Om rond te tas
Waar Janet voor die ruitjiesvenster van die ouwêreldse hotelkamer sit, kyk sy uit oor die eeue oue kerkhof se skewe grafstene. Sy het vir die kamer met die beste uitsig gevra. “The four poster room,” het die ontvangsdame gesê, “has a magnificent view over the churchyard.” Die ou Normandiese kerk dagteken glo plek-plek uit die elfde eeu. Nou tuur Janet uit oor die nagtelike toneel, dink oor ’n ander gesprek met haar skrywerma.
“Ek is klaar met mans.”
“Klink soos die eerste sin van ’n reseproman. Die volgende sal wees: ‘Veral met mans wat bagasie het’.”
“Ai, ek is moeg om rond te tas, Ma.” “A ha, nog woordspeling ook.” “Ma … ” sugtend, “ek gaan vir drie weke na die Cotswolds.”
Haar ma het van die rekenaarskerm af opgekyk. “Gaaf. Dalk bring jy vir my ’n storie terug.”
“’n Swak een sonder liefde óf konflik.” Haar ma het haar net ’n druk gegee en in haar rekenaar verdwyn om volop kwasikonflik te skep.
Nou is Janet in skilderagtige Stow-onthe- Wold waar die Novemberwind yskoud om die hoeke sny. Stow-on-the-Wold where the wind blows cold, lui die gesegde. Nie dat sy omgee nie. Sy het die eerste drie dae omtrent net geslaap. Gelukkig nie gedroom nie. Sy wou nie aan John herinner word nie. Hy het haar immers nie werklik seergemaak nie. Net moedeloos.
Sy is in die Cotswolds om weg te kom van die hele idee van ’n verhouding. Almal wil haar alewig aan iemand voorstel. Maar om die regte een te kry is soos om ’n haas uit ’n hoed te trek. Die ene illusie. Dis wat John was. Die illusie van integriteit. ’n Blote afbeelding van egtheid. As hy eerlik was, kon hy met hul eerste ontmoeting al vir haar gesê het dat hy eintlik wag dat sy eks na hom toe moet terugkom. Dan kon sy sy hand vasgehou het.
Nee wat, het sy in een van haar wakker oomblikke besluit, sy wil nie met ’n man opgeskeep sit wat op nege en dertig nie mooi weet wat hy wil hê nie. Sy het klaar getob oor die wel en wee van die liefde. As dit nou oor haar pad kom, moet dit een honderd persent reg wees. Sy sal dit kan aanvoel. Maar die kans is skraal. Sy is drie en dertig. Niks lus vir iemand met issues of bagasie nie.
Deur die loop van die vierde nag word sy lomerig wakker toe die kerkklok ’n paar luide slae in die kleindorpse stilte slaan. Vyf, tel sy. ’n Halfuur daarna wek ’n enkele holklinkende dong! haar weer. Toe weet sy sy is uitgeslaap. Sy skuif die geblomde gordyne opsy en maak haar op die opgestopte sitplek in die vensterboog tuis.
’n Yswit maan hang blinkend bo die kerktoring, versilwer die vaal grafstene en tooi die konifere blinkgrys. Sy bly daar sit tot die maan padgee en die lug ’n koel duifblou word. Sy gaan trek aan. Laag op laag en toe die kersierooi baadjie wat so goed by haar donker hare lyk. Haar ma se woorde.
Toe sy met die onmoontlik smalle trap wil afgaan, word sy gedwing om op die trapportaal te wag. En sy begryp die toneeltjie skuins onder haar. ’n Groot man met ’n vaal kuif beur steunend om ’n yslike tas trap op te kry. Hy gaan probleme hê, weet sy. Net daar waar die trap ’n skerp hoek vorm.
“Sir,” sê sy impulsief, “you will have to leave your suitcase in the car and just remove the essentials.”
Die man kyk op en frons ergerlik. “I can’t do that! They,” wys hy met sy duim oor sy skouer, “will essentially need everything!”
Suid-Afrikaanse aksent, registreer sy. En aan die onderpunt van die trap staan twee klein seuntjies met bewende onderlippe.
