Ek wonder soms oor huldeblyke en hoe lank ’n boodskap aan ’n gestorwe geliefde behoort te wees – en eerder nie behoort te wees nie.
Nie dat ek van mening is dat daar enige woordperk aan die finale geskrewe groetwoord aan ’n spesiale mens hoef te wees nie.
Soos die onvoorspelbare lewe loop, moes ek die laaste paar jaar ’n paar keer reël vir die koerantkennisgewing van iemand se afsterwe.
Sonder om vingers te wys of te teem oor tariewe, was dit elke keer baie duidelik dat woorde peperduur is.
Jy moet jou gedrukte woordafskeid spaarsamig weeg – of behoorlik opdok.
Ons almal het ons koerantleesgewoontes. Myne is om die voorblad en hoofopskrifte te lees en dan eers deur te blaai tot by die “Sterfgevalle”.
Elke foto vertel reeds ’n verhaal en dikwels is die boodskap daaronder ’n kragtige opsomming van ’n geseënde, dog té kort lewe.
My dogtertjie loer dikwels oor my skouer as ek koerant lees en sy het ’n rukkie gelede tot die gevolgtrekking gekom dat dit gevaarliker is om ’n vrou met grys hare te wees, as enigiemand anders – dit is nou te oordeel aan die hoeveelheid bejaarde dames wie se foto’s daagliks onder “Sterfgevalle” verskyn.
Sy het my toe sommer in dieselfde asem subtiel aangeraai om weer ’n draai by die haarsalon vir ligstrepies te gaan maak. Seker ’n teken dat sy darem nog hou van die feit dat ek hier is en my ten spyte van ’n gejaagde kwartaal en baie bekgevegte, nog hier wil hê …?
Ek het pas 40 geword. Hoewel almal dit ’n “mylpaalverjaardag” noem – en ek weliswaar moet erken dat ek self effe verstom is dat ek nou regtig by vier dekades trek – was dit maar net nóg ’n verjaardag midde net nog ’n eindeksamen (darem nie meer my eie nie, maar ’n ma ly mos maar steeds aan eksamenstres).
Verstaan mooi: Ek is baie dankbaar dat ek nog ’n jaar en verjaardag kon beleef en oorleef, want die alternatief is mos nie juis vrolik nie.
Maar, verby is die gewroeg van mylpale soos 25, 30 en 35 waar mens verplig gevoel het om nog jouself te vind, jouself te vestig en jy gevoel het jy moet “uithaal en wys”. Gelukkig is mens op 40 dan ook wys genoeg om te besef dat “uithaal en wys” jou summier in die tronk kan laat beland …!
Middeljarige grappies op ’n stokkie: Hoe voel ek daaroor om 40 te wees? Dankbaar ek lewe – die afgelope paar maande het ek weer eens besef dat die lewe en om te lewe nie ’n gegewe is nie. Ongelukke gebeur, wilsbesluite om op te hou lewe gebeur, verliese só groot dat mens self moontlik op die rand van opgee gaan staan, gebeur. Kortom: Die lewe gebeur.
Totdat dit die goor taak vir een van jou geliefdes is om jou lewe in ’n huldeblyk op te som, is elke jaar, elke week, elke maand en elke verjaardag en mylpaal rede tot dankbaarheid.
In P.G. du Plessis se drama “Siener in die Suburbs” sê die karakter Tiemie: “’n Mens wil nie soos ’n hond vrek nie. Jy wil van geweet wees. O, ek wil so graag van geweet wees.”
Dalk is dit maar ons almal se behoefte? Om só te lewe dat jy nie alleen en onbekend en onbemind sterf nie? Dat daar ten minste ’n handjie vol geliefdes is wat jou lewe vier – die dag as jy nie meer kan nie.
Wat is my wense vir my een-en-veertigste jaar?
Wêreldvrede en ’n einde aan alle konflik sou eerste prys wees. Met twee pretieners aan’t huis kry ek nie eers huislike vrede nagestreef nie.
Maar, bowenal sou ek wil hê dat hoe ek die volgende jaar lewe, die mense om my belangrik sal laat voel. Want, op die ou end is dit hoe mense jou onthou – vir hoe jy hulle laat voel het.