In 2010 (Oktober-uitgawe) het Ilse Salzwedel by Liewe Heksie se Verna Vels gaan koffie drink en ’n baie interessante vrou ontdek.
Ek onthou hulle nog. My Liewe Heksie-plate. Daar was een met ’n pepermentgroen omslag, ’n pienke, ’n gele, ’n bloue en rooie. Elkeen met vier stories op. Dit het R1,95 gekos, en ek mag elke paar maande een gekry het. Ek onthou ook die nes wat ek in ’n sonkol in ons sitkamer gemaak het, reg voor my ma-hulle se outydse radiogram. Om niks te mis nie. Dan was dit net ek, ’n laatlam-alleenkind, my poppe en die vergeetagtige Heksie. En al haar maatjies, natuurlik.
Nou, 35 jaar later, sit ek, ook in ’n gesellige sonkol, en gesels met Verna Vels, Liewe Heksie se mense-ma; die vrou wie se storieverteltalent die wêreld van stories vir soveel Afrikaanse kinders oopgesluit het.
Dis moeilik om te glo sy is al 77, want haar lewe is nog die ene bedrywigheid. Pas terug van ’n Europese vakansie, moes ons ons dagboeke mooi koördineer vir ’n afspraak, want Verna werk ook nog twee dae per week as toesighoudende regisseur by 7de Laan.
“Ek was van die begin af betrokke. Ek kom al ’n baie lang pad met Danie Odendaal en Annie Basson, die skeppers van 7de Laan. Toe hulle tien jaar gelede begin het met ’n voorlegging vir ’n Afrikaanse sepie vir die SABC, het hulle my gevra om aan storielyne te help dink en beplan.”
Verna se pad het die eerste keer met Annie en Danie s’n gekruis toe sy programorganiseerder was vir SAUK TV, doer in die beginjare van Afrikaanse TV. ’n Hegte vriendskap het deur die jare ontwikkel, en deesdae is hulle ook twee van haar gunsteling-reisgenote. Hulle drie was ’n paar weke voor ons onderhoud juis weer saam Frankryk toe. “Ek toer ook graag alleen, maar Danie, Annie en Monica Breed, ’n destydse SAUK-kollega, en Cecile Schmidt, destyds die eerste vroue ambassadeur in Oostenryk, is almal mense saam met wie ek baie lekker kan reis.”
Reis het sy al gereis. “Dis my stokperdjie. Ek het al ophou tel hoeveel keer ek in Parys was. Ek raak deurmekaar as ek by 35 kom,” sê sy droogweg, en allermins grootpraterig.
“Ek was die eerste keer in 1960 daar, en Parys bly my groot liefde. Die plek het vir my ’n soort magiese kwaliteit. Dis ’n stad wat nooit ophou om my te verras nie. Jy kan net rondloop en ervaar. Die museums, die mooi geboue, straatkafees, markstraatjies. Herfs in Parys is vir my die heel lekkerste.”
Haar paspoort is al oor die aardbol gestempel: Europa, Amerika, Argentinië, Indië, Ierland, Thailand, Taiwan, Rusland, Egipte, Israel. Londen is ook ’n gunstelingbestemming. “Dis weer die plek vir teater en musiek,” beduie sy entoesiasties.
Musiek is nog ’n groot liefde. Alles van Coenie en Laurika en Amanda Strydom tot kabaret en opera. Haar twee hondjies, Vicki en Sisi, is juis na twee beroemde sangeresse vernoem.
“Vicki se naam kom van Victoria de los Ángeles en Sisi is eintlik na Elisabeth Schwarzkopf vernoem.” Met so ’n effense ompad. “Sisi was eintlik die troetelnaam vir ’n ander Elisabeth, hertogin Elisabeth van Oostenryk,” verduidelik sy.
Wanneer sy reis, sal jy haar dikwels in ’n begrafplaas kry. Nie om een of ander makabere rede nie, maar omdat dit sedert haar vroegste reise haar stokperdjie is om die grafte van bekendes te soek. Sy rits die name af van bekendes langs wie se graf sy al gestaan het: Edith Piaf, Gertrude Stein, Chopin. “Hulle is almal in Parys begrawe. Ek was al in elke begrafplaas in Parys.” In Ierland het sy W.B. Yeats se graf besoek, en al die grafsoekery het selfs uitgeloop op ’n reeks met die gepaste titel, ’n Eie stukkie aarde, vir die destydse radioprogram Vrouerubriek. Hierin het sy ook sommer ’n kort oorsig oor die bekendes se lewe en loopbaan gegee.