“Sir,” sê sy nietemin, “I also need almost everything in my suitcase, but it just wouldn’t fit around the bend. Quite impossible, believe me.”
Hy frons dieper en snap meteens. “Ag magtag tog,” sê hy, en stywerig na haar kant toe: “Thank you.”
Sy sluk haar lag, wag tot hy weer onder is voor sy afgaan. Die ruim eetsaal is vol gaste. Sy kry gelukkig plek aan ’n groterige tafel. Maar toe sy haar bestelling vir ’n Engelse brekfis plaas, kom vra die kelnerin haar mooi of sy sal omgee om die tafel te deel.
Dis die fris man en sy twee spruitjies wat kom aansit.
“Ah,” sê hy met ’n onwillige glimlag, “the suitcase lady.”
Wat de joos, besluit sy en steek haar hand uit. “Janet van Elsen. Ek het dieselfde fout gemaak. ’n Té groot tas gebring.”
Sy gesig verhelder. “Afrikaans?” Hy skud haar hand ferm. “Pierre van Wijk. Enne, wat maak jy hier?”
“Vakansie.” Sonder ’n glimlag sodat hy kan weet.
“Lekker,” antwoord hy en begin die warm roosterbrood smeer en in vierkantjies sny, want die kleinste kerm al. “Hierso Bennie, en Janneman, vat self.”
Tot haar verstomming glimlag die kleinste met haar voordat hy smaaklik begin eet. Sy vingertjies vat netjies raak. Janneman sukkel ’n bietjie, maar mors ook die minimum. Sy begin in stilte eet omdat sy regtig nie weet wat om te sê nie.
Haar swye pla Pierre van Wijk duidelik nie. Sy staar deur die loodglasruitjies uit oor die vreemde diepgroen van die Engelse wintertuin terwyl haar tafelgenote genotlik smul. ’n Vredigheid kom onverwags oor haar. Sy eet rustig en drink drie koppies tee uit die boepens teepot.
“Dis wat ek van die Engelse hou,” haak Pierre af, “hulle weet van tee drink!”
Sy lag. “Beslis. Van ek hier is, het ek al liters tee gedrink.” En toe dit weer stil word: “Dié Stow Lodge Hotel was glo eers die ou pastorie.”
Sy een mondhoek trek in ’n laggie op. “Ja, dis ’n sewentiende-eeuse ou rectory. Ons kom dikwels hier. En gewoonlik bly ons op die grondvloer. Dié dat ek moeite had met die tas.
Hy glimlag en sy glimlag onwillekeurig terug.
“Jy sê julle kom dikwels hier?”
“Ja. Ek is ’n handelaar in antieke ware en Stow-on-the-Wold is een van dié plekke in die Verenigde Koninkryk om antieke goed aan te koop.”
“Werklik?”
Hy knik en por die seuntjies aan om hul eiers op te eet. Janet hou die seuntjies dop wat ietwat onwillig tog maak soos hy sê. Waar’s hul ma? wonder sy onwillekeurig maar maak verskoning en loop. Dis presies dié soort gedagtes wat sy nie moet hê nie.
Buite maak haar asem wit wasempies langs haar wange verby. Sy drentel eers deur die grys klipkerk met sy vierkantige toring, adem die rustigheid in. Later loop sy deur die kerkhof en staan lank by grafte wat dagteken uit die grysheid van die eeue. Sy voel vreemd eensaam toe sy die kerkgrond verlaat en oor die groot markplein met sy verweerde klipkruis stap. Stow is ’n voetganger-vriendelike dorpie, maar die wind is heelwat kouer as vroeër en sy ril toe sy by The King’s Arms verneem of daar iets warms is om te drink. Graag, glimlag die ontvangsdame. Jy moet darem weet, hier kom vyf honderd jaar lank al gaste.
