Ek lees nou die dag ’n slimmigheid wat Albert Einstein nogal kwyt geraak het: “Life is like riding a bicycle. To keep your balance you must keep moving.”
Dadelik het ek hieroor begin wonder want dit was dan juis omdat ek hierdie ondraaglike begeerte aan die “slow life” gehad het dat ek my wortels vir eers in Suid-Afrika uitgetrek het om hier in die verre en vreemde Suid-Korea onderwys te kom gee. Nie dat ek enige onderwyservaring gehad het nie, inteendeel, dit is vir my ’n totaal nuwe beroep en so in teenstelling met die werk wat ek in die korporatiewe wêreld gehad het.
Ek weet net dat ek ’n punt bereik het waar ek genoeg gehad het van die eindelose gejaag tussen punt A en punt B, die spanning om sperdatums na te kom, die druk om kliënte tevrede te hou, die soms ondraaglike lading van verantwoordelikhede, die begrotings wat moet klop, die winste wat gemaak moet word, die gehardloop-en-nêrens-aankom nie. Ek wou ’n lewe hê waar ek weer tyd sou kry om stil te staan en die blommetjies in die krake op die sypaadjie waardeer, waar ek water sou hoor, die veld sou ruik, die wind teen my vel sou voel, die seisoene sou ervaar, in die berge sou stap.
Spatsels kleur langs die pad
Toe waai die winde my ses maande gelede Suid-Korea toe en ek lewe ’n “slow life”. Die dronk apies in my kop kry kans om stil te raak. Ek neem waar soos ’n blinde wat vir die eerste keer kan sien. Ek hoor soos ’n tiener sonder oorfone en ek voel dinge in my binnekant wat ek nie geweet het bestaan nie.
Fietsry op Jeju-eiland
Toe my seun in Julie-maand vir my kom kuier het, was ons vir ’n paar dae Jeju-eiland toe waar ons onder andere fietse gehuur en vir ’n dag lank om Udo-eiland gefiets het. Nou moet julle darem net weet dat ek ’n meisiekind was wat eens op ’n tyd loshande met my voete op die “handle bars” kon ry. Maar op Udo het dit aanvanklik maar wankelmoedig gegaan. Dit was asof die stuur net nie lekker wou saamwerk nie en ek nie seker was of die remme regtig om ’n draai of teen ’n afdraande sou werk nie. As ek my oë toemaak, het ek steeds hierdie beeld van my seun wat met sy kop in sy hande staan en brom: “Ai, Moeder, ai. Wat het ek gedoen om dit te verdien?” Ek het alle selfvertroue op die fiets verloor maar soos die dag aangegaan het, het ek al meer en meer selfversekerd geraak totdat ek heelwat later met my bene sywaarts uitgestrek teen die afdraandes kon af-“free” – hande wel stewig op die stuur. Watter gevoel van absolute vryheid het ek nie ervaar nie!
Ek het in Korea kom leer dat spoed en beweging aan die buitekant nie vir jou die balans gaan gee as jy daarna soek nie. As dit stil word hier binne en jy kry weer kans om die lewe te waardeer, dan beweeg jy die meeste en kan jy weer jou balans kry.