Verna het nooit getrou nie. “Ek het, soos enige ander beroepsvrou seker ook, ’n versoek of wat gehad, maar werk was altyd vir my lekkerder as die idee van trou. Jy kan maar sê ek is die oorspronklike career girl,” sê sy laggend.
Sy onthou ’n tyd, destyds met die vestiging van SAUK TV, wat sy soggens agtuur haar Brixtonse voordeur agter haar toegetrek het en eers weer daardie nag een- of tweeuur by die huis gekom het. Meer as ’n jaar lank het dit so gegaan, maar sy is glad nie spyt oor al die harde werk vir die SAUK nie.
“Die verskeidenheid van my werk het my gefassineer. ’n Werk wat amper soos ’n stokperdjie voel, is mos eintlik soos speel. By die SAUK het ek ook ’n heerlike sosiale netwerk opgebou. Ons was ’n hegte klomp vriende wat saam daar gewerk het.”
Haar werk by die SAUK het so half per ongeluk gebeur. “Ek het in my finale jaar op universiteit nie ’n idee gehad van wat ek wou doen nie. Ek was nie regtig lus om ’n HOD te doen en te gaan skoolhou nie. Toe hoor ek by ’n vriend hy was vir ’n oudisie by die SAUK, en ek gaan toe ook.”
Sy het eers ’n paar weke later gehoor dat die SAUK-base van haar oudisie gehou het, en dat hulle haar vir ’n pos oorweeg.
“Kort ná my eindeksamen, toe ek al terug was op Bethlehem by my ouers, laat weet hulle ek moet in Januarie by die ateljee in Durban as programassistent/plateprogramopsteller begin werk. Destyds was vroue nog nie amptelik as omroepers aangestel nie.”
Sy moes musiekprogramme vir uitsendings opstel, maar het heel gou met omroepwerk begin. “Durban was ’n wonderlike leerskool. Ek het so baie geleer by mense soos Alewyn Lee, Hein Toerien, Monica Breed en Lourens Fourie. Mettertyd het ek kans gekry om iets van alles te doen, van Vrouerubriek tot kinderstories en die regie van radiodramas.”
In 1963 is sy Johannesburg toe verplaas om Vrouerubriek voltyds te kom aanbied, en in die voorportaal, ’n kunsteprogram, was ook haar baba. Tussendeur het sy geskryf: vervolgverhale, kinderstories en selfs ’n kindervervolgverhaal van 26 episodes met die naam, Alet. Toe word sy die eerste vrou wat gekies word vir die SAUK en Radio Nederland Omroep se destydse uitruilprogram.
“Dit was ’n wonderbaarlike jaar,” onthou sy. “Ek moes mense en plekke in Holland besoek en opnames maak vir daaglikse uitsendings op kortgolf, asook ’n weeklikse program vir die SAUK, Uitspan op die Hollandse werf, saamstel.”
Daar was baie hoogtepunte, soos om saam met die Hollanders voor die koninklike paleis te staan vir koningin Juliana se verjaardag.
“Toe ek klaar my stukkie opgeneem het, draai ek om en kyk deur ’n venster reg agter my. En daar staan prins Willem-Alexander, ’n peutertjie, saam met sy oppasser deur die venster en kyk.”
Sy het ook persoonlike onderhoude gevoer met wêreldbekende Nederlandse legendes soos Corrie ten Boom, die vrou wat honderde Jode van Nazi-vervolging gered het, en die skrywer en digter A. Roland Holst.
In 1973 is sy weer Natal toe verplaas, hierdie keer as organiseerder van die SAUK se Afrikaanse diens in Natal, en die eerste vrou wat as organiseerder van ’n streek aangestel word.
Toe SAUK TV begin, is Verna as programorganiseerder vir die Afrikaanse kanaal aangestel. Joernaalprogramme, kinderprogramme, en vir ’n ruk ook dokumentêre programme en selfs die nuuslesers was haar verantwoordelikheid.
Maar natuurlik wil ek meer van Liewe Heksie weet. Waar en wanneer is die vergeetagtige Heksie nou eintlik gebore?
“Jong, die eerste storietjies het in 1961 in Durban gebeur. Destyds het die SAUK nog ’n ateljee in Grahamstad gehad, en Bessie Mentz het Siembamba daarvandaan aangebied. Sy het my gevra vir ’n kinderstorie of twee, en toe wonder ek wat sal kinders dink van ’n snaakse heksie, een wat kinders nie bangmaak nie. Aanvanklik het dit meer oor Blommie Kabouter gegaan, en ’n bietjie oor sy vriendin die vergeetagtige heksie wat hom pal in die pekel laat beland het. Die kinders was mal oor hulle,” vertel sy.
