Ons ervaring in China met die Coronavirus – een leser vertel deur Belinda van Vuuren. Foto’s: Belinda van Vuuren.
Só lyk dit nou in China
Ek en my man, Lukas, woon reeds sedert Februarie 2017 in China. Nooit het ons gedink dat ons verplig sou word om op enige stadium ‘n verlengde vakansie te neem as gevolg van ‘n virus nie.
Tog is dit presies die situasie waarin ons – en duisende ander – tans is.
Lees ook: Alles wat jy nou oor die Corona-virus moet weet
Met die aanbreek van ons skoolvakansie, was ons bevoorreg om twee familielede vanuit Suid-Afrika te ontvang, die eerste keer wat enige familie of vriende vir ons kom kuier het!
Nodeloos om te sê dat ons opgewondenheid groot was.
Ons vlugte na die Fillipyne was reeds bespreek en betaal, en daarna sou ons terugkom China toe om hulle hierdie pragtige land te wys.
Die eerste nuusflitse van die Coronavirus het deurgekom net voordat ons vlug vertrek het.
Ons besoekers moes ook noodgedwonge maskers koop en dra.
Dit was nie net vir hulle vreemd om op die Chinese treinstelsel te beweeg of in ‘n huurmotor rond te ry nie, hulle moes ook sien hoe duisende om hulle skielik maskers dra, binne geboue en buite.
In die Fillipyne het ons daagliks op sosiale media verneem dat die situasie al ernstiger geword het.
Selfs die Fillipyne het begin maskers dra, en binne ‘n dag of twee is alle maskers uitverkoop op Siquijor, waar ons op daardie stadium was.
Die Fillipyne is ‘n gewilde vakansiebestemming vir Chinese en daarom het dit sin gemaak dat die mense hulself moes probeer beskerm.
Wanneer ons in ‘n winkel ingestap het, het ons gevra vir maskers, hetsy dit ‘n klein plekkie langs die pad was, deel van die plaaslike “village”, of in die groter dele se apteke en supermarkte.
Daar was niks beskikbaar nie.
Wanneer mense gehoor het ons is van China, het hulle ons dadelik gevra of ons bewus is van die virus en die erns daarvan. Ons is telkemale aangeraai om nie terug te keer nie.
Op die tweede eiland waar ons was, Puerto Galera, kon ons ‘n paar maskers kry, waarmee ons teruggevlieg het.
Intussen het die skool waar ek en Lukas werksaam is, ons gereeld op hoogte gehou van besluite wat deur die maatskappy en regering geneem is.
Ons moes ons reisplanne verander.
Om terug te keer na Foshan, China, was nie ‘n goeie plan nie.
Ons moes wag totdat die regering bepaal wanneer die skole weer sou kon oopmaak. Vanaf ons Suid-Afrikaanse ambassade het ons tot op datum nie ‘n woord gehoor nie, geen e-pos, geen dokument, geen oproep.
Ons 10-dae lange vakansie is verleng na drie weke.
Skielik het ons besef dat ons besoekers eerder direkte vlugte terug na SA moes neem.
Om terug te keer na China, om hulle bagasie op te tel, sou bitter moeilik wees omdat meeste van die vlugte na China gekanselleer was en die grensposte tussen China en Hong Kong gesluit het.
Ons planne om hulle die meer landelike areas in China te gaan wys, om hulle na die markies te vat waar hulle na hartelus klere en skoene en handsakke kon koop, en die lekker eetplekkies wat ons sou besoek, was nou van die baan.
Ons het die reisagentskap waardeur ons kaartjies bespreek het, probeer kontak om die vlugte te verander, maar omdat daar soveel miljoene ander reisplanne moes maak, het ons geen terugvoer ontvang nie.
Teen die tyd wat ek wel ‘n e-pos ontvang het, was ons al terug in China.
Hierdie situasie het my weer baie dinge geleer.
Eerstens is die mensdom ‘n interessante mengsel van opinies, lewensuitkyke, en persoonlikhede. Elkeen van ons hanteer die situasie anders. Omdat ons deel is van ‘n paar verskillende groepe van “expats” in China, sien ons op ons plaaslike WeChat-toepassing hoe mense reageer. Sommige kies om nooit weer terug te keer na China nie, ander is bloot bekommerd oor hulle salarisse, party hou daarvan om ander op te sweep, en ander is rustig.
Tweedens is dit ook duidelik dat daar mense dwarsoor die wereld is wat die situasie uitbuit deur die Chinese mense te veroordeel, die regering aan te val, en wat selfs hulself verlekker hierin.
