Min dinge wat my só omgeëllie kry as wanneer die selfoon lui, “Unknown” oor die skerm flits en ek teen my beterwete in antwoord en begroet word met ’n aarselende stilte voor ’n robotagtige stem met ’n swaar aksent sê: “Good day, may I please speak to Missus Jê-nyd?”
Oombliklik is ek vies vir myself.
Maar, ’n ma antwoord mos maar altyd haar foon – ’n mens weet nooit of daar dalk ’n noodgeval met een van die kinders is nie.
Dié viesgeit haal ek dan uit op die robotstem deur bitsig te beklemtoon: “Ja, dit is mevrou Ge-naaaa-de. Kan ek help?”
In die meeste gevalle word ’n telerobot egter nie deur ’n bietjie bitsigheid afgeskrik nie en die rympie begin van voor af.
“Good morning, Missus Ge-ny-de. And how are you today?”
Not at all in the mood to talk to you, dink ek by myselwers.
“Kan ek help?” antwoord ek dan onhulpvaardig in die hoop dat die robot sal snap dat ek nie tyd of lus het vir telepraatjies nie.
“Ma’am, it is my pleasure to tell you that, as our most valued customer…”
“Ek het regtig nie nou tyd nie, wat wil jy aan my verkoop?”
“No, this is by no means a marketing call, Ma’am, we are simply calling you to tell you…”
“Asseblief, ek het regtig nie nou tyd nie,” probeer ek gewoonlik weer die draaiboekteks kortknip.
“Should I call you back another time, Ma’am?”
Ja, oor so 75 jaar?
“Ek stel regtig nie belang nie, jammer, hoor!”
“But, Ma’am, I have not even…”
“Lekker dag. Tot siens.”
Natuurlik sal my Calvinistiese streep my dan ’n oomblik laat skuldig voel omdat ek so kort en kragtig kortaf was en die foon doodgedruk het. Waar’s my maniere …?
Tot die foon weer lui, ’n paar uur later.
Hierdie keer ’n nommer met ’n Kaapse kode. Getrou antwoord ek maar weer.
Dis telerobot se kloon.
“Good afternoon, Missus Grenade…”
Ek sien in my geestesoog hoe ek die pennetjie uittrek en dit soos ’n handgranaat weg slinger.
“Kan. Ek. Help?” vra ek – al wil ek nie ’n blou duiwel help met enigiets nie.
“No, Ma’am, but I can help you! If I can borrow five minutes of your time, I would love to tell you…”
In hierdie stadium is ek reeds goed vies dat ek my so laat stoomroller en ek antwoord: “Het jou onderwyser jou nie die verskil tussen ‘can’ en ‘may’ geleer nie?”
Stilte aan die anderkant.
“En, mag ek vra hoe jy weer die vyf minute vir my gaan terug gee nadat jy dit geleen het?”
Swaarder stilte.
“Uhm, Ma’am. If I could just… maybe… please tell you quickly about, uhm, our…” probeer die robot, nou effe van stryk, weer die drade bymekaar kry.
Ek voel weer so ’n sweempie van skuld. Sjym. Hy doen maar net sy werk.
“What do you want to sell me?” vra ek in ’n poging om hom enersyds nie té sleg te laat voel oor my afjak nie, maar andersyds om hom steeds te oorreed om eerder iemand anders te bel.
“I would like to tell you about our excellent life insurance policy, Ma’am!” rammel hy af terwyl hy nou die kans kry.
“Wil jý nie eerder by mý ’n lewensversekeringspolis uitneem nie?” vra ek voor ek behoorlik dink wat ek sê.
Stilte.
“Eh… what do you mean, Ma’am?”
“Don’t you rather want to buy a policy from me?” vra ek weer sonder om regtig te weet wat ek volgende gaan kwytraak.
“Uhm, why, Ma’am…?”
“Want myne is beter as joune,” antwoord ek.
“Why do you say that, Ma’am?” vra die telerobot terwyl ek die ratte kan hoor draai.
“Want ek is nog nie dood nie, sien? Myne werk uitstekend!”
Stilte.
“Have a nice day, Ma’am.”
Kliek.
Ek kyk verbaas na die gehoorstuk in my hand.
Het ’n telebemarker sopas die foon in mý oor neergesit …?