Het nou die ander laatmiddag weer ’n iesegrimmigheid sit en broei. Dit was sommer net na ’n lang dag, ’n langer kort week wat my kort-kort wou kortwiek en ’n paar weke se baie bekommer oor siek kinders en ’n sieker wêreld waarin ek hulle probeer grootmaak.
Maar, eintlik was my kort lont op daardie oomblik bloot weens kommer omdat ons tienerspanjoel na ’n week weer terug is by die veearts met ’n steeds onverklaarbare seer oog en ’n histeriese haat jeens enigiets wat naastenby soos ’n oogdruppelbotteltjie lyk.
Lilly het skielik ’n humeurigheid daarmee saam gehad wat menige mensetienerkind haar sou beny. Sy het vol bravade op die grootste honde in die dierekliniek afgepyl en gepofte skof al spoegspattend vir hulle gebrom en gegrom.
Ek was iesegrimmig en sy was iesegrommig.
Terwyl die veearts ons hond in die teater gaan ondersoek, het ek skielik bewus geword van ’n klank wat bo Lilly se kleinbasie en kleinnooi se gebabbel uitstyg.
Dit was die vrou wat met haar rug na ons toe gesit het aan die anderkant van die vertrek. Terwyl haar een hand oor haar hond se kop streel, het rou snikke deur haar lyf geruk.
Ek het besef dat hierdie ’n afskeid is.
Terwyl ’n assistent in ’n sagte stemtoom met haar gepraat het, is die kersie op die ontvangstoonbank aangesteek.
My keel was skielik styf en ek het trane probeer wegvee en wegsteek oor en vir hierdie vrou met die rukkende skouers. En, oor die sagte oë wat uit ’n bejaarde hondegesig na haar kyk. Oë vol suiwer liefde en vertroue.
Hoe moeilik moes die handtekening op daardie vorm nie wees nie.
Sulke tye onthou mens mos al die afskeide wat al só oor jou pad gekom het. Troeteldiere waarvan ek as kind moes afskeid neem. Ons Staffie Leeu wat in die straat voor ons huis doodgery is toe sy by die tuinhek uitgeglip het. My Mattewis-kat wat een dag net nie weer oor die onderdeur van die kombuis gespring het nie – ek wonder nou nog wat van hom geword het.
Kaspaas die Siamees met sy sjokoladebruin gesig, bene en stert wat saam met my groot geword het. Daardie einste stert het ek een eksamen uit pure verveling in netjiese “steps” gesny – Kaspaas het net gesit en gespin, maar my pa het vir twee weke nie met my gepraat nie. Kaspaas is op ’n baie rype ouderdom kathemel toe na ek reeds uit die huis was.
Nog ’n afskeid wat maar swaar was, was die pikswart presentkat wat ’n hoërskoolkêrel vir my aangedra het. My pa was vies omdat hy gesê het nie nog ’n troeteldier nie, maar mens kyk nou ook nie ’n gegewe kat in die bek nie. Hy het wel die kat op die veeartsvorms vernoem na die kêrel en Hendrik het lank na die skoolkys uit was, nog graag op my skoot of lessenaar gelê en spin as ek vir ’n universiteiteksamen tuis gaan leer het. Toe ek met my eerste werk uit die huis trek, was dit beter om Hendrik te los in die huis waaraan hy gewoond was, maar ek het die swart lyfie en groen oë gemis.
Kort voor ons troue, het die haarkapper wat sou sorg vir my bruidkapsel, se langhaarkat kleintjies gekry. Hy het een van die langhaarwerpsel as trougeskenk belowe en kort na ons teruggekeer het van ons wittebrood af, het ’n strepieskat met ’n wit magie en astrante houding in ons eerste huis en harte ingetrek.
Toe ons weens versekeie inbrake besluit het om die plaashuisie teen die berg te verruil vir ’n dorpshuis in ’n meethuiskompleks, het Tammy, die wittebroodbabakat, steeds daarvan gehou om haar naels aan ons splinternuwe blou sitkamerbank, rég langs die katkrappaal, skerp te maak.
Een aand gebeur dit toe só dat sy weer met ’n grynslag op haar ondeunde katgevreetjie sit en naels skerp maak teen die bank. My man – nog gewoond aan die plaasomgewing en privaatheid – gil luidkeels op haar: “Ek gaan jou bl*****!” Terselftertyd roep ek ewe hard uit: “Moenie!”
Of dit die nuwe bure was wat hom vir beradingsdoeleindes laat kom het, of blote toeval, is ons steeds nie seker nie, maar die volgende aand ongeveer dieselfde tyd het ons nuwe dominee aan die deur kom klop …
Ons wittebroodbaba het ’n paar keer saam met ons getrek en nooit regtig haar asprisgeit en liefde vir meubelskrap ontgroei nie. Al het twee mannetjieskatte ook later deel geword van die gesin, was sy steeds die hardekwaskoningin van die huis.
Toe ons dus twaalf jaar later haar na ’n week se skete en medisyne die oggend by die dierekliniek aflaai om onder narkose ondersoek te word, het ons min kon raai dat sy nie weer sou huis toe kom nie.
Ek was later daardie dag in die Kaap en my man by sy werk op ’n buurdorp, toe ons albei die oproep kry met die slegte nuus dat sy kanker het en baie ly.
Ons het mekaar gebel en oor meer as honderd kilometer heen, saam besluit.
Maar, hoe moeilik was daardie besluit oor die foon nie.