De Klerk Oelofse en Andries Adendorff kom al ’n lang pad – van 2017 met die toneelstuk Nêrens, Noord-Kaap, die eerste reeks van Nêrens, Noord-Kaap en nou Nêrens, Noord-Kaap Deel II.
De Klerk Oelofse gesels met ons oor sy karakter en hoe dit was om weer in Andries se skoene te klim.
Hoe het jy weer in Andries se skoene geklim? En hoe het jy die tyd wat intussen verloop het, gebruik om dit te doen?
In terme van die karakter het ons tussen die skiet van Deel I en Deel II ’n hele klomp keer weer die toneelstuk opgevoer. So, dit het nooit regtig gevoel of ek weer na Andries moet gaan soek nie. Ons het ook kort ná Deel I geweet daar kom ’n Deel II. Ek het hom dus nie te diep gaan wegbêre nie.
Andries se skoene in die program is letterlik De Klerk se skoene – skoene wat ’n vriend vir my jare terug gegee het. In tipiese Andries-fashion het ek (as De Klerk), die skoene langs ’n drom in Europa gelos toe ons klaar geskiet is, net om die hoofstuk af te sluit.
Dis reeds teen die tweede episode duidelik dat Andries ’n ander koers in Deel II gaan inslaan. Sonder om iets weg te gee: Hoe lyk sy pad vorentoe?
Ek dink Andries sit tot ’n groot mate sy reis van Deel I voort. In Deel I het mense hom nogal geoordeel as die klein snert wat heeltyd weghardloop, maar soos Maggie (Ilse Klink) so mooi in Deel II op ’n stadium sê: “Hardloop beteken nie altyd weg van iets af nie – ’n mens kan ook na iets toe hardloop.” Andries soek ’n plek waar hy kan inpas. Hy het die wêreld al platgetrap in sy soeke, en ek wonder of hy op die ou end gaan besef dis nie die grond waarop jy staan wat jou laat pas nie, maar eerder wié saam met jou daarop staan.
Is jy, Geon en Albert soos broers?
Vir my is hulle. Onthou, ons drie en Nico [Scheepers] deel al hierdie storie van 2017 af. Ons vier het al saam oor die land gereis met die teaterstuk. As mens so lank in mekaar se lewens is en tyd saam spandeer, sien mense jou op jou beste en op jou slegste, en jy is gemaklik genoeg om dit sonder skaamte voor hulle te kan wees. En is dit nie maar eintlik wat familie is nie?
Hoe het Nêrens, Noord-Kaap jou lewe beïnvloed?
Sjoe, ja. Hierdie projek al lank in my lewe. Ons het die toneelstuk al 60 keer opgevoer, wat min klink, maar dis baie vir ’n stuk wat nooit vir weke lank in ’n groot teater gespeel het nie. Ek het baie geleer. Al was dit net om op die verhoog te lê en luister hoe Albert en Geon klein verstellings aan frases en klemme maak om die stuk selfs ná ses, sewe jaar vars te hou en nuwe betekenis te gee. Dis ’n uitdaging en ’n ander tipe dissipline.
My laaste dag van Deel II het ons in Nederland geskiet. Toe ek daar klaarmaak, toe weet ek, ek is nou klaar met dié projek, en dit was die perfekte einde. Omdat ons so ’n klein span aan daai kant was, met almal wat alles doen, het dit ’n bietjie gevoel soos ’n klomp pelle wat ’n kans vat en iets probeer, maar iets waarin ons almal glo. Dit was vir my net soos toe ek, Albert, Geon en Nico sewe jaar gelede in Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad se klubhuis by hulle sportvelde gesit en timmer het aan die teaterproduksie. Die vol sirkel het my opnuut herinner hoe lief ek is vir wat ek doen.
Het jy en klein Andries ooit saamgewerk om die karakter te vorm? Dis verstommend hoe die karakters selfs net in ’n kyk of ’n maniërisme dieselfde is.
Dis eintlik baie snaaks, want toe ons destyds Deel I gemaak het, het ek en Johannes, klein Andries, mekaar net een keer ontmoet toe ons voor die reeks promosiefoto’s geneem het. Hierdie keer was ons darem vir ’n rukkie saam in Nieuwoudtville, waar hy my een middag laat les opsê het in ’n “Andries vs Andries”-sokkerwedstryd. Maar nee, ons het nooit saam aan die karakter gewerk of eintlik eers oor Andries gesels nie. Ek dink as jy met ’n begaafde regisseur soos Nico werk, kan jy vertrou dat hy sal sorg dat die karakters ’n eenheid vorm.
Hoekom praat hierdie reeks so hard met kykers?
Ek dink mense identifiseer met die karakters. Met die toneelstuk het mense altyd ná die tyd vir ons goed gesê soos “ek is die Frans in my gesin” of “ek het ’n oom soos Ronnie.” Ek dink vir Afrikaners is familie belangrik, en kykers begryp die situasies waarin die karakters hulself bevind – juis omdat dit so bekend en eg is. Ek dink wat Nico so briljant regkry met die reeks is nie noodwendig wat die karakters vir mekaar in hierdie situasies sê nie, maar juis dit wat nie gesê geword nie.
Lees ook: Neels van Jaarsveld vertel meer oor Wim se dramatiese ‘Diepe Waters’-einde
Waarmee anders is jy besig?
Ek werk op die oomblik aan ’n nuwe seisoen van Kyk wie praat, en hierdie week begin ek met my gunstelingdeel van die program: om nuwe klitse vir my klas uit te toets.
As jy terugkyk op jou loopbaan, waaroor is jy dankbaar?
Ek het soveel om voor dankbaar te wees. Ek dink my loopbaan is van so ’n aard dat elke medium waarin ek werk – teater, televisie, radio en film – my toelaat om die proses van iets skep met ’n klomp mense te deel. Ek het deur die jare met ’n magdom talentvolle skeppers en kunstenaars gewerk, en met elke produksie word daai mense familie vir daardie tydperk. Dis alles eintlik een groot spansport, want elkeen het ’n hand aan die eindproduk. So, ek dink wat ek probeer sê, is: Ek is dankbaar vir almal wat al saam met my geskep het.
Kyk saam elke Dinsdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144. Nêrens, Noord-Kaap Deel II is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae met Luandri Reynders oor haar bittersoet Binnelanders-afskeid en nuwe begin