kategorieë: Ons menseBekendes

Ons gesels met Charlenè Brouwer

Ons gesels met Charlenè Brouwer deur Catherine Schenck. Foto’s: Marissa Venter van Tiny Cuddles Photography

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Geluk met die babatjie wat op pad is! Wanneer word klein Daniel gebore?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ons het op ’n natuurlike geboorte besluit, en die klein mensie kan enige tyd in Desember kom. Ons almal hou duim vas dat hy voor Kersfees gebore word omdat ons hom graag twee spesiale dae in die jaar wil gun, en ook dat hy sy verjaarsdag saam met maatjies kan vier. Maar as hy besluit Kersfees is sy dag, sal ons dit net vir hom meer spesiaal moet maak. My man, Niel, hoop op die 15de, want dan gaan die dag ná sy verjaarsdag altyd ’n openbare vakansiedag wees!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Waarom het julle besluit op die naam Daniel?

Ek en Niel het al vroeg in ons verhouding gedroom oor kinders en al ons kinders se name is basies al gekies. Niel is die Afrikaanse uitspraak van “Daniel” en ons het besluit op die Engelse uitspraak van Daniel vir ons seuntjie. Daniel vir sy pa en oupa, en sy middelnaam Bergh ter ere van sy ouma Katriena wie se nooiensvan Bergh was.

Ek is nogal tradisioneel, hoewel my naam geen verbintenis met my gesin of grootouers het nie. Ek is geweldig trots op name en vanne en ek hoop dat ons ’n keuse gemaak het waarop hy ook sal trots wees. Ek glo ook as die kind nie gelukkig is met sy naam nie, kan hy dit verander wanneer hy oud genoeg is.

Dis ’n reuse-verantwoordelikheid en eer om so iets aan ’n mensie oor te dra. Miskien is ek te sentimenteel …

Na watter deel van moederskap sien jy die meeste uit?

Ek sien veral daarna uit om ’n mens sonder grense te kan liefhê. Om een honderd persent net al die liefde wat ek in my hart het in ’n wesentjie te kan instort en saam met hom sy lewe te mag deel. Om ’n lyfie te kan vashou wat net vir liefde vra … Ek wil huil as ek net daaraan dink. Ek sien uit om saam met my man die rolle van ouerskap te kan aanneem en ons lewe rondom konkrete entiteite soos familie, gesin en herinneringe te bou. Ek sien natuurlik ook uit om ’n maatjie te hê wat weer saam met my die wêreld in verbeelding en stories en onskuld kan beleef. Ek hoop met alles in my hy is so lief vir die natuur en buitelewe soos ek, want dan gaan ek en die knapie baie pret hê. As hy ’n boekwurm soos sy pa is, is dit ook reg. Maar ongelukkig sal hy van een ding baie gou moet hou: braai. Dis ons leefstyl.

As iemand wat met foto’s en film werk, weet jy hoe waardevol dit is om herinneringe vas te lê. Waarom was dit vir jou belangrik om foto’s van jou swangerskap te neem?

Dis vir my en my man ongelooflik belangrik. Ek was so bevoorreg om tydens die swangerskap saam met fotograwe te kon werk wat net die gevoel van ons kon vasvang. Ons het ook ’n geboorte-fotograaf, want ek en Niel wil foonvry en tegnologievry wees wanneer Daniel hier is sonder om die spesiale oomblikke te mis.

Lees ook: Hoe gedrukte foto’s jou kind se eiewaarde bevestig

Julle het vanjaar van Johannesburg af Kaap toe getrek. Mis jy iets van Johannesburg? En is daar iets aan Kaapstad waarvoor jy reeds lief is?

Ek was 27 weke swanger toe ons getrek het. Niel was ’n rots gedurende die trek, en ons huis sou nooit ingerig gewees het sonder my ouers se hulp nie. My ma en pa het my huis vir my kom uitpak en ek kan nie vir enige iemand beskryf wat so iets vir ’n mens beteken nie. Daai gesegde van “It takes a village to raise a child”. Ek vra nie sommer maklik hulp nie en doen dinge self, maar ek moes bitter vinnig leer om te vra.

