Ons skaterlag en hap dan skaamteloos om die beurt aan ons Turkish Delight kaaskoek, ons sjokolade-kaaskoek en ‘n dekadente kolwyntjie met stroopwit-versiersuiker. Sommer so oor-en-weer uit mekaar se borde. Skuldgevoel? Watwou. Ons ken mekaar, goed. Té goed.
Hier, op die vooraand van Vrouedag, sit ek middel-van-die-week in ‘n volgepakte koffiewinkel saam met die twee van die drie vroue wat my broers as hul wederhelftes gekies het. Die vierde stoel aan die tafel is leeg. Dis Grietjie se stoel – die vierde skakel in ons susterlike familieketting en een wie se naam tydens die gesprek ‘n paar keer opduik.
“Volgende keer móét Griet saam.” Ek knik, kouend en wonder stilweg wat die grasieuse Griet van ons drie kouendes se koskeuses sou sê. Sien, Griet eet Sondae die oorskiet-slaai, ons drie duik vir die poedingbak. Staan-staan, lepel in die hand.
As die oudste van vier met drie jonger broers was susters vir my nog altyd ‘n vreemde konsep, soos PMS en ponytails. As jy tussen manne grootword ken jy van vriendinne, hul grille en giere. Maar skoonsusters . . . met tyd het ek geleer om hierdie spesie te laaik. Regtig te laaik.
Die vergeelde woordeboek op my sitkamerkas sê ‘n skoonsuster is:
1. Suster van iemand se eggenoot of eggenote; eggenote van iemand se broer.
2. Eggenote van die broer van iemand se eggenoot.
3. Skoonmoeder van ‘n mens se kind.
Heeltemal te formeel en verstok vir my. Sien, vir my is skoonsusters kleurryk, kreatief, kanniedood en soms heeltemal kens.
Daar’s Wiesie, oftewel Louisa, met haar neus pal onder ‘n kombers of in ‘n boek. Die leesgoed is soms geleerd, soms breindood, maar lees, léés sy. Bewaar jou as jy haar pla (of vroeg wakker maak). As sy nie lees nie ry sy perd, of kry jy haar iewers langs die pad, borrels in die hand. Haar kennis is baie en haar mag (veral oor broeder-lief) nog meer.
Behalwe Grietjie se liefde vir blare en water staan sy ‘n outydse ses-voet-iets in haar sokkies. Sy kyk jou vierkant in die oë en dra graag haar Ouma en Ma se juwele en stene wat stories vertel. Griet ken van konsert en gebruik haar liefde vir drama om die taai lewe in Lagos nuwe oemf te gee; haar serpe gewoonlik langer en kleurryker as sy.
Nallie, oftewel Sunelle, is die wyse baba-sus. Die een met emmers vol geduld en hande wat altyd regstaan om te help. Sy’t ‘n roompie vir elke kwaal, maak in my afwesigheid my kinders stil-stil groot en as sy naby is staan vuil skottelgoed nie ‘n halwe kans nie. Haar hart is sag, maar sy ken van aanhou en uithou . . . en maak pampoentert wat jou laat vra vir nog.
Dis die drie; soveel meer as die susters van iemand se eggenoot of eggenote of die eggenote van iemand se broer.
Skoonsusters, my skoonsusters. Ek weet, as ons ooit weer soos die vroue in 1956 braaf moet saamtrek teen iets waarin ons glo, soek ek dié drie aan my sy. Omdat ek hulle laaik. En omdat hulle my (en my broeders) vat soos ons is.
Gelukkige Vrouedag! Tot volgende week,
Marí