Na ’n week se hanna-hanna om aan die skryf te kom, het ek vanoggend na die soveelste sibbe-oorlog oor snert, met die meesterplan vorendag gekom om die oudste telg agter die stofsuier in te span en die jongste met ’n stoflap en bottel meubelpolitoer te beman. Ek sou dan voor die rekenaar kon kom inskuif vir hopelik ’n uur se vreedsame dinktyd.
Na die Worcester-wind sy naam die afgelope drie dae behoorlik gestand gedoen het, was ek al effe keelvol vir die twee stofsuigsessies bedags en ’n moppery tussendeur om die ergste boustof van twee erwe langsaan en ingewaaide gemors in toom te probeer hou.
My meesterplan was suksesvol vir ’n volle nege en ’n half minute. Want, toe is Kleinsus klaar met haar werkie en Ouboet vererg hom sewe keer per minuut vir die stofsuier wat hy in sy hakskene vassleep. En hy vererg hom meer vir die swaar banke wat hy moet rondskuif. En hy vererg hom bloedig vir die kat- en hondehare wat van nêrens af neerdaal presies waar hy sopas gestofsuig het.
Welkom in my wêreld, dag ek by myself.
Terwyl ek nog gou my gebruiklike skoologgendplesiertjie van daaglikse “Beter Afrikaans”-toetsies probeer inhaal na ’n halwe week se skoolvakansie, kom verklaar Ouboet dat hy dink hy klaar is met die onderste verdieping en dat hy hom nou “behoorlik in ’n kopseer en maagpyn in gewerk het”.
Tjaag. Welkom in my wêreld.
Ek oortuig Kleinsus dat dit in ons almal se beste belang sal wees as sý gou die boonste verdieping gaan stofsuig. Terwyl sy met graad 3-wiskunde nog ’n rat voor oë gedraai kan word dat die boonste verdieping se oppervlak heelwat kleiner is as die onderste een, moet ek seker die kans gebruik …
Skoorvoetend drentel sy toe agterna sodat ek die stofsuier bo vir haar kan gaan inprop. Ek noem dat ek nog nie ’n enkele woord geskryf het nie en daar al ’n volle vyf-en-veertig minute verby is.
Halfpad af met die trap hoor ek hoe haar stemmetjie nootvas bo die stofsuier se gebrom uitstyg. Want, sien, Kleinsus is na ’n bangmaakjeugboek wat sy onlangs gelees het, skielik bang om alleen op die boonste verdieping te wees. My geterg dat sy en haar boetie die enigste weerwolwe en monsters is wat ek ken, word met grootoog-oogrolle begroet.
So, Sus loop en sing kliphard juniorkoorliedjies in Xhosa terwyl sy skoonmaak.
Ek skuif weer voor die rekenaar in met Ouboet wat oor my skouer loer en help met vanoggend se “Beter Afrikaans”-toets.
Ons bespiegel nog oor ons 75%-uitslag, toe dartel sy sussie by die studeerkamerdeur in en verklaar dat sy ook nou “finish en klaar is” bo.
Ek spot dat ek die Guinness-mense gaan laat weet van dié singende landspoedrekord, want nie eers in al my jare ondervinding, kon ek só vinnig ’n verdieping takel nie.
Toe ek die stofsuier gaan uitprop word my vermoedens bevestig dat sy erg vinnig gewerk het en gedweë hardloop ek maar gou weer deur die slaapkamers met die stofsuier.
’n Hele uur en ’n half na die aanvang van die meesterplan, maak ek uiteindelik ’n Word-dokument oop. Die kroos is soos muise. Te bang om te roer vir in geval hulle ma dalk nog ’n werkie uitdink.
Ek val weg en begin tik. Na twee minute sien ek uit die hoek van my oog hoe eers een kind met ’n boek insluip en op die bank agter my kom sit. Toe nog een. En toe kom die jaaroue spanjoel met haar nuwe veeartsbeen in die bek ook ’n lêplek soek op die bank.
“Sjoe, Mamma tik vinnig!” waag een dit na ’n paar minute. “Sjuuuut!” waarsku die ander een.
Die spanjoel beskou dit as ’n teken dat haar nuwe kouding bedreig word en sy begin diep uit haar maag uit grom. So ’n staccato gegrom wat naderhand in snorkgromme verander soos haar oë toe val. ’n Kind begin saggies giggel. “Sjuuut!” waarsku die ander een, maar giggel saam.
“Ek kan myself nie hoor dink met julle hier nie. Ek bly in ’n sirkus,” sug ek.
“Maar, dis darem nou ’n gestofsuigde sirkus,” troos die een wysneus.