Om te “Flow”: Vloei saam met ander met proseskuns deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf. Hooffoto: kunswerk deur Ilze le Roux
Hierdie artikel is ’n aanvulling tot Só vloei jy na ekstase in ons April 2020-uitgawe.
Flow dui op ’n aktiwiteit op werk-, sport-of kultuurgebied (die lys is lank) wat jou soos ’n stroom iewers heen vat en die ure na minute laat voel. In die artikel word ’n skepper op talle gebiede, Kirby van der Merwe, as toonbeeld van flow gebruik.
Lees ook: Maak kreatiwiteit deel van jou lewe en wees gelukkiger
In hierdie artikel gesels ons met Ilze le Roux wat doelbewus ’n ruimte vir vloei skep.
Lees ook: Vloei saam met ander: Musiek en “flow”
Het jy geweet? Jy kan nou 70% afslag op ons digitale April-uitgawe kry! Klik hier om dit nou te koop
1. Ilze, hoe beskryf jy jou werk?
Ek is ’n nasionale menslike hulpbronbestuurder vir ’n internasionale voedselmaatskappy. Ek is verantwoordelik vir die hele HR-spektrum, maar fokus op executive coaching, wat ook oorvloei na my weeklikse proseskunsklas. Die menslike hulpbronbestuur sit die kos op die tafel; die kunsklas is my liefde. Ek is mal oor die konsep van kunsterapie of nieverbale terapie deur kreatiwiteit. Kreatiwiteit is my passie!
2. Jy is heeltyd aan die skep. Is jy al lewenslank besig met kuns?
Ek het van kleins af baie geteken en ons het kunsklasse gehad. Op hoërskool het ek kuns as vak gehad, maar dit was meer pottebakkery, nie visuele kuns nie. Ek is maar altyd besig om iets te skep: om klere te maak of tapisserieë te doen, enigiets wat kreatief is. Ek het seker so 20 jaar gelede stadig maar seker begin skilder. Ek het The Artist’s Way deur Julia Cameron ontdek, kursusse gedoen, en begin lees oor kreatiwiteit en kunsterapie. As ek skep, is dit my happy place! Ek het ook nogal ’n rapport met kreatiewe mense en ’n groot liefde om hulle te help om hul kreatiewe proses te verstaan en uit te leef.
3. Is skeppend besig wees vir jou ’n leefwyse?
Definitief. Ek is altyd besig om die huis mooi te maak, tuin te maak, of dinge te versamel – ek is nou besig met die versameling van Lucia-ware, ou Suid-Afrikaanse pottebakkery. As jy iets doen en die tyd staan stil, al rangskik jy net blomme, raak jy ietwat verslaaf daaraan! My lewensmaat, Kirby van der Merwe, is baie kreatief. Albei van ons is altyd besig om foto’s te neem of na ’n interessante beeld te kyk, heeltyd ingestel op die kreatiewe proses.
4. Waar het jy met die konsep van proseskuns te doen gekry?
’n Vriend van my, Kobus Burger, het kunsklasse gedoen en my so sewe jaar terug gevra om dit oor te neem. Ek wou baie graag, maar ek is nie ’n kunsonderwyser nie. As iemand my vra om hulle te help om ’n boom te teken, sal ek hulle nie kan help nie, want vir my behels die kunsproses nie om tegniek te leer nie. Tegniek kan jy leer uit ’n boek, of by spesifieke mense. Ek fasiliteer mense sodat hulle hulself kreatief kan uitdruk. Dit kan wees deur beeldhouwerk, ink, verfwerk – enige vorm van skep. Dis om hulle die spasie te gee om te kan sit en in hulle regterbrein in te gaan en iets skep wat hulle s’n is. Daar is nie reg of verkeerd, of goed of sleg nie – hulle is bloot twee ure met ’n skeppingproses besig.
Ons het een maal per week ’n sessie by ’n ontspanningsentrum. Dis uiteraard nie iets waarmee jy geld maak nie – ek doen dit uit liefde vir die saak. As mense regtig sukkel, betaal hulle wat hulle kan. Om die proses te fasiliteer is vir my heerlik – om te sien hoe mense groei. Ek is nogal streng oor bywoning, want as jy nie gereeld kom nie, vat jy iemand anders se plek. Iemand wat net af en toe gekom en toe haar plek verbeur het, het my onlangs laat weet sy verstaan nou eers wat ek probeer doen. Sy het gedink ek gaan haar leer om ’n blom te teken, maar ek skep eintlik ’n spasie waar jy ’n blom kan uitdruk soos jý wil. Ek raai mense aan om te begin met ’n image file; as jy byvoorbeeld in dansers belangstel, gaan jy baie sulke prente kry. Dan teken jy dit met jou niedominante hand, dalk onderstebo, sonder om jou potlood op te lig, sonder om op die papier te kyk, of op ’n groot papier met ’n dik stuk houtskool. Dit maak jou ongemaklik, maar dit bewerkstellig flow. En as jy daarna dieselfde foto of voorwerp met jou dominante hand teken, is dit ongelooflik hoe driedimensioneel jy die objek sien – al gebeur dit nie altyd nie.
