Nou kyk, mens moenie skaam wees om eerlik te wees nie. Glo ek. Sê wat jy dink as jy voel jy moet. Dus waag ek die kans. Ek ken jou nie, en jy ken my nie. Wat ek weet is: jy’s in 1965 gebore, dit maak jou ’n amperse vyftigplusser. Ses jaar ouer as ek. Ek hoef nie vir jou Oom te sê nie; ons bly min of meer op dieselfde plek, ons kinders is min of meer in dieselfde fases van hul lewe en albei van ons skryf vir rooi rose. En ek weet jou bestaan is ’n langpad-grondpad een waar rock en blues die ritme hou.
Dis wat ek weet.
Wat ek nie geweet het nie is dat jy eintlik ’n ander naam en van het; Pierre Nolte se prentjie lyk nie soos Valiant s’n nie. Pierre Nolte hoort in ’n pak en ’n das, Valiant Swart dra jeans, ’n ou trui en ’n hemp wat sukkel om binne te bly. Nes Marí Lategan – sy hoort in ’n swart suit met gemaklike, verkieslik vierkantige hakke, Mamma Marí dra jeans, ’n tuisgebreide trui en tekkies.
Dis wat ek weet.
Ek weet ook dat ek nie hoef weg te steek dat ek jou en jou musiek eers later in my lewe leer ken het nie. Ek weet van Voëlvry, maar was ’n nerd wat nie genoeg my kop opgetel het nie. Ek ken Sonvanger woord vir woord – nie noodwendig omdat jy dit gesing het nie, maar omdat ander dit so luid kon uitbasuin. Eers later besef dis jou breinkind. Late-bloomer, dis ek.
Dis wat ek weet.
Wat ek nie weet nie is hoe dinge vir my en jou oor die volgende paar jaar gaan lyk. Op ’n Maandagaand dié week lui jy en jou fenomenale band ’n nuwe fase van my lewe in – ek verkoop my besigheid en vandag word ek en my talentvolle span deel van Curro, die onafhanklike skolegroep wat amper net so oud is as wat ek getroud is. Jy weer, lees ek iewers, vat vandag die langpad – van Albertinia, Port Elizabeth, St. Francis, Oudtshoorn, Smithfield tot by Bloemfontein en dan terug Stellenbosch toe. Minstens weet jy darem al waar jy op watter dag gaan wees; ek sal moet sien.
Dis wat ons weet. En nie weet nie. Ons. Ek, en jy.
Op die eerste dag van ’n nuwe fase, weet ek jy weet: Hoe die pad ookal loop, die skoene moet jy dra. En ek sing jou song vir almal soos ek, omdat ek weet ek weet nie:
Al is jou spore vergete
Al is jou sole verslete
Al is die pad lank en swaar
Die skoene moet jy dra
Tot volgende week,
Marí