Ons gesels met Adrio van der Walt van Atlantiseers. Foto’s verskaf.
Is jou ore gereed vir ’n seevakansie? Atlantiseers, die Afrikaanse indie-groep van Johannesburg, gee nie om of jy gereed is nie: Die groep se eerste enkelsnit, Desember my nou, vervoer jou onmiddellik na die strandhuis waar jy eintlik al heeljaar wou wees. Dié enkelsnit, wat saam met Bouwer Bosch opgeneem is, vang die sonskyn en sorgvrye dae van Desembermaand in klank vas – en natuurlik is daar ook sprake van ’n vakansieromanse, want geen Desember is ’n regte Desember sonder ’n vry in die duine nie …
Ons het met Adrio van der Walt, Atlantiseers se voorsanger en liedjieskrywer, gesels.
Vertel ons meer oor Desember my nou.
Ek wou met Desember my nou ’n liedjie skep waarin mens die pret en gees van die vakansie kan hoor én voel.
Verlede jaar, toe dit begin somer raak en die aande al warmer, het ek na die see verlang, en die wysie het net een aand in my kop begin speel. Ek het dadelik voor die klavier gaan sit en dit op my foon opgeneem. Die liedjie vier nuwe liefde in die wonderlike Suid-Afrkaanse somer. Die paartjie in die liedjie ontsnap uit die stad en gee hulleself oor aan alles wat Desember verteenwoordig.
Toe ek die song vir Bouwer Bosch speel, was hy dadelik gretig om te feature op die liedjie. Ons het saam met ’n videoproduksiespan studio toe gegaan, die liedjie opgeneem en dieselfde dag nog die video geskiet.
Hoe het jy en Bouwer mekaar ontmoet, en hoe het julle besluit om saam te werk?
Ek en Bouwer het al in 2014 ontmoet in Johannesburg by kykNET. Bibi Slippers het ons aan mekaar voorgestel.
Bouwer is net ’n all round great ou en hy was gretig om hierdie saam met my te doen.
Lees ook: Bietjie meer oor Bibi Slippers
Desember my nou is oor die gevoel van vakansie-hou. Wat is die lekkerste vakansiegevoel vir jou?
Sonder twyfel die oomblik as ons uit die stad uit ry en iemand gee vir my die aux-kabel aan. Dit gaan pop-musiek wees tot by die strand!
Kyk hier na Desember my nou se musiekvideo
Luister ook an Atlantiseers se album Verhoudingspolitiek en volg hulle op facebook en Instagram.
Desember my nou is deel van jou debuutalbum, Verhoudingspolitiek, wat pas vrygestel is. Waar kom die titel van jou album vandaan?
Die album is al deur ’n paar name! Dit sou eers “Mooiweersvriend” wees en toe “Ek sal as jy sal”.
Verhoudingspolitiek is nie ’n titelsnit nie, maar dit kom wel uit die laaste liedjie op die album – dit is ’n breakup album, so die titel waarsku die luisteraar oor wat kom. Die album is effens donker hier en daar.
Vertel ons meer van hierdie album.
Popmusiek is soos tegnologie. Tegnologie help ons om kulturele en sosiale probleme op te los. Tegnologie sonder die probleme is nutteloos. Dis vir my dieselfde met musiek – musiek is ’n ongelooflike tegnologie wat ons help met ons emosies, of dit nou plesier of hartseer is.
Die strategie was om ’n goeie breakup-album te skryf, wat aanklank sou vind by die deurmekaar en hartseer emosies wat met liefde saamkom. Die idee was om by die grootste gehoor moontlik ’n gevoel te skep – en die beste manier om by mense ’n eerlike gevoel te skep, is om by jouself die gevoel wakker te maak.
So alhoewel die aanvanklike strategie nie noodwendig was om oor myself te skryf nie, het ek gevind die beste liedjies gebeur wanneer ’n mens baie eerlik skryf oor wat jy regtig voel. Van die snitte is generies en konseptueel, en ander beskryf regte egte gebeurtenisse.
Jy maak al vir ’n tyd lank musiek. Wat het jou laat besluit om ’n album vry te stel?
Ek het my producer Jacques du Plessis al in 2013 ontmoet deur ’n ander projek en ek wou van toe af al saam met hom werk. Toe ons besluit om hierdie Afrikaanse projek te doen het ons eers een liedjie gedoen, toe nog een, en toe besluit ons om ’n hele album aan te pak.