5. Hoe hou proseskuns verband met flow?
In die weeklikse kunsklas speel ons altyd musiek wat nie woorde het nie, of as dit het, woorde wat ons nie verstaan nie. Ons werk in stilte; ons probeer om uit die linkerbrein van woorde en konsepte na die regterbrein te beweeg. Ek kan dit vóél as dit gebeur – dit raak so stil. Dis ’n spesifieke “klank”, ek weet nie of dit white noise is nie, maar dis ’n energie wat jy kan voel. Almal is in hul regterbrein, die tyd het vir nou hulle stil gaan staan, en al waarmee hulle besig is, is die flow van die brein na die hand na die papier, of die beeld, of wat hulle ookal maak. Die tyd staan stil en al wat jy doen, is: jy kyk na kleur, jy kyk na vorm, jy kyk glad nie na konkrete voorwerpe nie. Dis vir my absoluut magical. Sodra iemand praat, verbreek dit die flow. Ek voel dit fisies. En as dit agtuur is en ons moet klaarmaak, kan jy voel die mense wil nie ophou nie. Jy voel regtig gefrustreerd omdat jy nou moet stop.
6. Wat is die voordele van proseskuns?
Ek dink dit verras mense. Dit bring mense ook op ’n plek bring wat hulle gelukkig maak. Daar was ’n vrou in die klas met Parkinson se siekte. Haar terapeut het gesê sy moet iets kreatiefs doen. Dit was ongelooflik: as sy ingekom het, het haar hand gebewe, maar sodra sy begin kuns doen, het dit opgehou. Sy’t altyd die mooiste, reguitste lyne geverf. Ek het aanvanklik vir haar landskappe gegee want ek het gedink as sy bewe, sou die landskap hom daartoe leen. Maar sy het later verskriklike mooi blomme en beelde gedoen. Ek dink as jy in jou regtebrein is, kan jy baie van jou konsep van “ek is siek” of “ek voel nie lekker nie” verloor. Partymaal het jy hoofpyn, en as jy begin skilder, vergeet jy al jou pyne.
’n Ander vrou het slegte reumatoïede artritis gehad. Sy het gesukkel om ’n pen of potlood vas te hou. Ek het gewonder watter instrumente ek vir haar kon gee om mee te skilder, en vir haar ’n uitdaging gegee om haar hande te skilder. Dit was vir haar moeilik, maar haar man het vir my gesê sy kon toe die eerste keer weer haar handtekening maak. Dit was vir my ’n wonderlike proses.
Partymaal, as ek executive coaching doen, sê ek: kom ons hou net eers op praat, en dan teken jy gou iets met jou niedominante hand. Die mense is baie keer vir my vies en sê hulle kan nie eens ’n stokmannetjie teken nie. Dit daag hulle uit. Ek verduidelik daar is nie ’n reg of verkeerd nie. Ek het al soveel keer gesien hoe iemand voor die kreatiewe proses sukkel om hulself uit te druk, en na ’n vinnige skets met die niedominante hand skielik so verbaal is oor wat hulle pla, of oor hulle doelstellings. Jy moet net die proses vertrou.
7. Wat is die reaksie van die mense wat vir proseskuns kom?
As jy regtig glo jy kan nie teken nie, maar jy besef dan dis moontlik en dat jy kan, gee dit jou selfvertroue. Flow is as jy in jou regterbrein kom en regtig na ’n prent of voorwerp kyk en skep. Mense is trots op wat hulle regkry! Hulle onderteken dit en raam dit. Ons sit dit op ’n Facebook- en op ’n WhatsApp-groep. Ek het nog nooit iemand in die klas gehad wat nie goeie goed geskep het nie. Almal het die kreatiwiteit, almal kan dit doen. Mense kom sê hulle het ’n wilde week gehad by die werk, maar in die klas kan hulle asemhaal en met hulself reconnect. Dis asof hulle ligter is as hulle daar uitstap.
8. Vertel meer van jou eie pad met proseskuns.
As ek kyk na goed wat ek so agt jaar gelede geskilder het, en kyk waar ek nou is, sien ek hoe my kuns verbeter het. Proseskuns leer jou om dieper te kyk. Iemand het my onlangs die kompliment gegee dat my kleursamestellings nou ongelooflik mooi is. Ek is dink nie ek is ’n fantastiese kunstenaar nie, maar wat ek met my vermoëns kan doen, is vir my wonderlik.