Ek en Niel het sewe jaar in Johannesburg gewoon en baie van ons sukses is daaraan te danke. Die stad was so goed vir ons en ek sal altyd lief wees vir die groen bome en vriendelike gemeenskap waar ons gewoon het. Ek mis wel nie die gejaag nie. Ek en Niel moes die eerste week gewoond raak aan die stilte waar ons nou in die Kaap woon. Die stilte was oorverdowend. Ek is klaar ’n Kapenaar en ek is naby die see en woude en parke en die natuur. Ek dink nie daar is weer teruggaan na die binneland nie. Maar ek het ook al geleer om nooit “nooit” te sê nie. Die een ding van die Kaap waaraan ek nog nie gewoond is nie, is die wind. Dis vreeslik.

Foto: Marissa Venter: Tiny Cuddles

Jy is ernstig oor ’n “zero waste”-leefstyl. Wanneer het jy hierdie leefstylverandering gemaak, en waarom?

Die natuur het daardie besluit vir my gemaak. Wanneer ek buite hardloop of loop of fietsry, lê die wêreld bestrooi met gemors. Veral plastiek! My gewete kon nie meer saamleef met my meedoen aan “mindless consumption” nie – dinge gebruik en nie weet wat in die produkte is nie; hoe ons letterlik onsself en die wêreld vergiftig. Ek kom van die platteland waar groente net dit was. Wanneer jy deesdae op sekere gesnyde pakke groente kyk, word dit behandel met sulfate en preserveermiddels wat ’n geweldige uitwerking op sekere mense het. Ons kan soveel gesondheidsprobleme en dinge vermy deur net bewus te wees van wat die uitwerking is van dinge in en rondom ons huis.

Die meeste mense wonder hoe dit hulle raak. Gaan kyk in parke, strande en in die oseaan. Gaan  buitetoe en kyk hoekom ’n diertjie of voëltjie daar dood lê – daar sal plastiek naby of in die dier wees. Ons almal kan so ’n groot verskil maak deur klein veranderinge. Dit het my baie jare geneem om tree vir tree elke jaar een ding te verander. Dié jaar was dit herwinning en die vorige jaar sulfaatvry. Volgende jaar wil ek graag met kompos en groentetuin begin. Dis meer moeite maar die moeite werd. Ek en Niel gebruik ook eko-vriendelike doeke en produkte vir Daniel.

Een klein verandering is om te weier om met ’n plastiekstrooitjie te drink. Ek het altyd ’n glasstrooitjie by my en ek verkies ook die smaak van dinge deur die glas.

Wat is die moeilikste deel van hierdie leefstyl – veral vir iemand soos jy wat reis en geleenthede bywoon?

Die moeilike ding is die gerieflikheid. Dis minder gerieflik om ekstra moeite te doen met herwinning waar jy net kon weggooi en nie eens daaraan dink nie. Dis ook nie altyd gerieflik om my eko-vriendelike produkte te moet bestel of by uitgesoekte winkels te moet gaan soek nie. Maar vandat ek oorgeskakel het na ’n minder chemiese huis en sulfaatvrye produkte is ek en Niel minder tot selde siek. Ek is ook dankbaar dat Niel my so ondersteun en saamstem met ’n beter kwaliteit lewe as ’n lewe met kwantiteit.

Jy en jou man, Niel van Deventer, het ’n rolprentproduksiemaatskappy, Palama Productions. Waarmee is julle tans besig?

Ek en Niel het vanjaar vir die eerste keer nie saam op projekte gewerk nie. Ek was baie agter die skerms betrokke, en kon in die begin van die jaar nog in ‘n kykNET-TV-fliek saam met Armand Aucamp en Elzabé Zietsman speel – wat volgende jaar gaan wys. Ek was vier maande swanger en die arme span moes maniere kry om my en Danieltjie in gedagte te hou in die druk van film. Ek was so dankbaar vir die regisseur Andre Velts wat regtig my so goed hanteer het.

Niel het ’n vreeslike besige jaar gehad. Hy het saam met ons Johannesburg-span soveel projekte aangepak –  te veel om te noem. Hulle het onder meer ’n kortfliek gemaak vir die kykNET Silwerskermfees en dit is as die beste kort-kortfilm bekroon. Niel het onlangs klaar geskiet aan ‘n fliek saam met Pietie Beyers, Elize Cawood en Anneke Weideman met die naam Skemerson wat volgende jaar uitgereik word.

