Dis een van die ontstellendste goed wat ek in ’n lang tyd gesien het. Britse fotograaf James Mollison (wat in Kenia gebore is) se mees onlangse projek om kinders se slaapplekke van regoor die wêreld in prentjies vas te vang. Sy doel? Om te fokus op die regte van ons kinders op hierdie aarde.
In my kop is ’n kinderkamer ’n droomplek, ’n tekenplek, ’n deurmekaarplek. Daar’s teddiebere op (en onder) die bed en inkleurboeke op die kas. Vir dogtertjies is dit stereotiepe-pienk en plesierig of rooi en mooi, en seuntjies speel in skakerings van blou en groen met vliegtuie en karre wat hul wegvoer na vreemde verbeeldingsplekke. Later word dié kamers dalk ’n mooimaakplek, ’n kitaarspeelplek, ’n kuierplek, ’n giggelplek.
Om kind te wees moet so lyk, dink ek.
Toe nie.
Want in Kambodja slaap die agtjarige Roathy saam met sy ma en pa op ’n vullishoop buite die stad. Dis nie verniet nie – hulle betaal huur om daar te bly – sy bed ’n ou motorband. Die elfjarige Joey van Kentucky in die VSA is ’n jagter – in sy kamer staan die gewere regop teen die gekamofleerde bed, reg vir die volgende jagtog saam met Pa.
In Tokio is die kleine Kaya se kamer van hoek tot kant gepak van haar gunsteling-speelgoed, sy kry elke maand minstens drie rokke gemaak deur Ma, met valle, strikke, kolle en kant. In teenstelling bly die negejarige Tzvika in ’n geslote gemeenskap aan die Wes-Oewer saam met 36 000 ander Ortodokse Jode – sy stapelbed vir drie in eenderse blou oorgetrek, geen speelding in sig. En in Senegal deel die twaalfjarige Lamine ’n kaal, koue kamer met ’n klompie ander seuns. Hy speel kaalvoet-sokker en droom daarvan om eendag ’n onderwyser te word.
Maar die gesiggie wat my laat wakker lê, is dié van die sewejarige Indira van Nepal. Die kamer is vuil, die bed omgedolwe, beddegoed lanklaas gewas, of so lyk dit. Daar’s een kamer en een matras wat sy deel met haar broer en suster. En dan die onderskrif: Indira werk al sedert sy drie is saam met haar ouers in die gruisgat, vir vyf, ses ure elke dag. Haar ogies bekommerd-dood as sy uit die kiekie tot in my binneste kyk.
James se foto’s (kyk by www.jamesmollison.com, Where Children Sleep) vertel die storie van baie ander in ’n vreemde, vreemde wêreld: daar’s die Romeense seuntjie-sonder-naam wat in die veld buite Rome op ’n kaal matras slaap en die negejarige Alex van Rio, Brasilië wat op straathoeke bedel, sy slaapplek ’n afgeleefde bank.
En ja: ek (en jy) weet van so baie ander wie se stories nie vertel word nie. Kyk maar onder die brûe langs ons snelweë, in die veld langs die pad, die kamers in ons stede en voorstede.
My eie, bevoorregte spruite kruip elke aand styf in, agter my blad, of sleep slaapgoed tot voor die kooi. Hul eie kamers ’n veilige kinder-heiligdom, met alles wat hul hart begeer.
Hoe nou?
Dan weet ek: pak die kaste uit, deel met dié wie nie het nie, leer jou kinders van omgee vir ander, gee en gee en gee. Nie net goed nie, ook van jouself. Gee hul die kans om sorgeloos groot te word. Want elke kind het die reg om kind te wees. Ook jy, kleine Indira-van-Nepal-met-die-grootmensoë.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za