Ek het op daardie punt in Zimbabwe gebly so dit was natuurlik moeilik om vinnig studio toe te gaan vir ’n sessie. Jacques het my gewys hoe om met relatief eenvoudige toerusting en tegnieke my idees te track en dit vir hom aan te stuur. Ek het met ’n mikrofoon, oorfone en my laptop teruggegaan Zim toe en begin skryf.
Ons stelsel het goed gewerk, en toe ek uiteindelik terugtrek Suid-Afrika toe, het ons net so aanhou werk. Ek het baie dele in my woonstel in Rosebank opgeneem en dit vir die studio aangestuur
Waarom het jy juis gekies om ’n Afrikaanse album te maak?
Nadat ek studeer het, het ek eers jazz gespeel en in Engels geskryf, omdat ek gevoel het die mark is baie groter.
Ek het in 2015 in die pubs gaan musiek speel in Dublin, Ierland. Ek het daar gesien dat hoewel die mark groot is, dit ook baie moeilik is om ’n merk te maak omdat daar so baie kunstenaars is. Terwyl ek daar was het Francois van Coke sy debuut solo-album vrygestel – ek het dit gedownload en begin luister – en daar in Ierland het ek besluit ek gaan in Afrikaans skryf. Ek het sy hele album uitgeskryf en getransponeer, en dit het my aan die gang gesit op my eie Afrikaanse avontuur.
Afrikaans kom natuurlik vir my en ek dink daar is ’n geleentheid om Afrikaans op nuwe, meer eerlike maniere aan te bied.
Jy is opgelei as jazz-musikant. Vertel ons oor jou musiekopleiding.
Ek hou nog altyd van musiek, en het in die kerk leer speel soos al die ander Afrikaanse musikante.
Ek het eers Ingenieurswese studeer – en aan die begin van my finale jaar by die Universiteit van Pretoria het ek ’n paar ouens ontmoet wat Jazz by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) in Pretoria studeer het. Ek het hulle kampus gaan besoek en ek het dadelik besluit dis wat ek wil doen. Die probleem was dat ek geen formele musiekopleiding gehad het nie, en om in te kom by TUT moet jy nogal jou storie ken.
Ek het toe begin klavier-en teorielesse neem. My eerste eksamens het ek saam met 8-en 9 jariges geskryf – ek kon nie in die eksamenbanke inpas nie ek moes op my skoot skryf!
Maar ek het dit gedoen gekry en aan die einde van my finalejaar ingenieurswese het ek twee eksamens geskryf: een vir my ingenieursgraad en een vir toelating om Jazz te studeer by TUT. Altwee was gelukkig suksesvol!
Ek het saam met ongelooflike musikante en lektore studeer en ek het so baie daar geleer. TUT se sillabus is baie goed. Ek het gefokus op kitaar, my tweede instrument was klavier en ons het ’n lekker jazz-koor gehad wat ek baie geniet het.
Wat het niemand jou vertel voordat jy die album aangepak het nie, maar wat jy deur die proses geleer het?
Ek dink nie ek het besef hoe uitmergelend dit kan wees nie. Dis net 14 liedjies maar ek het definitief die hoeveelheid werk en wilskrag wat dit gekos het, onderskat.
Niemand sit en wag om jou te help nie. Dis moeilik, jy moet self uitvind hoe dit werk en dan moet jy dit laat werk, anders gaan dit eenvoudig nie gebeur nie.
Ek het baie geleer in die proses en kan nie wag om die hele proses weer van voor af te doen nie.
Watter musikante inspireer jou?
Ek luister baie pop-musiek – ek dink dit is ’n ongelooflike medium om ’n groot aantal mense te kry om jou musiek te geniet. Tay-Tay [Taylor Swift] definitief, John Mayer vir liedjieskryftegnieke. Meer onlangs het ek begin luister na Emily Warren en ek geniet haar eerlikheid. Ek is Jack Antonoff se grootste fan en van my liedjies is verregaande rip-offs van sy absolute briljante werk. En Zara Larsson.
Ek dink dis meer die pop-kultuur wat my inspireer as individuele kunstenaars.
Ek luister baie musiek – volg my op Apple Music om te sien wat ek luister!
Wat wil jy graag in 2019 vermag?
Ek wil graag met die album toer en ook begin skryf aan die volgende een. Dit gaan harde werk wees maar ek kan nie wag vir die jaar om te begin nie!