Ná twee koppies tee, sien sy weer kans vir die strate. Sy loer oral in en ontdek dat die meeste antiekwinkels uitgesoekte en veral deftige kliënte het. Een beplooide ou dame sê dit in soveel kille woorde toe Janet na ’n antieke vaas uitvra, dat sy ietwat afgehaal die wyk neem. Sy besluit om by nog een winkel in te gaan, want die ware in die venster is asemrowend. Baggott Antiques se deur swaai rinkelend agter haar toe.
Toe sien sy Pierre van Wijk in sy beige Burberry-jas. Hy wink haar nader asof hulle ou vriende is.
“Kom kyk na my jongste aankoop.”
“Een van die kúndige kliënte?” spot sy.
“Ja!” lag hy hartlik. “Hierdie handelaars hou daarvan om hul ware af te staan aan mense wat iets daarvan weet. Die goed raak glo amper soos familie, kom uit ou herehuise en selfs kastele. Soos dié een” Sy vingers gly liefderyk oor ’n donker houtkabinet op fyn pootjies.
“Rooshout met ivoorinlegsels, Engels en circa 1890. Maar dis nie al nie.” Hy trek haar liggies nader sodat sy die ongelooflik ingewikkelde inlegwerk kan beskou. Sy vingers vou versigtig om haar pols asof sy self van antieke kristal gemaak is. “Kyk, dis ’n oorspronklike Collinson and Lock. Dalk deur Lock ontwerp.”
Wie dié Lock ook al is, dink sy en betrap haarself dat sy verwonderd na hom staar. Opeens vang sy oë hare styf vas. Te skielik vir haar om van uitdrukking te verander. En sy weet intuïtief hy sien tot binne-in die weifeling en onkunde wat niks met ou meubels te doen het nie. Haar hart begin vervaard hamer. “Dis … interessant. Wat maak dié stuk so besonders?”
Hy kyk steeds stip na haar. “Behalwe die beroemde Lock se aandeel, is dit Stephen Webb wat die inlegwerk gedoen het.” Sy buk om dit van nader te bekyk en sy hand kom oor haar skouer om liefkosend aan die ivoorblaartjies en fantasieryke figuurtjies te raak.
“Dis … mooi … ” stamel sy.
“Dit is,” sê hy met warmte. “Die vakmanskap is voortreflik.”
“Baie delikaat, ja.”
“Delikaat is die woord. Stephen Webb het later professor van beeldhouwerk geword.”
Sy kom orent. “Het jy ook in die kunste gestudeer?”
Sy kop is so naby hare dat sy die eerlike intensiteit in sy helder oë kan sien. “Nee, ek het my kennis maar algaande opgedoen. Maar kom, ek handel hier af, dan gaan drink ons iewers tee.”
Terwyl hy sy transaksie afsluit, kyk sy nog rond. Bly oplaas staan voor ’n treffende olieverfskildery van ’n donkerkopvrou met twee krulkopkleuters leunend teen haar knieë. Byna droewig mooi in hul wasige, ouwêreldse drag. Janet sluk aan ’n knop in haar keel.
“Ja,” sê hy opeens langs haar, “dit wek iets in ’n mens, dié vrou met die kinders.” Hy klink so verdrietig dat sy verbaas omdraai maar hy glimlag net. “Kom, ek weet van ’n plek met lekker groot teepotte.” Buite is die wind baie koud en sy trek haar kraag op. Hy stuur haar oor die groot plein straatop tot by The Royalist Hotel. “Gesertifiseer as die oudste herberg in Engeland. 947 AD.”
“Hoe weet jy?” vra sy toe die eeue oue plek hulle warm omvou.
“Guinness Book of Records,” glimlag hy en sy voel weer die verraderlike sprongetjie van haar hart. Moenie laf wees nie, praat sy met haarself. Dis die koue, die bekoring van die Cotswolds se geelbruin huisies en stokou herberge. “Waaraan dink jy?” vra hy toe hulle by die knetterende kaggel gaan sit. “Dat hulle pas hout op die kole gegooi het.”
“Moenie jok nie.”
“Hoe weet jy ek jok?”