Ons wat hier woon, weet wat die waarheid is, en dit is dat die Chinese regering en die mense alles in hulle vermoë doen om die virus te stop.
Ons word by elke moontlike punt gestop waar ons temperatuur gemeet word, almal dra maskers, meeste mense dra ook handskoene, openbare vervoer is beperk tot die minimum, en almal word aangeraai om binne hulle woonplekke te bly. Ja, dit het in China begin, maar dit kon net so wel in enige ander land in die wereld gebeur het.
Met ons aankoms terug in China, was die Guangzhou Lughawe leeg, byna verlate.
Dit het vir ons onwerklik gevoel.
Nog nooit op enige stadium het ons dit al ooit so leeg gesien nie.
Ons moes vooraf ‘n taxibestuurder reel om op ons op te tel, sodat ons seker kon wees van ‘n rit huis toe, omdat meeste taxis kies om nie te ry nie.
Op ons uurlange rit, het ons geen busse sien ry nie – wat ook ‘n rariteit is.
Die hoofpaaie was oop – en dit in ‘n stad van miljoene mense.
By elke tolhek is ons een vir een gemeet vir koors, en by ons kommune moes ons bewys dat ons hier woon voordat ons toegelaat is.
Geen aflewerings of mense van buite word hier binne toegelaat nie.
Op hierdie stadium weet ons nie wanneer ons toegelaat sal word om terug te keer tot ons skool nie.
Ons Chinese onderwysers begin vandag aanlyn-klasse aanbied en volgens ander mede Suid-Afrikaners in verskeie provinsies, gebeur dieselfde by ander skole. Sommige skole vereis wel dat hulle internasionale onderwysers ook aanlynklasse aanbied. Sommige skole vra dat hulle dit vanuit hulle woonplekke in China doen, maar meeste skole verkies dat hulle internasionale onderwysers eers bly waar hulle is – hetsy in hulle eie lande, of by hulle vakansieplekke waar hulle was met die uitbreek van die virus.
Ons dogter, haar man en babadogtertjie van 8 maande, het aan die begin van die vakansie na SA gereis. Hulle sou ook al teruggekeer het, maar het besluit om vir eers in SA te bly omdat hulle nie hulle dogtertjie aan die situasie wil blootstel nie. Hulle woon reeds 5 jaar in China, het ‘n hondekind en twee kattekinders wat nou versorg moet word totdat hulle terugkeer.
Ons het verkies om na drie weke in die FIllipyne terug te keer China toe omdat dit vir ons die beste besluit was.
Daagliks was daar uitdagings wat ons moes hanteer.
Dit was moeilik om vlugte te kry wat Guangzhou toe sou kom: ons vlug is een keer gekanselleer en een keer verander, en ons aanvanklike navraag is eers na drie weke beantwoord.
Terugbetalings van gekanselleerde vlugte neem langer as ‘n maand. Ons sit met ons familielede se bagasie wat op een of ander manier nou Suid-Afrika toe gestuur moet word. Ons aanlynbestellings vat weke om afgelewer te word. Terwyl dit in die verlede binne 3 dae voor ons voordeur afgelewer was, word dit nou by ons kommune se hek afgesit waar ons dit moet gaan haal, en selfs restaurante hier binne word nou aangeraai om toe te maak vir instapkliente – kos kan wel afgelewer word.
Hierdie maatreëls is nie prettig nie, en dit is nie noodwendig maklik nie.
Ons is maar nog net drie dae terug in ons woonplek, en voel reeds vasgekeer. Ons kan net soveel TV kyk, boeke lees, en op ons selfone kommunikeer wat ook moeilik is omdat die internet oorlaai is met miljoene wat skielik aanlyn moet werk en klasgee, en ons weet nie wanneer die skool sal oopmaak nie. Party spekuleer dat dit dalk eers middel Maart sal wees. Niemand is seker nie.
Waarvan ek wel seker is, is dat ons gelukkig is.
Hier waar ons vir die laaste 4 jaar woon, geniet ons die kultuur, die mense, die vryheid, veiligheid, die geleentheid om te kan reis, die avontuur.
Die virus is hier – en daaroor is geen twyfel nie – maar ons glo ook dat dit vanself sal uitwoed.
Ons verlengde vakansie is ‘n realiteit, en ons maak die beste daarvan.
Ons bly positief, ons probeer besig bly, en ons aanvaar regulasies wat ingestel is tot die beskerming van alle mense hier.
Net soos wat ons bid vir almal se veiligheid hier in China, bid ons ook vir ons mense tuis, in Suid-Afrika. Mag almal daar veilig wees, en mag almal weet dat ons hier alles doen wat moontlik is om blootstelling aan die virus te verhoed.