Ons is tuis in Tokio – Johann Symington oor Japan deur Jacqueline Leuvennink. Hierdie artikel het oorspronklik in rooi rose se Augustus 2018-uitgawe verskyn. Foto’s: Verskaf.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
Sedert Johann Symington in die jare sewentig sy eerste gemeente op Colesberg gehad het, het baie water in die see geloop. Die kerk in Tokio waar Hennie hom deesdae soggens aflaai, is letterlik en figuurlik in ’n ander wêreld.
’n Mens sou Omotesando met sy groen boomlanings en gesofistikeerde, haastige voetgangers as die Champs Élysées van Tokio kon beskryf. Al wat toeris en inkopiejagter is, beweeg verby die kerk wat skouer aan skouer staan met van die wêreld se bekendste ontwerperswinkels soos dié van Louis Vuitton en Ralph Lauren.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }En tog het die boodskap van die plaasseun uit Pongola se wêreld deurgaans dieselfde gebly: een van hoop en vertroosting vir mense uit alle agtergronde en nasionaliteite wat in ’n verwarrende wêreld onder Christus se genadige sambreel skuiling kom soek. Welvaart ofte nie.
Die Symingtons is reeds amper vyf jaar by die Tokyo Union Church, ’n internasionale, Engelstalige gemeente in die Protestantse tradisie wat mense uit verskillende denominasies, lande en kulture bedien.
Om hulle te kan besoek spoeg die veelgeroemde Japanse blitstrein, oftewel shinkansen – wat teen ’n snelheid van meer as 300 km/h beweeg – ons in April vanjaar op die Sibuya-stasie in Tokio uit.
Japan se 127 miljoen mense woon op ’n grondgebied so groot soos dié van Zimbabwe, en die kruising buite die stasie is die besigste ter wêreld. Die vloedgolf van mense, uitgebeeld in die fliek Lost in Translation, is nogal ’n ervaring.
Die massas beweeg ordelik maar ons hou dig bymekaar. Hier kan ’n mens mekaar binne ’n oogwink verloor. En die gemiddelde Japannees se Engels is uiters beperk. Dit word wel as ’n vak op skool aangebied. Maar met ’n eie taal wat so moeilik is dat dit kinders gemiddeld tien jaar neem voor hulle ’n Japanse koerant met die duisternis karakters behoorlik kan lees, kan ’n mens dit nogal verstaan.
Die taxi swenk later af in ’n klein straatjie waar ’n handeswaaiende Hennie ons tegemoet loop. Dis vir ’n Westerling haas onmoontlik om hier ’n straatnaam of adres gelees te kry. Ons is verlig om te weet ons is op die regte plek.
Johann kom op sy sokkies na ons toe aangeloop. Een van die eerste gebruike wat ’n mens hier onder die knie moet kry, is dat jy jou skoene by die ingang van die huis parkeer. En die Symingtons kon nog altyd die toets slaag van aanpas en inpas waar die lewe dit van hulle verg.
“Nie dat ons nie soms kleigetrap het nie!” vertel Johann.
“Die Japanse kultuur het baie dinge wat vir ons vreemd is. Jy snuit byvoorbeeld nie jou neus in die openbaar nie, en jy hou by baie spesifieke kuier- of besoektye. ’n Gemeentelid wat ’n kenner van die Japanse kultuur is, kon ons darem help. Die taalkwessie kan ook selfs ’n eenvoudige ding soos ’n besoek aan ’n supermark ’n redelike uitdaging maak. Jy kom by die huis met jogurt pleks van die melk wat jy eintlik wou gekoop het. En dan moet jy by geleentheid kruisbeen of op die knieë by ’n lae tafeltjie sit. Een so ’n ete van sowat vier uur het my byna dood gehad!”