“Jou gesig is ’n oop boek. Nommer een, jy was glad nie bly om ons vanoggend aan jou tafel te ontvang nie. Nommer twee, jy is bang vir mans. Nommer drie, jy is nog banger vir mans met kinders en … ”
“Jy is beslis die een of ander professor.”
“Was gewees. Sielkunde. Toe sterf my vrou en ek trek uit die Boland Vrystaat toe. Clarens. My winkel is oorkant die dorpsplein. Bedags verkoop ek ou goed deurtrek van geskiedenis. In die grein en in die porselein lê daar hartseerverhale, soet verleidings en pragtige stories.”
“En jy en die seuntjies woon bokant die winkel en kyk uit oor die plein na die berge toe?”
“Hoe’t jy geweet?”
Alle voorgee sak weg. “Dit moet so wees,” sê sy. “Dit pas by jou storie.” Hy vou sy arms voor sy bors, betrag haar met sy stipte blik. “En wat is jóú storie?”
Kan dit kwaad doen? weifel sy maar kyk tog verleë weg toe sy sê: “’n Storie vol clichés, soos my ma sal sê. ’n Resep-verhaal. ’n Vrou wat te maklik vertrou omdat sy wil glo mense is goed. Man wat met haar gevoelens speel en dan verdwyn.”
Hy bly lank stil, sy mond saamgepers. “Dis omdat clichés uit woorde bestaan dat ’n mens dink dis afgesaag. Woorde wat te veel gehoor word, maak so. Daarom sal iemand wat van buite af inkyk, dink dis net ’n resep. Intussen is jou ervaring en jou smart uniek.”
“Dit was nie werklik smart nie. Ek glo nie ek het hom liefgehad nie. Ek was net teleurgesteld in hom as mens.”
“Dis erg genoeg.” Die tee kom en hy skink ewe handig uit die mentgroen porseleinteepot. Hulle drink in salige stilte. En sy voel verlig. John se skim het, met honderde ander ou skimme wat sekerlik al in hierdie ou herberg opgehaal is, saam met die kaggelrook deur die skoorsteen weggedryf.
Toe hulle oor die plein na die hotel terugstap, besef sy dat hulle hul middagete gemis het en dis al ná drie. “Waar’s die seuntjies dan?” vra sy.
“Mevrou Channing, wat afgetree is en nou in die hotel woon, pas hulle op. Ek en sy het bevriend geraak gedurende my eerste besoek aan Stow sowat twee jaar gelede.”
Die volgende oggend aan tafel sê Pierre: “Dis ’n wolklose dag. Kom saam met ons na Bourton on the Water.”
Janneman por opgewonde: “Daar’s eendjies op die riviertjie. Sowaar!” Sy oë smeek.
’n Halfuur later ry hulle al met die nou, landelike laninkies langs tot by hul bestemming. Popmooi, klipgrys huise en ’n vlak rivier wat kabbelend deur die dorpie vloei.
“Kyk hierso, tannie!” lag Bennie opgewonde en wys met ’n vet vinger na drie bruingroen eendjies wat rustig onder die brug deur drywe. Sy vat sy hand toe hulle oor die klipbrug stap op pad na die miniatuurdorpie. Elke huis, elke skool en kerk en straat is perfek nagemaak. Die kind aan haar hand se kop steek net-net bo een kerktorinkie uit. Vanuit die geboutjie se minivensters sweef koormusiek. “Oh Lord my God … ” klink dit op. Sy kry dieselfde wonderlike weemoed oor haar as toe sy voor die skildery van die vrou met die twee kinders gestaan het. In een van die ander wandelpaaie van die klein dorpie loop Pierre met Janneman op sy skouers. Hulle lag en wuif vir haar en Bennie. Sy waai terug en buk om Bennie ook op te tel. Voel die mollige kinderlyf teen haar bors. Hulle ry met die teruggaan deur diepgroen lande met spierwit, weiende skape. Kort-kort vlie helder rooi-en-groen fisante voor hulle op. Janet ervaar ’n genoeglikheid soos selde nog.
