As jy by ’n vriendin is wat haar man verloor het, gryp haar seer jou so aan dat jy maar net woordeloos haar hand kan vashou, of ’n arm om haar skouers kan slaan. Jy weet sy is op ’n stil plek waar ’n lang proses van heling hom moet voltrek. Praat jy met vroue wat dié ingrypende gebeurtenis beleef het, besef jy daar kan geen algemene voorskrifte vir die rouproses wees nie. Party is uitmekaargeskeur en treur lank en diep, terwyl dit lyk of ander gouer daaroor kom. Een het nie die emosionele weerstand om in ’n werksituasie te gaan staan nie, terwyl ’n ander juis heling kry deur haar beroep. Een steun sterk op haar kinders en naby-familie vir ondersteuning, terwyl ’n ander haar smart verwerk deur na ’n sieke om te sien.
’n Geslagsregister en ’n viering van die lewe
Toe Carlien Kruger en haar man, Gerrit, die dag by die dokter hoor dat hy pankreaskanker het en waarskynlik net drie maande het om te leef, het dit vir haar gevoel of die son ’n oomblik verduister. Maar Gerrit het dadelik bepaal hoe hulle sy siekte gaan hanteer. Reeds in die motor op pad huis toe het hy vir haar gesê: “Jy moet drie dinge weet en aanvaar: Eerstens is die siekte nie God se straf nie, dit is net deel van die gebrokenheid van die lewe. Tweedens: Ons het ’n wonderlike lewe saam gehad, daar is no regrets. Derdens: Almal moet my soos altyd behandel en nie gedurig simpatiseer nie.”
Toe sy later eendag vir hom sê dat hulle sommer direk van ontkenning tot by aanvaarding gespring het en al die ander fases gemis het, het hy gelag en geantwoord: “Ou girl, ons het nie tyd vir al die fases nie.” Sy positiewe houding het die hele verloop van sy aftakelende siekte bepaal. Hy het dadelik vir hom ’n doelwit gestel: om sy geslagsregister te boek te stel soos hy altyd wou. Dit sou strek vanaf Jacob Kruger wat in 1713 in die Kaap aangekom het tot by hul vier kleinkinders.
Carlien moes die teks, foto’s, grafika en stamboomlyne op die rekenaar doen, teen die einde onder groot druk. “Ek kan die kere wat die Here regtig met my gepraat het, op my een hand tel, maar twee dae voor Gerrit dood is, was een daarvan. Ek het wakker geword met dié woorde soos ’n refrein in my kop: ‘Kry die boek in sy hande. Kry die boek in sy hande.’ Daar was nog baie tikfoute in die teks, maar ek het net geweet ek moet luister.”
Sy het ’n boekbinder gekry wat die bindwerk binne ’n dag gedoen het. Gerrit was aangedaan toe hy die boek kry en het die hele middag daarmee in sy hande gesit. Hy wou ook ’n ete hou waarheen hulle almal sou nooi vir wie hulle lief is. Van oral-oor, selfs uit die Kalahari, het honderd mense gekom vir ’n dag lange saamwees. Hy wou hê dit moes ’n fees wees, ’n viering van die lewe, en so was dit. Sy seuns het hom die trappe afgedra eetkamer toe en daar het hy die hele dag in ’n gemakstoel gesit, ’n week voor sy afsterwe, en saam met almal gelag en gekuier.
Die fases
Die bekende sielkundige, dr. Elizabeth Kübler-Ross, het die proses van trauma-belewing en rou beskryf as fases waardeur ’n mens gaan:
- Ontkenning. Jy probeer die onvermydelike vryspring. “Dit kan nie met my gebeur nie.”
- Woede. Daar is ’n gefrustreerde ontlading van pynlike emosies. “Hoekom ek? Dis nie regverdig nie.”
- Onderhandeling. Daar is ’n vergeefse soeke na ’n uitweg. “Ek sal enigiets doen as hierdie krisis net by my kan verbygaan.”