Hy lag. “Twee dae ná ons aankoms hier sleep Hennie my mos dokter toe omdat ek ’n pyn op die bors het. En daar raak die vrouedoktertjie erg verleë toe sy my ondersoek. Sy ken duidelik nie ’n man met ’n maag nie, word bloedrooi in die gesig by aanskoue van die vreemde verskynsel, en lag toe maar so effens verbouereerd agter haar handjie … ”
Ons begin praat oor die huise in hul woonbuurt wat almal betreklik nuut lyk. “Benewens die skade wat die atoombomme oor Hirosjima en Nagasaki aangerig het, is groot dele van Tokio ook aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog verwoes,” vertel Johann. “Van ons kerk het net ’n koperkollektebord oorgebly. Dit en al die natuurrampe, soos vulkaniese uitbarstings, aardbewings en tifone wat deel van hul werklikheid is, verklaar deels waarom die Japannese ondanks welvaart so hardwerkend is en spaarsamig leef. Met ’n steeds ouerwordende bevolking raak die las op die jongmense om hul bejaardes te versorg ook al groter.”
Die Symingtons het betreklik gou op dreef gekom. Japan met sy homogene bevolking is ’n ou beskawing waar waardes soos hoflikheid, eerlikheid en respek vir mekaar hoog aangeslaan word. “Dis verfynde, hardwerkende mense. En ja, ons sluit nie ons deure nie.”
Daar was ook nuwe, sonderlinge verbintenisse om te sluit. Een van die gemeentelede, die 75-jarige Janet Takeyama, is ’n Amerikaner wie se oorlede man, Yasuo, ’n oorlewende van Hirosjima was. Sy suster het op haar beurt Tokio se bombardering oorleef en is later met ’n Amerikaner getroud wat weer Japan se aanval op Pearl Harbour oorleef het. Dit was deurslaggewende gebeure in die geskiedenis van die wêreld wat die lewe van individue ingrypend geraak het. En aspekte wat vir Johann, immer geboei deur mense en hul verhale, sy taak interessant bly maak.
Om op hul ouderdom so ’n groot sprong oor die aardbol heen te maak is iets waarvoor baie mense nie sal kans sien nie. Maar die saadjie is jare gelede al by Johann gesaai toe hy in 1998 drie maande vir International Ministries by ’n gemeente in China gaan aflos het. Vanweë die nomadiese bestaan van soveel mense wat vandag oor die aardbol beweeg, is daar reeds sowat tien-
duisend soortgelyke internasionale gemeentes wêreldwyd.
“As dit net van my afgehang het, sou ek dalk ’n meer eksotiese bestemming soos ’n luilekker-eiland uitgesoek het. Tokio het trouens nie vir my baie interessant geklink nie. Dis hierdie yslike metropool – die groter Tokio-Yokohama-gebied met sy byna veertig miljoen inwoners is een van die mees dig bewoonde gebiede op ons planeet. Ek het net besluit om aansoek te doen omdat ek met my naderende aftrede besef het ek is nog nie gereed om die werk te laat vaar waarvoor ek so lief is nie.”
Hedendaagse Japanse opvattings oor geloof is gegrond op ’n verwarrende mengsel van Boeddhisme en Sjintoïsme – ’n inheemse godsdiens waarin natuurgode soos die son aanbid word. Maar dié mengsel en die verering van die keiser as direkte afstammeling van die songod met die gepaardgaande absolute lojaliteit aan Japan, het sedert die Tweede Wêreldoorlog baie veld verloor. Ateïsme en materialisme neem weer toe. Slegs een persent van die bevolking is belydende Christene.
Die Tokyo Union Church is sedert sy ontstaan in 1872 net deur Amerikaanse predikante bedien. Maar ná Japan se ekonomiese bloeitydperk vanaf die jare sestig tot tagtig het die ekonomie (steeds naas die VSA en China die grootste ter wêreld) begin stagneer. Dit is tans ’n minder aantreklike bestemming vir internasionale maatskappye. Die verwoestende aardbewing en tsoenami in 2011 in die Sendai-gebied (sowat 350 km noord van Tokio), en die verhoogde radio-aktiwiteit weens die ontploffing van ’n kernkragstasie het ook daartoe bygedra. Die gemeente het gesukkel om ’n geskikte kandidaat te kry.
Johann het sy voelers uitgesteek. Tot sy en Hennie se verbasing is hy ’n kontrak vir vier jaar aangebied, en dis sedertdien met nog twee jaar verleng. Met ons besoek sit die kerk gepak, mense van minstens 35 nasionaliteite in die gehoor.
