Ons gunsteling plaaslike handelsmerke vir babas en kinders deur Susra Matthee en Bea Lingenfelder. Hooffoto: Bunny and Mouse
Hier is ’n paar van ons gunsteling handelsmerke vir babas en kinders van eie bodem. Dis duidelik dat ouma se gebreide truitjies, komberse en selfs smokwerk weer hoogmode is. Trek Ouma nader!
Lees ook: Die heel eerste foto’s van Archie Harrison Mountbatten-Windsor!
Die meeste van hierdie handelsmerke is aanlyn en by KAMERS/Makers beskikbaar.
Blankets From Africa
Blankets from Africa is gebore uit ’n rit deur die Karoo. Werkloosheid, veral onder vroue, is baie hoog in die kontrei en Blankets from Africa bied aan hierdie vroue die geleentheid om ’n produk uit skaapwol van die omgewing te skep.
Die reeks bied huishoudelike komberse sowel as babakomberse en waentjie- en wiegiegrootte komberse.
Bunny and Mouse
Sedert Claire Mayers, eienaar van Bunny and Mouse, ’n baba was, het haar ma vir haar smokrokkies gemaak en op dié manier haar liefde vir smokrokke aan haar kinders en kleinkinders oorgedra. Ná baie komplimente en versoeke dat haar ma rokke vir haar vriende se kinders maak, is die konsep Bunny and Mouse gebore. Smokwerk is ’n vaardigheid wat ongelooflike geduld en tyd verg en byna alles word met die hand gedoen.
Claire en haar ma het ’n span mans en vroue by die Valley of a Thousand Hills Community Helpers-sentrum in Inchanga die basiese smok-vaardighede geleer en nou is hulle die ruggraat van die produksiespan.
Essie Pessie
Ná die geboorte van haar eerste kleinkind het Esje de Wet die wêreld van breiwerk vir babas en peuters betree. Sy het besluit op handgebreide truitjies met ’n tradisionele ouwêreldse styl tesame met helder, volwasse kleure en knope wat die aandag trek. Vir afwerking word ’n meer onkonvensionele borduurtegniek gebruik.
So het sy begin patrone uitwerk en ontwerpe teken vir haar eerste winterreeks. Nou dra nie net Suid-Afrikaanse peuters en babas EssiePessie-truitjies nie maar ook kleingoed in Noord-Amerika, Europa en Australië.
Fox & Moon
Fox and Moon is in 2010 deur mede-eienaar Amanda Meyer gestig. Sy het begin met ontwerpe wat sy graag in haar dogter se babakamer wou hê, en later met haar suster, Cindy Schafer, kragte saamgesnoer. Alles – van ontwerp tot drukwerk en stikwerk – word in Suid-Afrika gemaak. Hulle streef daarna om al hul produkte sover moontlik eko-vriendelik en volhoubaar te hou.
Nanas Babywear
Nanas Babywear is ‘n klein onderneming wat oumas met die nodige gereedskap toerus om ná aftrede steeds ‘n doel te hê. Hul unieke handgemaakte produkte word deur verskeie ouer vroue landwyd gemaak. Hulle besef dat afgetrede vroue baie het om te bied en dat dit belangrik is dat hulle hul vaardighede oordra. Hulle doen presies dít met hul handelsmerk. Hulle gee oumas die geleentheid om te doen wat hulle liefhet en terselfdertyd ‘n inkomste te verdien, terwyl hulle produkte skep wat jy en jou kleintjie sal liefhê!
Rupert & Rosie
Rupert & Rosie is ‘n handelsmerk wat klassieke kinderklere vir seuns en dogters maak. Hulle werk saam met klein, plaaslike gesinsondernemings en ambagsmanne wat meesters van hul ambag is om klere met ‘n unieke ouwêreldse gevoel te maak. Hulle ondersteun en hef gemeenskappe op deur werkskepping. Elke kledingstuk word in Kaapstad gemaak met die beste materiaal moontlik, soos suiwer katoen, suiwer linne en die beroemde Liberty-afdrukke.
Tiger Lily
Tiger Lily is ‘n plaaslike onderneming wat deur passie aangevuur word. Hulle bied ‘n verskeidenheid dekoritems, speelgoed en bykomstighede vir klein mensies en hul mammas. Materiaalkomponente van die eietydse reeks word hier gemaak, dikwels met ‘n verskeidenheid teksture. Die houtspeelgoed word in Rusland gemaak en hier geverf. Die pragtige verskeidenheid speelgoed kan met leervaardighede help.
Annapatat kids
Annapatat Kids skep stylvolle baba- en kleuterklere. Hulle maak pragtige gehalteprodukte vir kinders, wat wissel van 0 – 3 maande tot 7 – 8 jaar. Hul doelwit is om pret te hê met kinderklere deur patrone en ontwerpe te meng en te pas. Hoe prettiger hoe beter.
Jy kan ook die oulikste handgemaakte geskenke en produkte vir kinders op die rooirosewinkel kry.