Tegniek is iets wat jy elke dag oefen, maar proseskuns – met ander woorde as dit uit jou regterbrein kom – is op ’n ander vlak. Ek voel gefrustreerd as ek nie ten minste een maal per week in daardie spasie van flow kan sit nie. Ek raak woedend as daaglikse verantwoordelikheide my keer om daarin te beweeg. Behalwe dat dit jou kuns verdiep en verbeter, is dit soos meditasie of om oefening te doen – dis goed vir jou gees.
9. Is dit vir jou ’n opoffering om die gereelde proseskunsruimte te bied?
Ek kry soveel vreugde daaruit! Dis nie soos wanneer jy mense help, en gee en gee tot jy leeggetap is nie. Dis wonderlik om die spasie te skep, te sien wat mense daarmee doen, en watter verskil dit maak. Hulle gebruik hul eie energie, nie myne nie. Ek skep ook terwyl ons daar sit, en begin nou al hoe meer tuis skilder. Woensdae sien ek so uit na die klas dat ek vies raak as iets my ophou. Ek maak solank die wierook brand en sit die musiek aan.
Dis regtig my forté om kreatiewe mense te ondersteun. Ek hanteer die sosiale media vir ’n klere-ontwerper en ’n illustreerder – ek kan sien hoe dit hul besighede bevorder. Dit gee my soveel plesier om vir mense ’n spasie te gee waar hulle net kan skep en nie oor die logistiek hoef te bekommer nie. Ek is goed met die logistiek.
10. Jou lewensmaat is ’n ware “vloeier” …
Kirby is die definisie van flow. Ek kan sien as hy in ’n spasie gaan waar hy net op sy eie moet wees. Jy moenie met hom praat nie, jy moet hom net los. Ek weet al hy gaan ’n bietjie depressed raak, miskien ’n bietjie beduiweld, ’n bietjie stil, want die kreatiewe proses draai sy lewe onderstebo.
Hy hou net nooit op om skeppend te dink, om skeppend te wees nie. Dis hoe hy na die wêreld kyk – hoe hy tuinmaak, sy meubels rondskuif, hoe hy skilder, reis of loop, hoe hy skryf of kosmaak. Dis heeldag net skep, skep, skep. Hy is ook ’n bietjie van ’n outsider, ’n loner – hy kyk van buite af in. Hy kyk baie diep. Hy kan dinge op vlakke sien wat vir my ongelooflik is.
Omdat hy die kreatiewe proses ken, is hy baie supportive. Hy sal sê: “Nee Ilze, moenie van stock foto’s af werk nie, werk vanaf voorwerpe of gebruik jou eie foto’s.” Hy sê altyd iets is mooi. Hy kritiseer nie, hy gee positiewe terugvoer, soos: “Jy kan miskien daardie lyn ’n bietjie sterker maak” – en dan is hy reg.
Ek werk van 9 tot 5 en moet ’n sekere tyd in die bed wees. Hy hoef nie. As hy in die middel van die nag wil werk, moet ek hom los. Soms vloei ons saam; hy sit en skryf, en ek sit en skilder. Ons gee mekaar daardie ruimte. Daar is uitdagings omdat sy lewe so anders is as myne, maar as jy daarvan bewus is, kan dit werk. Niks is ooit vervelig nie!
11. Het jy kreatiewe seuns?
My oudste, Malherbe, is ’n grafiese ontwerper en doen onder meer illustrasies en graphic novels. Hy het saam met my die Julia Cameron-kursus geloop en is geweldig kreatief. Hy is baie gehoorgestrem maar was in ’n gewone skool en het ’n universiteitsgraad in multimedia design.
Malherbe is heeldag in flow. As hy tuis kom, maak hy die deur toe en gaan sit en skilder of skryf. As hy by ’n rock konsert was, sal hy gou ’n strokiesprent daaroor kom teken en vir die band members stuur. Hy is baie stil en het geen malice in hom nie. Ek het lanklaas iemand teëgekom wat absoluut geen kwade gevoelens het nie. Ek weet nie of dit is omdat hy van hy kleins af heeltyd in daai proses van skep was nie. As jy afgesluit word van die verbale wêreld, kan dit seker nogal voordelig wees vir die hele flow-situasie. Hy speel ook kitaar, wat interessant is vir ’n gehoorgestremde kind.
My jongste seun, Rikus, is vir ook baie kreatief – die kuns wat hy as kind gedoen het, was regtig ongelooflik. Maar ek dink hy voel nou dis sy ma en sy broer se spasie.
Min mense besef motor bestuur is ’n regterbreinaktiwiteit. Ek en my twee seuns het baie op road trips gegaan. Ons het in stilte gery, na musiek geluister, en na die landskap gekyk. Hulle onthou dit nog altyd – hulle het een keer vir my ’n kasset gemaak van ons road trip musiek. As jy so ry, kan flow plaasvind. Baie keer kry jy ’n oplossing vir iets wat by jou spook as jy bestuur, jy’s so half in ’n kokon van vrede.