“Pastor Johann” het vir hom met sy taak- en veral mensgerigtheid weer ’n pad na harte gebaan. Die gemeente is onder sy leiding onder meer aktief betrokke by die heropbou van kerke in die aardbewinggebied. Vrywilligers berei ook elke dag van die week kos vir sowat honderd haweloses voor.
Die Sondag van ons besoek is ’n spesiale oggend vir die Symingtons. Terwyl ’n Japannese vrouelidmaat die kinderprogram behartig, sit ’n glimlaggende Johann met ’n kleindogter op die knie en luister. Hul dogters, Suna en Claire, het uit Suid-Afrika kom kuier. Claire se tweelingdogtertjies van ses maande dop behoorlik Oupa en Ouma se huis en harte om.
By die kooroefening verras die dirigent, Yuko Omi, ’n musiekdosent aan ’n universiteit, my met haar koor se uitvoering van die aangrypende Xhosa-lied “Ukuthula”. Johann het die lied uit sy Welgemoed-dae ingevoer.
“Dis ’n kerk vir besoekers én soekers,” verduidelik hy. Jy kry van mense wat op die kerk se verwelkomingskaartjie “Not a Christian but interested” invul, tot party wat bloot kom om koor te sing of hul Engels te verbeter. Ander kom klop weer aan die deur weens verlies, eensaamheid of uitsigloosheid. Of uit blote nuuskierigheid. Johann het ook ’n spesiale groep vir jong gelowiges. Sommige het geen Bybelagtergrond nie.
“Die jongmense kom help met alles – van kerk skoonmaak tot die daaglikse kosmaakprogram,” vertel Johann. “Baie van die kwessies wat in Suid-Afrika aandag geniet, soos die gay-debat, is hier irrelevant. ’n Ontmoeting met die Here is al wat saak maak.”
’n Christelike balletgeselskap skaar hulle ook by die gemeente en lewer tydens die Pase en Kersfees met hul visuele voorstelling van die gebeure ’n besonderse bydrae. Die kerk se jong Japannese koster, ’n ywerige amateurfotograaf, is so daardeur aangegryp terwyl hy hulle afgeneem het dat hy nou heeltyds in diens van die kerk is.
“Dis die gebruik in die gemeente dat wanneer ’n nuwe gelowige gedoop word, hy of sy ’n kort getuienis gee. Een van die dansers het vir my kom sê hy sien nie kans om dit te doen nie; hy wil dit liewer met dans uitbeeld. Ek was effens benoud oor wat om te verwag, maar het nietemin ingewillig. Die oggend van die doop het hy, netjies in ’n pak geklee, op die trappies voor in die kerk gaan sit met ’n wanhopige uitdrukking op sy gesig. Nadat hy twee keer om die nagmaaltafel gedans het, het hy voor die kruis tot stilstand gekom. En in trane uitgebars; sy preek sonder woorde afgehandel … ”
Oor wat hul toekoms en ’n volgende fase gaan inhou, hang daar nog ’n klompie vrae. Dit gaan weer eens swaar wees om mense in wie se wel en wee jy belê het, agter te laat. Maar in Suid-Afrika
wag hul kinders. En nou ook kleinkinders. En ’n lewenstaak wat nooit heeltemal afgehandel is nie.
Lees ook Erns Grundling se ervarings in Japan tydens die verfilming van sy reeks op kykNET, Elders.
Dit het soos soveel suksesverhale klein begin, maar die droom was groot: begin ’n TV-kanaal…
Volgens 'n amptelike verklaring wat Vrydagoggend deur die Mej. Suid-Afrika-organisasie vrygestel is, het die huidige…
Sy is nie net die eerste dowe vrou om as Mej. Suid-Afrika gekroon te word…
Het jy geweet dat meer vroue jaarliks aan hartvatsiektes en beroertes sterf as mans? Gelukkig kan…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 1 ½ koppie gladde medium-vet maaskaas – kamer…
Daar is baie maniere en wenke om vetplante te laat gedy. Hier is nege wenke…
Hierdie webwerf gebruik koekies.