- Depressie. Die onvermydelike sink finaal in. “Ek wil net in die bed lê. Hoekom sal ek moeite doen met enigiets?”
- Aanvaarding. Jy kry uiteindelik ’n pad vorentoe. “Ek sal hierdeur kom.” Die uiteensetting help ons maar net om die rouproses beter te verstaan. Nie alle mense beleef noodwendig al die fases nie, maar volgens Kübler-Ross sal elkeen minstens twee daarvan ervaar.
Hoe het jy die hartseer ná sy afsterwe hanteer? Die lang pad daarna
“Ek het hom belowe ek sou nie oor hom treur terwyl hy nog leef nie, en het my trane al die tyd bedwing, maar ná sy dood het die sluise oopgegaan. Ek het baie lank en baie diep getreur. “Ná vier maande het ek in ’n joernaal briewe aan hom begin skryf. Al my hartseer en twyfel kon ek daarin uitstort. Ek het ook besef dat die Here se manna nie net korreltjies brood is nie. Dit is genade. Dit lê elke dag wit en Hy sê: ‘Tel net genoeg op vir vandag, Ek gee môre weer.’”
Het jy berading gekry?
“Nee, ek het myself toegelaat om te treur en het dit nie probeer onderdruk nie. Ek het laat gaan slaap en baie laat opgestaan, want dan het die dag korter gevoel. Die dokter het wel vir my antidepressante voorgeskryf waarsonder ek nie sou kon klaarkom nie. “Wat my aan die begin baie gehelp het, was om verse uit die Psalms in die Bybel te lees. Ek kon nie lang stukke lees nie. ’n Enkele sin uit ’n Psalm kon my troos, soos: ‘Uit geweldige waters het Hy my uitgered,’ maar by die woorde ‘Hy het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek,’ het ek baie vraagtekens geplaas.
“Dit kan vreemd klink, maar ek het ook begin legkaarte bou, weke aanmekaar, net om iets konstruktiefs te doen. Ek het vir myself gesê as ek net tien stukkies per dag bou, is dit goed, want dan kan ek sê: dít het ek vandag gedoen. Die legkaarte was geweldig terapeuties.”
Was jy ooit kwaad vir die Here?
“Nooit. My emosie was eerder: die Here is naby, Hy hou my vas. Die Here het sy betrokkenheid by my lewe op ’n wonderlike manier gewys toe ons een seun se dogtertjie twee jaar later op Gerrit se sterfdatum gebore is. En vier jaar later, op Gerrit se verjaardag, kry ek die nuus dat ons jongste seun en sy vrou gaan ouers word. So het Hy pertinent vir my gewys Hy werk nie met tyd soos ons dit ken nie, maar met ewigheid.
Watse raad en ondersteuning sal jy vir iemand in dieselfde bootjie gee?
“’n Druk om die skouers beteken meer as duisend woorde. Ek kan wel sê: Wees geduldig met jouself, wees goed vir jouself. Gee jouself toestemming om te rou, al neem dit baie lank. En glo my, dit sál beter gaan. ’n Mens gee babatreetjies en jy kry groot insinkings, maar ná ’n tyd sê jy met verwondering: Kyk waar is ek nou al.”
Diens aan ander
Judie van der Walt is ’n doen-mens. Gee haar ’n uitdaging en sy voer hom deur. Terselfdertyd is sy ’n dienende mens. Om dié rede het sy haar man, Nic, uit die hospitaal huis toe gebring en vir hom gesorg. Nic was reeds ’n semi-invalide ná ’n beroerte toe kanker by hom gediagnoseer is.
“Dit was cholangio carcinoma, ’n kanker van die buis tussen die galblaas en die pankreas. Ons het saam gelag en gehuil toe hy sê dis goed dat dit so ’n groot woord is, want ek sou nie met ’n common kanker tevrede gewees het nie.”
