Bestanddele
- 200 g (1 ¹⁄³ k) koekmeel
- 50 g koue botter
- 10 g (1 sakkie) kitsgis
- 60 ml (4 e) strooisuiker
- 1 groot eier, liggies geklop
- 100 ml (1⁄3 k + 2 t) louwarm melk
- 500 ml (2 k) sonneblomolie vir diepbraai
- 125 ml (½ k) tuisgemaakte aarbeikonfyt
- 125 ml (½ k) strooisuiker in ’n bakkie gegooi
Metode
- Sif die meel en sout saam in ’n groot mengbak. Vryf die koue botter in die meel in tot dit soos growwe broodkrummels lyk.
- Roer die gis en suiker deur en maak ’n holte in die middel van die mengsel. Gooi die louwarm melk by die mengsel terwyl jy dit van die kante af bywerk en deurmeng. Meng tot dit ’n sagte, werkbare deeg vorm.
- Knie die deeg vir 10 min. tot blink en glad. Laat rys vir 30 min. (of tot dit verdubbel) in ’n bak wat liggies met olie gesmeer en met kleefplastiek bedek is.
- Verdeel die deeg in 12 balletjies. Knyp die onderkant van die balletjies bymekaar en rol glad uit op ’n skoon werkvlak. Sit op ’n bakplaat wat met bak-papier uitgevoer is, gooi ’n skoon kombuisdoek oor en laat rys weer tot dubbel die grootte.
- Verhit intussen die olie in ’n middelslagkastrol. Toets of die olie reg is deur ’n stukkie brood in die olie te sit – die broodjie behoort binne 30 sek. goudbruin te braai. Diepbraai die oliebolle 4 op ’n slag in die warm olie tot goudbruin. Hulle sal bo begin dobber wanneer hulle gaar is.
- Lig die gaar bolletjies met ’n gaatjieslepel uit en dreineer op kombuispapier.
- Maak met jou vinger ’n holte in elke bolletjie (moenie brand nie!) Skep die konfyt in ’n toebroodjiesakkie en knoop styf toe. Sny die punt van die een hoek af en druk die konfyt so in die holte in die oliebol. Probeer soveel moontlik inkry! Rol elke bolletjie in die strooisuiker.