My man moes vanjaar pa staan nie net vir ons swangerskap nie, maar ook ons besigheid wat nie altyd maklik was vir ons nie. Dis moeilik om soveel verskillende hoede te moet dra in ’n huwelik. Die jaar was vol “oppe” en “affe” maar dit het ons erg voorberei op wat wag en hoe ’n goeie span ek en hy is wanneer ons ten volle vertrou op ’n gemeenskaplike eindpunt – wat in die stadium ons gesin is. Niel het ook ’n bitter groot projek volgende jaar en dis die rede waarom ons na Kaapstad verhuis het omdat die reeks in die Kaap gaan verfilm word.

Lees ook: Charlenè gesels oor “Dis Ek, Anna”

Een van die projekte waaraan julle tans werk, is die TV-reeks van Jacques Pauw se The President’s Keeper. Vertel ons oor die reeks en waarom julle besluit het om dit aan te pak.

Dit is die groot projek waarvan ek hierbo vertel het waaraan Niel werk. Hy is verskriklik passievol oor ons land en is ook vanjaar aangewys as een van News24 se 100 Young Mandelas ter viering van oud-president Nelson Mandela se honderdste verjaarsdag. Ek dink hy voel in ’n mate hierdie projek is ’n roeping. Soos met apartheid moet die land en wêreld weet van die vergrype van die Jacob Zuma-era sodat ons dit hopelik nooit herhaal nie. Dit gaan nie net ’n hoogs vermaaklike reeks wees nie, maar ook ’n reeks wat die kykers meer oor ons post-apartheid geskiedenis sal leer en wat nodig is in terme van bewusmaking oor die pad wat ons in die laaste amper dertig jaar gestap het.

Lees ook: Jacques Pauw, vreesloose woordvegter

Een opwindende projek waaraan jy volgende jaar gaan werk, is The Kiss. Kan jy meer hiervan vertel?

Ons wou eintlik al vanjaar verfilm het, maar toe besluit Daniel dit is sy jaar. Dit handel oor ’n maand of twee in 1985 toe John Kani en Sandra Prinsloo teenoor mekaar moes speel in ’n Suid- Afrikaanse verwerking van Miss Julie en op die verhoog moes soen in apartheid-Suid Afrika. Hulle het doodsdreigemente gekry en John is byna deur die Veiligheidspolisie doodgemaak.

Waarom dink jy bly dit steeds so ʼn belangrike gebeurtenis – meer as 30 jaar later?

Mense moet aan sekere gebeurtenisse herinner word om te probeer verseker dat ons baie van die foute van die verlede nie weer herhaal nie.

Wat hierdie storie soveel erger en steeds relevant maak, is dat dit kunstenaars is wat net hul rolle wou speel wat ook deur die regering van die dag geviktimiseer is en byna doodgemaak is. Daar was ook helde aan albei kante wat die tragedie gekeer het. Dis dus ’n storie oor die goedhartigheid van mense wat op die ou einde seëvier. Dit herinner ons aan wat vrees en haat kan doen veral wanneer die massa deur daardie twee elemente aangespoor kan word. Dat ons beter keuses kan maak in die toekoms vir ons kinders se onthalwe.

Kon jy met Sandra Prinsloo en John Kani oor hierdie ervaring gesels? Is daar iets wat hulle jou vertel het wat jou altyd sal bybly?

Niel en die skrywer Tertius Kapp het al met hulle ontmoet en dit was baie positief. Ek beplan om in pre-produksie so ’n bietjie by Sandra aan te klop en tyd saam met haar deur te bring, maar tans kyk ek baie na ou televisiereekse en flieks van haar om van haar gewoontes en maniërismes te bestudeer.

Hoe voel dit om ’n legende soos Sandra Prinsloo te speel? 

Ek het nie woorde nie. My grootste gebed is dat ek die legende wat sy is reg op skerm kan uitbeeld en vertolk. Dis ’n groot taak maar ek dink na hierdie jaar se uitdagings het ek net besef ek is sterker en meer volwasse as enige ander jaar en sien uit na hierdie uitdaging ook.

Julle gaan die ouers van ’n klein babatjie wees wanneer julle aan hierdie projekte werk. Hoe beplan julle om ouerskap te benader tydens die besige tyd wat voorlê?