En glo dit of nie, maar ’n deeltjie van Liewe Heksie het in 1960 in Salzburg met ’n vertoning van Der Rosenkavalier ontstaan.
Verna onthou dat die pragtige silwer roos wat in die opvoering gebruik is, haar verbeelding aangegryp het.
In 1963 het die Liewe Heksie-reeks amptelik begin, kompleet met ’n silwer roos en die stoute Gifappeltjies wat dit wil steel, en ’n legende is gebore.
“Daar was meer as dertig stories. Naby veertig, as ek reg onthou. Die stories is natuurlik vir radio geskryf, maar nie almal is op plaat opgeneem nie.”
Verna het al die stemme van die Heksiestories gedoen. Maar meer mense as net die kinders het die heksie gehoor, en in 1965 het Human & Rousseau ’n reeks Liewe Heksieboeke uitgegee. Dorothy Hill het die pragtige illustrasies van Heksie met die stokkieshare en net een groot voortand gedoen.
Oor die kritiek wat deur die jare telkens kop uitsteek dat Heksie van die bose is, lag sy lekker. “Natuurlik het dit my aanvanklik ontstel, maar ek het later regtig gedink dis nogal dom. Hoe groot kan jou geloof nou eintlik wees as ’n onskuldige storiekaraktertjie dit bedreig? As Liewe Heksie boos is, moet groot dele van alle kinderliteratuur verban word, want dit wemel van hekse en ander bose karakters. En Liewe Heksie is ’n goeie, vriendelike karakter wat nie eens regtig kan toor nie.”
’n Paar nuwe Liewe Heksie-stories, onder meer Liewe Heksie en die rekenaar, het sedertdien in boekvorm verskyn, en Piet Grobler se vrolike illustrasies het dit weer onder ’n nuwe geslag kinders gewild gemaak.
Maar veel tyd vir stories skryf is daar nie, want 7de Laan hou haar taamlik besig.
“As toesighoudende regisseur moet ek al die tekste bestudeer. Ek moet presies weet wat in elke toneel en met elke karakter aangaan.”
Nie dat sy kla nie. Trouens, sy hou van haar werk by 7de Laan. “Die kontak met die verskillende spelers en veral die jongeres is heerlik. Daar is regtig ’n ontspanne atmosfeer op stel, en vir my is dit wonderlik om te sien hoe baie ongelooflike talent daar nog in ons land is.”
Net so baie as wat sy van reis hou, hou sy van Johannesburg. “Maar ek is nie ’n Transvaler nie,” keer sy vinnig. “Ek beskryf myself altyd as ’n Vrystater en ’n Johannesburger.”
Verna het, net soos Monica Breed, op Reitz in die Vrystaat grootgeword, en praat steeds met groot deernis van haar grootwordplek. (Die Reitz-tak van die ATKV het Monica en Verna vyf jaar gelede as Afrikone vereer vir hul bydrae tot Afrikaans.)
Maar dis Johannesburg wat haar hart gesteel het. “Ek het in Augustus 1963 in Johannesburg aangeland en dadelik tuis gevoel. Toe die SAUK nog in Commissionerstraat was, het ek graag in my etensuur in die middestad gaan rondloop.
Daar is van die heel mooiste art deco-geboue ter wêreld. Voor ek in 1970 hierdie huis in Brixton gekoop het, het ek onder meer in ’n woonstel langs Joubertpark gewoon – teen die astronomiese prys van R39 per maand. Daardie tyd was dit natuurlik nogal baie geld, en nog ’n pragtige deel van Johannesburg.”
Sy onthou die Hillbrow van destyds met groot genot. “Dit was wonderlik. Daar was boekwinkels en platewinkels wat saans ook oop was, en wonderlike restaurante. ’n Baie Boheemse plek.”
Sy lag maklik, en vertel met groot lekkerte ’n paar staaltjies uit haar SAUK-dae. “Ons moes eenkeer predikante toets as aanbieders vir godsdiensprogramme. Louise en Fanie Smit was destyds in beheer van die spesifieke oudisies. Louise kom eendag ingestap waar ons na ’n oudisie sit en kyk. Toe sê sy kliphard: ’Nee gits, ons kan hom nie gebruik nie! Hy lyk dan net soos Lucifer!’
Intussen sit die man binne hoorafstand. Toe sy haar flater besef, sê van pure skrik: ‘Ag, dis die beligting.’ Toe was die beligtingsman weer vir haar kwaad.”
Die arme dominee is toe wel gebruik, en alles het uiteindelik goed uitgewerk.
Nes Verna se besige en ryklik geskakeerde lewe.
Verna Vels 1933 – 2014