul storie loop, is dié van onvoorwaardelike liefde.
Corlette was ’n ongehude moeder. Dit was 21 jaar terug ’n reuse-skande in die boeregemeenskap waar sy groot geword het. Maar haar eie gesin het laer om haar en Charlise getrek – ongeag wat ander sou sê – en is tot vandag toe hul grootste ondersteuners.
Corlette het mens geword op hul familieplaas Faith, tussen Bloemhof en Hoopstad. Ná skool het sy en ’n vriendin saam beeldende kunste in Bloemfontein gaan studeer. “Ek het eintlik nie geweet wat ek met my lewe wou doen nie,” bieg sy. In dieselfde jaar het sy swanger geraak. “Kan jy dink watter skande dit daardie tyd was? Nogals ’n plaaskind uit ’n stoere boergemeenskap!” Sy was sewe weke swanger toe sy sak en pak terug plaas toe is. “Ek onthou ek was vrééslik naar, maar ek weet nou nog nie of dit oggendnaarheid of senuwees was om my mense met die waarheid te konfronteer nie!”
Haar ma was in die tyd haar steunpilaar. “Wat het ek, self nog kind, geweet van ma-wees? Sy het my vir my eerste sonar geneem en was baie beskermend teenoor my. Dié dag het ek by my pa op die bed gaan sit en vir hom gesê: ‘Pappa, die baba se hartjie klop al. Ek gaan alles doen om dié kind tot die beste van my vermoë groot te maak.’ En ons het nooit weer daaroor gepraat nie. Ek sal nooit die oomblik vergeet toe sy gebore is nie. Dit was die ongelooflikste gevoel van ‘hierdie is regtig hoe liefde voel’. Hierdie onvoorwaardelike liefde vir die babatjie. Jy weet nie hoe om dit te doen nie, maar dit is die beste gevoel ooit. Charlise het net nog altyd die gawe om mense se harte sag te maak. My pa se hart het verander, hy het so sag geword. Almal is deur haar koms geraak,” sê Corlette.
Corlette het haar belofte gestand gedoen en toe Charlise ’n jaar en drie maande oud was, is hulle terug Bloemfontein toe. Sy vertel:“Ek het begin kyk watter werk gaan vir my (met geen kwalifikasie) die meeste geld inbring sodat ek vir my kind ’n toekoms kan gee. Ek het ’n verantwoordelikheid gehad en was nie van plan om op enigiemand anders staat te maak vir hulp nie.”
Hoewel Charlise se pa kennis van haar dra, het hy van die begin af die besluit geneem om nie betrokke te wees nie. Corlette het as ’n finansiële klerk begin werk en haarself op gewerk. Uiteindelik het sy ’n oorplasing Pretoria toe gekry en kon sy haar senior boekhouersertifikaat verwerf waarna sy 11 jaar in die korporatiewe wêreld bedrywig was. “Die Here het nog altyd net dinge in plek laat val sodat ek die vermoë gehad het om as enkel mamma vir my kind te sorg,” sê sy.
Charlise was 12 toe Corlette “ja” gesê het vir ’n man wat sy op daardie tyd geglo het die antwoord op haar begeerte was om ’n “regte, volledige” gesin te hê. Sy, maar veral Charlise, het die man se emosionele slaansak geword. Weg was hul spesiale ma-en-dogter-oomblikke: Daar sou nie meer selfies saam geneem word nie en spesiale dae, soos verjaardae, Kersfees of Valentynsdag, het altyd vir rusies gesorg.
Einde Junie 2023 het Corlette met dikgehuilde oë in ’n koffiewinkel gesit en haar ouers gebel om te sê dit is nou die einde van die huwelik; sy kan nie meer nie. Daarna het Corlette hulp gesoek. Sy sê:“Jy moet gedissiplineerd genoeg wees om te weet dit is oukei om hulp te kry. En soms moet jy na mense uitreik wat heeltemal onafhanklik staan van jou verhouding om perspektief te kry, en daarvolgens besluite neem. Dis nie maklik om uit ’n huwelik uit te kom nie, want dit is heilig. Dit is ’n belofte wat julle voor God gemaak het. Hierdie huwelik sou my emosioneel doodgemaak het. En my kind … Ek moes selfondersoek doen oor hoe dit haar beïnvloed. Ek het dit van die begin af nooit in ag geneem nie. Daar was baie verwyte, want ek het nooit besef hoe dit haar raak nie. Sy was eintlik die emosionele slaansak. Sy het eenmaal vir my gesê: ‘Mamma ek kan jou vergewe (vir die keuses wat jy gemaak het), maar net nie nou nie.’ Dit het my soos ’n vuishou getref.”
Charlise vergelyk daardie tyd soos iemand wat in ’n klankdigte glasboks is. “Jy kan gesien word, maar niemand hoor jou nie. Jy kan gil en skree en vertel wat aangaan, maar mense staar jou net aan. Ek het baie keer na die kerk uitgereik en gesê wat aangaan, en dan sou mense vir my sê hulle bid vir my. En dit was goed, maar ek het baie keer gevra, waar gaan jy vir my intree? Niemand het ooit vir my ingetree as ’n kind in daardie tydperk nie. Die oomblik toe my ma van die huwelik wegstap, het ek besef sy het óns verhouding bo ’n verhouding wat haar en my afgebreek het, gekies.”
Corlette sê: “Daar moes baie versoening plaasvind. Ons moes deur moeilike gesprekke en verwyte werk om weer gesond te word.”
Daar is nou ’n warmte tussen ma en dogter. Hul deernis vir mekaar is merkbaar in die manier hoe hulle na mekaar kyk, en jy weet: Dit sou nie dieselfde mense gewees het, was dit nie vir duur foute nie. “Ek sou nie die vrou gewees het wat ek vandag is nie, en my dogter sou nie dieselfde sterk mens gewees het wat sy nou is nie,” sê Corlette.
Gereelde koffiekuiers – weg van die huis af waar hulle slegs op mekaar kan fokus – is ’n ding vir dié twee. “En dis nie sommer só koffie nie. Dis koffie met room, en dan strooi ons bruinsuiker bo-op wat ons dan met ’n lepeltjie afeet!” lag Corlette.
Ma en dogter stem saam die belangrikste woord in ’n verhouding is eerlikheid. Daarna volg respek, oop kommunikasie en om mekaar se ritmes te leer ken. “Elke mens verskil en het haar eie ritme. Hoe meer jul ritmes gesinchroniseerd is, hoe beter gaan julle oor die weg kom. Ma en dogter moet leer dat hul ritmes baie verskillend kan wees of baie dieselfde, en daarin moet julle die hartklop vind wat vir julle werk. Luister meer as wat jy praat. Kry hulp wanneer dinge te veel raak of jy nie weet hoe verder nie. Elkeen se resep is anders, maar probeer alles en behou die goeie. Draai terug na jou eerste liefde, Jesus.”
Ons is weer op soek na ’n ma en dogter wat ’n baie hegte band het!
Is julle ‘n ma en dogter duisend? Wen ‘n prys van meer as R65 000!
rooi rose is op soek na ’n ma en dogter wat ’n baie hegte band het.
Wat moet julle doen?
Stuur ’n foto van julle twee saam, beantwoord ’n paar vrae en betaal ’n inskrywingsbedrag van R100. Betaalopsie op die webwerf beskikbaar.
Sluitingsdatum: 23 Januarie 2025.
Klik hier om in te skryf:
https://competition.rooirose.co.za/…/n-ma-en-dogter…/
Lees ook: Lyk fantasties in foto’s