Binne ’n enkele dag het sy hul meenthuis vir die rystoel ingerig – matte uitgehaal en ’n oprit laat bou. Dit was vir haar baie belangrik dat hy sy onafhanklikheid so lank moontlik moes behou.
“Toe die onkoloog ons die nuus gee dat Nic ses uur, ses dae of ses maande kan leef, het ons besluit dis nie ’n tyd om op die dood te wag nie, maar ’n tyd om saam te wees.”
Nic se sielkunde-agtergrond het hom ook gehelp om die siekte te hanteer. Hy was ’n belese man met ’n skerp brein en ’n uitnemende akademikus en later sakeman. Tot op die laaste het hy sy intellektuele vermoëns behou.
Judie sê sy het volkome op God gesteun en glo Hy het haar eenkeer bomenslike krag gegee toe Nic geval het en sy hom alleen op die bed moes tel. Invalide wat hy was, sou sy normaalweg nie die dooie gewig kon hanteer nie, maar met geweldige inspanning kon sy hom met een beweging op die bed kry.
Die lewe sonder hom
Het jy ’n kosbare herinnering?
“Nic het as ’n stokperdjie miniatuurbeeldjies van skilpadjies versamel. Hy het ’n hele vertoonkas gehad met skilpadjies uit alle wêrelddele, enetjie so groot soos ’n pinkienael. Toe hy al baie swak was en nie eens meer kon praat nie, het Michele, sy dogter, vir hom twee babaskilpadjies gebring om vas te hou. Hy was oorstelp. Die volgende dag toe ek langs hom op die bed gaan sit, het hy my bly wegstoot – hy was bang ek sit op die skilpadjies – wat toe natuurlik nie meer daar was nie.”
Hoe het jy sy afsterwe ervaar?
“Twee jong mans van Avbob het hom kom haal. Hulle het met baie deernis te werk gegaan. Ek moes van sy klere gee wat hulle later vir hom sou aantrek. Dat ’n mens so kalm kan wees … Ek is stilweg kas toe en haal sy pak klere, pragtig grys met ’n strepie, en alles wat nodig is uit, en sit dit op die wit laken. Waar kry ’n mens die krag om dit so natuurlik te doen soos toast en koffie maak? Toe hulle wegry, waai ek nogal. Vir wie en hoekom?
“Naas die hartseer het ek groot dankbaarheid gevoel omdat ek hom so kon versorg en moeite vir hom kon doen. Nic wou nooit eens hê ek moes vir hom ’n koppie tee maak nie. Hy het gesê ek is nie sy bediende nie. Dit was dus ’n voorreg om hom te kon versorg. Maar ek was ook verslae oor die aftakeling. Dis nou nog moeilik om dit te verwerk, maar ek kyk ook spiritueel daarna: die aardse liggaam moes afgebreek word.”
Kort ná Nic se dood het jy ’n kankerpasiënt in Londen gaan oppas. Hoekom? Was dit jou manier om jou hartseer te verwerk?
“Die Here het dit op my pad gesit. Ek sou net in Londen gaan kuier, maar voor ek weg is, het ek drome gehad van ’n omgewing wat ek nie ken nie. Toe ek die ouer vrou daar anderkant ontmoet, het ek die hospitaal en haar huis uit my drome herken. Ek het verplig gevoel om na haar om te sien.
“Ek sou nie net by my huis kon sit en treur nie. My broer is op ’n jong leeftyd oorlede en my ma het net ingegee en opgegee. Al die verantwoordelikheid van die huishouding het op my gelê. Ek sou my nooit toelaat om so platgeslaan te wees nie. Jy moet opstaan en aangaan.”
Het jy raad vir ander vroue wat deur dié trauma gaan?
“Ek het nie raad nie. Elkeen moet deur haar eie hartseer werk. Ek kan so iemand net vasdruk en vir haar bid. Maar vir dié wat nog hul mans het, het ek raad: Waardeer wat jy het in jou maat en sê dit gereeld vir hom.”