Vertel ons meer van jou gehoorgestremdheid
Toe ek ses maande oud was, het my ouers bekommerd geraak omdat ek nie soos ander babas woorde begin sê het nie. Ons het op ’n klein plattelandse dorpie in Noord-Natal gebly en daar was nie die nodige dokters wat my gehoor kon toets nie.
Op agt maande het ek ’n breinstamtoets by die Universiteit van Pretoria ondergaan en sensories-neurale doofheid in die ergste graad is toe by my gediagnoseer. Die spesialis het vir my ouers gesê dat ek nooit sal kan praat nie – nie eers mamma sê nie, dat ek nooit vir myself sal kan sorg nie, dat ek selfs te doof is vir gehoorapparate en dat hulle my voltyds by die Transoranje-skool vir dowes moet inskryf sodat ek ’n bietjie gebare taal kan aanleer.
In daardie tyd het my ma ’n berig in die rooi rose gelees wat vertel van ’n wonderlike program in Kaapstad. In dié program leer hulle ouers van regoor die land hoe om hul dowe kinders sonder gebare te leer praat.
My ouers het dadelik ’n afspraak gemaak en binne twee maande was ons op pad Kaap toe vir ons eerste leersessie. Dit was harde werk vir my hele gesin, met baie huiswerk en oefeninge wat elke dag gedoen moes word, maar moed opgee was nooit ’n opsie in ons huis nie. Op 2 jaar kon ek my ‘R’-klank uitspreek en kort daarna het ek in vol sinne gepraat.
Die rede vir my doofheid is tot vandag toe nog aan ons onbekend, maar dit maak lankal nie meer vir my saak nie.
Ek is baie bevoorreg – toe ek nege jaar oud was het ek my eerste kogleêre inplanting gekry en ek moes van voor af weer alle klanke aanleer. Dit was só ’n wonderlike ervaring en nuwe ontdekkingstog wat ek tot vandag toe nog sukkel om te beskryf. Die dag toe my apparaat aangeskakel is, het ek vir die eerste keer die kar se ruitveërs en flikkerligte gehoor, die hond wat blaf, voëltjies wat sing …
Op 18 het ek my tweede kogleêre inplanting gekry en dit het my gehelp om ná matriek vir ’n kursus in Somatologie (skoonheidskunde) by Centurion Kollege in te skryf.
Ek het baie, baie jare gelede reeds opgehou om ‘Hoekom’-vrae te vra – nou vra ek net waarheen.
Wat behels die Mej. Dowe SA-kompetisie
Mej. Dowe SA moet ’n ambassadeur wees vir beide horende en dowe gemeenskappe. Dit verg baie voorbereiding vir ’n skoonheidskompetisie in terme van klere, beplanning en om voor te berei vir die vrae wat gevra gaan word. Daar is baie druk en slegs meisies met ’n sterk persoonlikheid en deursettingsvermoë sal eindelik tot die finale rondte deurdring.
Mooi van buite tel net vir die helfte van die punte – jy moet kan wys dat jy al die verpligtinge sal kan nakom en dat jy werklik ’n verskil gaan maak in die dowe en horende gemeenskappe van ons land.
Vanjaar is die derde jaar wat jy aan die Mej. Dowe SA-kompetisie deelneem. Vertel ons meer hiervan.
Ek was voorheen twee keer as eerste prinses van Mej. Dowe SA gekroon en elke kompetisie het my net sterker gemaak. Ná die tweede probeerslag was ek baie teleurgesteld, omdat ek nie gewen het nie.
Vyf jaar het verby gegaan waarin ek nie weer wou deelneem nie, ek het nie meer geglo dat ek goed genoeg was om te wen nie. Ek het dit aanhou glo tot ek eendag ’n duidelike droom gehad het waarin ek ’n pers rok dra en die Mej. Dowe SA- kroon op my kop gesit word.
Ek glo dat dit God se manier was om vir my te sê dat ek goed genoeg is en dat daar ’n groter doel vir my op aarde is.
Wat is jou verpligtinge as wenner van Mej. Dowe SA?
Ek doen motiveringspraatjies by skole en ook by verskeie funksies. Ek ondersteun ook mense wat swaarkry soos dié in plakkerskampe en ouetehuise. Ek doen projekte saam met die Mej. Dowe SA-span se Decibel-veldtog om fondse vir nog kogleêre inplantings in te samel.
In Februarie vandeesjaar het ek ’n kogleêre-apparaat aan die Steve Biko-hospitaal geskenk vir ’n dogtertjie wat binnekort ’n operasie gaan kry.
Wat hoop jy om tydens jou termyn as Mej. Dowe SA te bereik?
Ek hoop dat elke mens met wie ek my storie deel ’n bietjie inspirasie daaruit sal kry en dat ons nasie my sal onthou as ’n helpende hand vir horende en dowe mense.
Ek hoop ook dat ek die kroon as Mej. Dowe Wêreld ná die kompetisie in Julie-maand huis toe sal bring.
Hoe berei jy voor vir die Wêreld-kompetisie?
Ek kry een keer per week modellesse by Glamlight in Centurion om my voor te berei vir die weeklange publisiteit-beoordeling wat voor die kompetisie gaan geskied, asook vir die vier modeparades wat ons in Praag gaan doen.
Een keer per week oefen ek ook my danstalent, want elke deelnemer moet ’n talent opvoer as deel van die kompetisie se vereistes. So ook oefen ek gereeld by Crossfit10 om oor die algemeen net gesond en fiks te bly.
Ek werk dan ook saam met my klereborg, Kyna Consili. Ons is tans besig met die voorbereiding vir my tradisionele rok en aandrok wat ek tydens die kompetisie sal moet dra.
Watter rol speel jou geliefdes in jou lewe?
Ek is ’n gesinsmens, my familie en vriende weet dat hulle baie belangrik vir my is. Hulle staan almal bankvas agter my en ondersteun my in elke doel wat ek wil bereik.
My ouers is my rolmodelle in die lewe, hulle was en is steeds ’n groot voorbeeld vir my. Daarom kan ek vandag met trots sê dat ek deur die opvoeding wat hulle vir my gegee het, sterk kan staan.
My vriend Gericke ondersteun my ook ten volle. Hy help graag om my veilig en betyds na al die afsprake en funksies wat ek moet bywoon, te neem.
Waarvan hou jy die meeste in die winter?
Wintermaande, sjoe, ek is nie ’n mens wat hou van koud kry nie. As ek regtig tyd kry hou ek baie daarvan om in die winter lekker pannekoek te bak en met ’n dik kombers voor die verwarmer te sit en televisie te kyk.
Wat is jou beste grimeerwenk?
Maak altyd seker dat jou wenkbroue perfek gegrimeer is. Dit is die raampie vir jou gesig en maak die wêreld se verskil aan hoe jy uiteindelik lyk.
Watter winterskledingstuk dink jy moet elke vrou in haar kas hê?
’n Lang wit jas, wat baie lekker warm is. Wit pas by alles en dit lyk altyd stylvol en afgerond.