Ek en Niel is baie geheg aan mekaar. Miskien soms te veel. Ons werk en woon saam en reis saam. Die jaar was reeds die bewys dat ons kan elkeen op ons eie voete staan en verskillende paadjies loop – solank ons net op dieselfde eindbestemming eindig. Ons wil bittergraag “co-parent”. En Niel en ek is in die bevoorregte posisie om ons tyd te bestuur. Hy gaan by my by die huis wees van Desember tot Januarie en wanneer hy weer moet reis, gaan ek na Daniel kyk. Sodra ek weer op stel moet wees vir projekte soos The Kiss gaan hy weer na Daniel kyk en van die huis af werk. Ons gaan as span en gesin saam werk, want ons voel dat ons steeds wil aanhou glo en werk aan ons drome saam met hom. Hy kom natuurlik eerste en baie dinge gaan vreeslik verander … Wanneer hy groter is en as sy persoonlikheid dit toelaat, sal hy saam op al die avonture kom en reis.

Foto: Marissa Venter: Tiny Cuddles

Wat is die lekkerste ding wat jy al vir jou werk kon doen?

Genade, daar is te veel! Dis geweldige harde werk maar die hoeveelheid lewensblootstelling wat ek ontvang het. Om saam met Dana Snyman te reis, tot oorsee reis en die Camino te stap. Om ’n hondehotel te kon besoek tot ’n meestersjokolademaker in Pretoria te sien werk.

Ek is so dankbaar en dit brei jou lewenskennis net so uit. Ek en my man was deur al die avonture saam. Ons moes vir die Camino-reeks ’n boks met 40 kg se nartjies dra in ’n Spaanse stad. Net ek en hy en daai 40 kg nartjies wat ons huwelik meer getoets het as enige ander stryd in ons werkslewe. Ons het naderhand net mekaar in die middel van die stad begin omhels en lag, want ons was al deur soveel dat om daardie boks tot in die kar te kry ons nie sal breek nie.

Jy is regisseur van reisreekse en ander dokumentêre programme. Wat is die lekkerste deel van hierdie tipe projekte?

Dis ongelooflik lekker om te kan reis. Om mense te leer ken. Om jou wêreld oop te kan neerlê en te sê “Ek het al baie gesien en meer – maar deur al hierdie is dit wie ek is en wat ek kies om te glo en wees wat die impak op die wêreld het.”

Wat is jou gunsteling-reisbestemming?

Daar is te veel. Elke liewe plek hou soveel kosbare oomblikke vas. Van Ierland waar ek soos kind gehuil het omdat ek nie die Cliffs of Mohair in die mis kon sien nie en arme Niel my moes troos, tot ons gunstelingmark “De Serveet” in Delft, Nederland, wat ’n jaarlikse herfsdorpsmark is.

Ek kan nie my lewe indink sonder Niel en ons besigheid en avonture en nou ons gesin nie. Dit is nie net maklik nie. Inteendeel, dit was al baie moeilik maar as ek so terugdink dan ervaar jy die mooi en dink: Ons is al deur soveel. Wat kan nog ’n uitdaging wees? En wat dit ook al is, bring dit. Ons sal dit ook saam aanpak en sterker anderkant uitkom.

Kyk hier na Charlenè se swangerskapfoto’s:

Charlenè se rokke: Silver Swallow Design eksklusief beskikbaar by Cocoberry.

Foto’s deur Marissa Venter van Tiny Cuddles Photography

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

10 redes waarom jy die Desember-uitgawe van rooi rose móét lees!

  Suzette en Skye: Sielsmaats met die liefde saamgesnoer    Suzette van der Merwe…

5 hours Gelede

Van ‘slop’ tot ‘demure’: Hier’s die ses woorde wat meeding om Oxford se Woord van die Jaar

Vanjaar se kortlys, wat van dié jaar se gemoedstoestande en gesprekke opsom, is deur OUP…

6 hours Gelede

Hoe om beter met jou lewensmaat te kommunikeer

Goeie kommunikasie in ’n verhouding laat die liefde blom. Maar soms eindig verskille in ’n…

8 hours Gelede

Hoendergereg in romerige tamatiesous

Deur Rediscover Dairy   Voorbereidingstyd: 5 minute  Gaarmaaktyd: 20 minute  Bedien: 4 porsies  Porsiegrootte: 300…

9 hours Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Riaan Grobler, ’n meester van musiek en stories

Riaan Grobler, ’n geliefde radio-omroeper by Pretoria FM asook bekende skrywer en sanger, bewys weer…

9 hours Gelede

Lamskenkel-en-waterblommetjie-bredie

Bestanddele   45 ml (3 e) olie 4 klein lamskenkels, die sening afgesny 2 wortels,…

11 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.