“Baie dankie vir die heerlike dag,” sê sy toe hulle die hotelportaal binnestap. Nog sulke dae volg soet en gemaklik op mekaar. Uitstappies na die tweelingdorpies Lower en Upper Slaughter. In Lower Slaughter se herehuis drink hulle vir vyf pond ’n allemintige pot tee uit. Dis toe dat die uitnodiging kom: “Saans, in Stow Lodge, bedien hulle koffie en brandewyn langs die kaggel. Sien ek jou daar?”
Sy stem klink so broos dat sy dadelik instem. Eers terug in Stow kom sy tot besinning. Sy wil al wéér met haar hele hart vertrou dat iemand dit eerlik met haar bedoel. Maar sy wíl dit van hierdie man glo. Hierdie Pierre met sy swaar tas en baie bagasie.
Teen nege-uur gaan sy af na die sitkamer met sy gesellige haard vol koperpanne. Die kole gloei rosig. Hy sit in een van die blou ferweelleunstoele.
Hy sê niks nie en sy swyg ook. Benoud dat ’n woord die ragfyne atmosfeer sal krap. Blinkgoue brandewyn word in bolglase geskink. Hulle teug soos kennersdaaraan, laat toe dat die kole ’n donkerder rooi raak. Toe hy praat, vlam die skrik in haar op.
“Janet, ons vertrek more na Swansea in Wallis. Ek het Baggott Antiques gevra om iets by jou af te lewer.”
“Maar … ”
“Dis nie ’n geskenk nie. Ek wil hê jy moet daarna kyk. As jy die boodskap kry, laat my weet. Indien nie, los dit maar in jou kamer.”
“Wat se boodskap?” vra sy flouerig.
“Jy sal sien. Of nié sien nie.”
Daarmee sit hy sy leë glas neer, kom buk by haar en soen haar teer op haar hare. “Nag,” sê hy sag by haar oor, en stap uit.
Nag. Net dit. Tog du die woord haar in ’n nuwe rigting. Wanneer laas het iemand só laat in die aand vir haar nag gesê? Sy weet so seker as wat sy in die persrooi kole staar dat sy nooit weer wil gaan slaap sonder dat hierdie man vir haar mooi saggies nag sê nie.
Sy vlug bed toe, hoor die kerkklok dong! dong! oor die slapende dorp beier. Sy bly wakker, word kort-kort deur die kerkklok herinner dat haar lewe besig is om om te gaan. En sy voel sy lippe op haar hare.
Die oggend, grou en reënerig, sit sy alleen aan ontbyttafel. Sou hulle dan só vroeg gery het? wonder sy verdrietig. En tegelykertyd: Hoe kan jy mense mis wat jy pas ontmoet het? Toe sy weer in die kamer kom, leun die skildery met die vrou en twee kinders teen die voetenent van die bed. Sy bly versteld daarna kyk. Die vrou kyk terug, en dit skyn of sy netnounetnou die twee kinders vir haar gaan aangee. Onwillekeurig reik Janet se arms vorentoe. Dit kan nie wees nie … En tog … Sy sit op die mat voor die skildery en bly byna heel oggend daarna kyk. Hoe op aarde gaan sy haar werk as joernalis in Johannesburg prysgee om op Clarens te gaan woon? Sy skrik haar koud vir die gedagte. As sy soontoe gaan, sal sy by Pierre en die seuntjies bo die winkel moet woon. Dis waarvan die vrou in die skildery se oë praat.
Onmoontlik!
Maar sy smag om te doen.
Sy gaan lê skuins op die bed en sien toe die papiertjie wat agterop die kunswerk vasgeplak is. Daar is ’n selnommer op. Sy wag nog ’n rukkie. Toe bel sy.
“Het jy dit gekry?” vra Piere onmiddelik.
“Ja.”
“En?”
“Kan ons die skildery hou?”
Hy lag. “Hoekom?”
“Omdat dít die boodskap is, dat ek moet ophou om rond te tas.” Daar is ’n kort stilte. Toe vra hy: “Beteken dit jy sal my vrou word?” “Ja, en ek sal help bagasie dra ook, mits jy altyd vir my so mooi nag sal sê.”